Lifestyle

André G skryf sukses toe aan sy vrou

André G, oftewel André Grobbelaar, is ’n trotse Boksburger met ’n groot passie vir musiek.

Dié musikant het reeds in sy jong dae begin musiek maak toe sy ma vir hom ’n ou orrel gekoop het.

André, wie al ’n paar albums agter sy naam het, het toe later sy eie vyf-stuk orkes, Waterfront Band, gestig en vandaar het sy musiekloopbaan behoorlik vlam gevat.

Sy laaste album, wat juis opgeneem is saam die Waterfront Band, is in 2015 uitgereik.

André is tans besig met ’n solo album wat hopelik voor Desember op die winkelrakke sal wees.

André G stel homself voor aan die Advertiser:

Op dié album het Anton Myburgh, wie ook 16 liedjies op André se eerste album geskryf het, ’n paar oorspronklike snitte spesiaal vir André neer gepen.

André is handig met ’n string instrumente insluitend die klawerbord, maar het nog nie sy eie musiek geskryf nie omdat hy nie genoeg tyd op sy hande het daarvoor nie.

“Ek maak staat op Anton om vir my te help, maar dalk is daar ’n song of twee in die toekoms wat ek sal skryf. Daar is een of twee in my kop op die oomblik,” het die musiekman verduidelik.

Sy liefde vir musiek vloei so deur sy are dat André nooit die liefde vir sang selfs tydens sy weermag-opleiding gelos het nie.

Alhoewel hy homself nou in die sekuriteitsbedryf bevind, maak hy steeds musiek.

André koester ’n droom om ’n hoofstroomkunstenaar te word en het ook al sy debuut op die kassie gemaak toe hy in ’n aantal episodes van 7de Laan, Egoli en Scandal te sien was.

André het ook onlangs rolle losgeslaan vir twee rolprente, Spykerspruit en Vickie, wat volgende jaar verfilm word.

André se vrou, Maryna, sy bestuurder en grootste ondersteuner, staan bankvas agter sy musiekloopbaan. Maryna het met musiek grootgeword en ook op ’n baie jong ouderdom begin sing.

“Omdat ek uit hierdie agtergrond uitkom, is dit vir my lekker om André te ondersteun,” het sy vertel.

“Ek dink dit is moeilik vir ’n persoon met geen passie vir musiek om getroud te wees met iemand in die musiekbedryf. As jy nie die passie het nie kan jy nie jou partner ondersteun nie. Jou partner moet jou vertrou. Ek is bevoorreg om met elke funksie wat hy optree, saam te gaan. Ondersteuning en betrokkenheid is baie belangrik.”

Luister hier na wat Maryna oor haar ‘teddiebeer’, André sê:

Wat André die meeste van Maryna waardeer, is dat sy hom die geleentheid gee om sy musiek te kan uitleef en hom voluit bystaan.

“Ons doen dit saam as ’n projek. Omdat ons saam werk, is ons altyd in mekaar se geselskap,” het André gesê.

Die paartjie beskryf hulself as motorfietsryers en maak vyf kinders en drie kleinkinders uit hul vorige huwelike saam groot.

Volgens André toer hy en Maryna redelik baie, dus moet hy gereeld ’n balans vind tussen sy twee loopbane asook sy gesin.

Hy is van nou af elke naweek vol bespreek tot Desember.

So tussendeur hul besige skedule, maak André en Maryna seker hulle rus.

“Ons noem Sondae ons pajama-dae. As ons ’n besige naweek het, sal ons Sondag middag vieruur eers ons pajamas uittrek,” het André gesê.

“Maar dis ook nie altyd moontlik om op Sondae te chill nie.”

Volgens Maryna is musiekliefhebbers baie erg oor André se musiek. “Ons het regtig ’n groot groep ondersteuners van oral af,” het sy bygevoeg.

“Daar is al hierdie groot kunstenaars wat regoor die land optree, so die mense vergeet van die local sangers. Daar is baie van hulle wat so ’n talent het, maar wat nie regtig raakgesien word nie.”

Kyk hier na André G se musiekvideo, Langpad:

 

Also read:

Latest Entertainment News In Boksburg

Related Articles

Back to top button