Lifestyle

Brendan Peyper bring Boksburg op hul voete

Vanaf sy eie Stop, Wag, Bly nog ’n Bietjie tot Justin Bieber se Love Yourself het Brendan Peyper die gehoor aan sy lippe gehad tydens sy optrede Donderdagaand, 18 Augustus, by die Woord en Lewe Kerk in Sunward Park.

Sommige reken dat hy hierdie Justin Bieber-treffer selfs beter sing as Bieber homself.

Dié optrede van Brendan Peyper is moontlik gemaak deur Armandi Events en was die maatskappy se bekendstellingvertoning.

Anro Ras en Romandie Schnepel is saam die trotse eienaars van Armandi Events.

Anro het agter die skerms gewerk en seker gemaak dat die aand glad verloop het, terwyl Romandie as seremoniemeester geblom het op die verhoog.

Romandie, wat geskitter het in Lauren Blue uitrustings en Strands of Love Hair Extensions, is tans ’n deelnemer aan die soektog na die volgende Mej Suid-Afrika (2017).

Al die kunstenaars is geklee deur Carla van der Wath, hoof uitvoerende beampte van Lauren Blue, en Wendy en Julien van Strands of Love het gesorg vir Romandie se pragtige hare.

Danksy Armand Matthysen, hoof uitvoerende beampte van Savvy Adds, se deeglike bemarking, het ongeveer 1 400 mense die aand bygewoon en bygedra tot die sukses van die vertoning.

Duan Coetzee het die aand afgeskop en twee van sy eie liedjies gesing.

Daarna het Brendan Peyper op die verhoog verskyn en sy optrede begin met ’n Boeredrukkie vir my Boeremeisie.

Sy verhooginteraksie is elektries en het die gehoor letterlik al singende op hul voete gehad.

Brendan Peyper het vertel dat hy uiteindelik op die ouderdom van ses sy eerste kitaar by sy oupa gekry het vir Kersfees.

Hoewel hy afkomstig is vanaf Bloemfontein in die Vrystaat, is Brendan glad nie skaam om te erken dat hy ’n kranige Stormers-ondersteuner is nie.

Hy het dit selfs gewaag om ’n liedjie vir sy span – in Leeu-wêreld – op te dra.

Brendan het ook enige liedjie van die gehoor se keuse, gesing.

Die gehoor se opgewondenheid was aansteeklik en is verseker ’n aand wat vir baie onthou sal word.

* Die volgende vertoning van Armandi Events met Bobby van Jaarsveld en Franja du Plessis vind plaas op 4 November, weer by die Woord en Lewe Kerk in Sunward Park.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

 

Related Articles

Back to top button