Victory5 vlieg steeds hoog; oudisies nou oop

Victory5 het op 15 November by die SABC Crown Gospel Musiek Toekennings in Durban se ICC Arena opgetree en was boonop ook genomineer vir twee toekennings.

Victory5 is Suid-Afrika se heel eerste Afrikaanse Christelike tiener pop groep met die doel om ’n positiewe boodskap met Christelike waardes aan ons land se jongmense oor te dra.

“Die sangers en persoonlikhede van vandag na wie ons jongmense opkyk is alles behalwe goeie rolmodelle,” het Eon de Bruin, die plate maatskappy se bestuurder gesê.

Die groep bestaan uit Justin Hoyer (16) van Boksburg, Zoë van Niekerk (12) van Krugersdorp, Dillon Botha (18) en Dianke Adams (16) van Kemptonpark.

Victory5 het twee nominasies ontvang vir hul debuut album, Ek Weet Wie Ek Is, en is benoem vir die Beste Afrikaanse Album en die Beste Pop Album. Die titelsnit se musiek video was ook vir 81 weke op Kruiskyk se musiek program, IMPAK, se top 10 ranglys.

Hul tweede album word in Maart 2016 vrygestel en gaan na verwagting op dié sukses voortbou.

XrossBeat Media het oudisies gehou vir die groep aan die begin van 2013 en uit talle kinders van regoor Gauteng wat ’n oudisie afgelê het, was daar op dié vyf besluit. Die lede van die groep het wel in die afgelope drie jaar verander soos die kinders ouer word en skool verlaat. “Dis die realiteit van die groep en daarom word daar elke jaar weer oudisies gehou soos ons een of twee lede moet vervang as hulle skool verlaat,” het De Bruin gesê.

As daar kinders is wat graag wil oudisie om deel te wees van Victory5 in 2016, e-pos De Bruin by info@xrossbeat.co.za voor 15 Desember. – @IschkeBoksburg

Hier is ’n voorsmakie van een van hul liedjies wat op die nuwe album verskyn:

www.youtube.com/watch?v=jYS7CIGMURE

Exit mobile version