Lifestyle

Afrikaanse musiekbedryf is propvol talent maar geen groot treffers

Om sukses te behaal in die Afrikaanse musiekbedryf is vandag nie so maklik as wat dit jare gelede was nie.

“Dit is nie dat die bedryf ongesond is wat dit moeiliker maak vir kunstenaars nie, maar die feit dat daar soveel meer talentvolle kunstenaars is wat nou hulle stempel wil afdruk,” het hoof uitvoerende beampte van platemaatskappy Vonk, Kobie Koen, gesê.

“As ’n mens kyk na die Afrikaanse musiekbedryf in geheel, is dit eintlik baie gesonder as wat dit ’n paar jaar gelede was.

“Die afgelope vyf jaar het die Afrikaanse musiekgenre geweldig gegroei, in so ’n mate dat Afrikaanse musiek ontplof het.”

Volgens Koen, was daar 10 jaar gelede slegs ’n onderskeid tussen Afrikaanse musiek en Afrikaanse dansmusiek. Met tyd het Afrikaanse boere- en countrymusiek, onder andere, ook baie gegroei.

Koen meen ons sit vandag met die mooiste Afrikaanse ballades.

“Daar is musikante wat ongelooflike sielsmusiek maak,” het Koen gesê.

Met al die ou en nuwe talent, het die luisteraar nou soveel meer keuses ten opsigte van Afrikaanse musiek.

Koen meen juis dus dat dié wat topverkopers is, nie meer so baie albums verkoop nie.

Die ekonomie speel verseker ook ’n rol.

“As ons vyf jaar gelede ’n album gemaak het, kon ons baie meer geld op die kunstenaar bestee, ten opsigte van musiekvideos, bemarking, toere en ons kon ons geld terugmaak,” het Koen verduidelik.

“Vandag sukkel goeie kunstenaars om goudverkopestatus te bereik. Die pot is dus soveel groter en die verkope soveel minder.”

Gerhard Steyn se Baby Tjoklits is glo die laaste groot treffer wat die bedryf gegroet het.

In dieselfde jaar was Kaptein van Kurt Darren ook ’n treffer, asook Bok van Blerk se De la Rey.

“Daarna het ons baie goeie liedjies gehad, maar ons het nog nie weer ’n treffer gehad nie. Dit is amper asof dit in ’n rusperiode ingegaan het,” het Koen gesê.

Weens tegnologie is musiek baie meer toereikbaar, dus het heelwat musiekwinkels ook al hul deure gesluit.

“Dit is nie Afrikaanse musiek se skuld nie; kostes het net te duur geword om ’n produk te probeer verkoop,” het Koen gesê.

“Dít maak dit moeilik vir die kunstenaar om te oorleef, sowel as vir ’n platemaatskappy om ’n produk suksesvol uit te reik en nogsteeds te weet dit gaan winsgewend wees.”

Die meeste kunstenaars beskou hul tyd in die musiekbedryf as hulle enigste loopbaankeuse.

Koen meen dit is ’n fout, en dit is goed om eerder in vandag se tye ’n plan te hê om op terug te val.

“As jy werk en sing terwyl jy jou handelsmerk bou, is dit die regte ding om te doen,” het Koen gesê.

“As jy voltyds die musiekbedryf wil aanpak, moet jy seker maak dit is nie ’n stokperdjie nie – dis ’n loopbaan. Daar is geen punt daaraan om te sing as jy nie ’n salaris daaruit kan verdien nie.”

Koen meen dat Suid-Afrika ’n land met baie talent is. Dit is selde wat hy al swak produkte gehoor het, maar voel dat persone baie keer die verkeerde aanslag neem in die bedryf.

“Jy het nie die produk nodig om suksesvol te wees nie. Jy moet eers in die bedryf gaan werk, want sonder ’n handelsmerk is jy niks,” het hy gesê.

“People buy people. As mense nie weet wie jy is nie gaan hulle jou nie koop nie, al het jy die beste produk.”

Koen beveel gewoonlik aan dat persone wat die musiekbedryf wil betree, ’n goeie liedjie skryf of laat skryf, om die liedjie op te neem, om ’n goeie musiekvideo daarvan te maak en dit op televisie te kry.

“As mense opgewonde raak oor jou produk kan jy begin werk aan jou volgende liedjie,” het hy verduidelik.

“Public relations en brand building campaigns is baie belangrik. Dit gebeur ongelukkig baie in ons bedryf dat die beste talent die swakste verkopers is, mits jy dit reg doen.”

In die Afrikaanse musiekbedryf is dit egter makliker om as ’n musikant raakgesien te word en nie as ’n vermaakkunstenaar nie.

Koen meen dat die Suid-Afrikaanse Engelse musikante ook meeding met die internasionale mark, dus is dit partykeer vir hulle makliker om as ’n vermaakkunstenaar te oorleef en moeiliker om as ’n musikant ’n bestaan te maak.

“Die media het ook ’n groot impak op die moontlike toekoms van ’n liedjie. Dit is amper ’n geval van die stert swaai die hond,” meen Koen.

“Ons (die platemaatskappy) moet deesdae eers uitvind wat ons media vennote van die produk dink voordat ons dit aan die publiek kan bekendstel. Vorige jare het ons produkte waarvan óns gehou het dadelik aan die publiek bekendgestel.

“Sodra die publiek opgewonde was oor die produk, het ons geweet ons het sukses behaal. As die media nie daarvan hou nie, is dit ’n risiko.”

Koen het gesê feeste bly belangrik vir kunstenaars.

“Ongelukkig kry nuwe kunstenaars nie altyd die fooi wat hulle wil kry op ’n fees nie, maar sonder hierdie platvorm gaan die publiek glad nie kennis neem van hulle nie. Dit is die roete wat hulle moet volg om suksesvol te wees.”

Statistieke wat Koen twee jaar gelede ingesamel het, het bewys daar is 365 feeste ’n jaar in Suid-Afrika. Volgens hom is daar egter te min gemeenskapsfeeste.

“Die naaste wat ons aan gemeenskapsfeeste kom, is skole wat ’n fondsinsamelingdag hou.”

Volgens Koen gaan die bedryf meer as net oor die musiek of die kunstenaar, dit gaan oor Afrikaans.

“Ons wil sing, dans, droom en bid in Afrikaans,” het hy gesê.

“Afrikaans het van die beste talent in die land. As jy kyk na Afrikaanse musiek en die liedjies wat geskryf word, besef jy hoe groot en sterk ons Suid-Afrikaanse talent is.

Wat vir hom redelik ’n riem onder die hart lê, is dat baie Suid-Afrikaanse digters tans hul digterlike vryheid in musiek omsit.

“Afrikaanse musiek voed nie net ’n persoon met ’n mooi stem nie, maar ook digters en ander kreatiewe mense. Daar is internasionale vervaardigers wat by ons leer,” het Koen gesê.

“Droom groot en sing in Afrikaans.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button