Kunstenaar Zijn-Rudolph is reg om in die Tuin van Eden te stap

Hy is ook te sien in Armand Joubert se nuwe musiek video.

Zijn-Rudolph van Zyl (23) van Witfield is ’n talentvolle kunstenaar wat nie op hom laat wag nie.

Hy het vroeër die jaar ’n nuwe jas reeks vrygestel as deel van sy Herbore handelsmerk en was ook op die Afrikaans is Groot en Classics is Groot verhoë te sien, waar hy sing as deel van Vox Collective.

Sy nuutse projek is sy eenmanvertoning Eva.

Hy beskryf dit as ’n eksentrieke produksie. Hy vertel ’n deel van sy lewe waar hy homself bevind het in sy persoonlike weergawe van die Tuin van Eden. Dis ’n storie wat handel oor liefde, menswees en die natuur, aanvaarding en verwerping.

Zijn-Rudolph het sy tas gepak en hom gedra tot daar waar hy net die stem van die aarde tussen die wind kon hoor en die diep gebreek van branders onder sy voete kon voel.

Dié storie word vertel deur ware verhale wat sy identiteit gevorm het, bekende musiek wat die hart laat roer en kostuums, nuutgeskep en buitengewoon.

“Die produksie is in samewerking met Herbore, wat te koop sal wees voor en na die vertoning; dis ’n absolute kuns-ervaring.”

“Ek is so opgewonde om hierdie vertoning met die gemeenskap te deel. In Boksburg is baie wonderlike geleenthede vir gehore om plaaslike produksies te sien, en ek is so bly ek kan deelwees daarvan.

“Ek voer Eva op by die AGS Lighuis in Witfield op 7 September en dit gaan hope pret wees. Ek vertel stories, sing en dra die mees ongelooflike kostuums, van Herbore natuurlik.”“

Zijn-Rudolph werk ook tans aan nuwe musiek wat hy binnekort gaan vrystel en hy het ook ’n badsout geskep wat Herbore vrystel.

“Hier is baie talent in ons gemeenskap en ek is so opgewonde om myne met Boksburg te deel.”

Volg Zijn-Rudolph op Facebook en Instagram vir meer inligting en kaartjieverkope.

Exit mobile version