Lifestyle

Victory5 benoem vir Mzansi Christian Awards

Victory5, Suid-Afrika se heel eerste Afrikaanse Christelike tiener popgroep, is benoem vir die Mzansi Christian Awards, in die Best POP/Rock Artist-afdeling.

Die nominasies is op 18 Augustus bekendgemaak en die Mzansi Christian Awards vind op 1 Oktober plaas, by die Springs Burgersentrum.

Die groep se doel is om ’n positiewe boodskap met Christelike waardes aan ons land se jongmense oor te dra.

Een van die groep se lede, Justin Hoyer, is afkomstig van Boksburg en is ‘n leerder aan die Hoërskool Oosterlig.

Die ander lede is Zoë van Niekerk van Krugersdorp en Dianke Adams van Kemptonpark.

Dit is duidelik dat hierdie groep voortbou op die sukses van hul debuut album, Ek Weet Wie Ek Is.

Victory5 het verlede jaar twee nominasies ontvang vir hierdie album en is benoem vir die Beste Afrikaanse Album en die Beste Pop Album, by die SABC Crown Gospel Musiek Toekennings, in Durban.

Dit beteken dus dat Victory5, in minder as ’n jaar, sy tweede benoeming ontvang by twee afsonderlike musiek toekennings – ’n aanduiding dat hierdie groep jongmense besig is om diep spore in die musiekbedryf te trap.

“Vir dié groepie tieners is die sukses nog onwerklik. Nooit in hul drome het hulle gedink hulle sal in een jaar twee keer benoem word nie,” het Eon de Bruin, die bestuurder van XrossBeat Media, gesê.

Die titelsnit van die eerste album se musiek video was ook vir 81 weke op Kruiskyk se musiek program, IMPAK, se top 10 ranglys.

Op 16 April het Victory5 hul tweede album, getiteld Hoofstuk Een … 2013-2016 vrygestel, wat musiek dek van die eerste drie jaar van die groep se bestaan.

Dianke Adams (links), Justin Hoyer en Zoë van Niekerk, van Victory5.
Dianke Adams (links), Justin Hoyer en Zoë van Niekerk, van Victory5.

Victory5 het onlangs ook ’n nuwe liedjie vrygestel, genaamd In U Hand.

Kliek op die skakel om na die liedjie te luister: https://soundcloud.com/xrossbeat-media/victory5-in-u-hand-psalm-91

Om vir Victory5 te stem vir die Mzansi Christian Awards, SMS ”Poprock & Victory5” na 47177.

SMS-lyn sluit op 30 September. SMSe kos R2.

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button