Tas vol bekendes op een verhoog in Van Dyk Park

Adam Tas, een van Suid-Afrika se grootste supersterre, hou binnekort konsert by Laerskool Van Dyk Park.

Die pragtige Cordelia wat kykNET kykers op die punte van hul stoele laat sit en die man met die diep stem wat knieë regoor die land lam maak, Juandre Marais, gaan die verhoog met die besielende Afrikaanse sanger deel.

Die Hervormde Kerk Parkrand bied die teater-styl musiekkonsert aan op 15 Augustus, om 6nm, en gaste sal rustig saam kan sit en kuier rondom tafels van tien terwyl hul smul aan vier soorte potjiekos, groentes en nagereg.

“Hierdie Afrikaanse konsert is ons grootste fondsinsameling aksie en met die suksesse van ander vertonings die afgelope 10 jaar, wou ons weer een van die groot name kry,” sê ds Edzard van Baalen. Adam Tas se gewildheid het die gemeente genoop om hom reeds maande vooruit vir hierdie prag geleentheid te bespreek. “Sy liedjies en die diepte van elk spreek vanself en ons moes eenvoudig die man intrek.”

In lyn met die gemeente se gemeenskapsontwikkeling en -versorging doelwitte, wou die gemeente jonger talent betrek om die verhoog met een van die land se vernaamste kunstenaars te deel.

D.m.v. navrae aan kenners in die musiekbedryf en navorsing op TV en onder die gemeentelede het die kerk meermale die name van Cordelia en Juandre gehoor.

“Gegewe beide se stywe skedules het ons vroeg aanvaar dat ons kanse om hulle vir die aand te kry redelik skraal was,” het van Baalen gesê.

“Ek kan nie in woorde stel hoe fantasties dankbaar ons was toe nie net Juandre nie, maar ook Cordelia hulself vir ons geleentheid beskikbaar gestel het. Ons is besonder gelukkig om drie sulke ongelooflike talente op dieselfde verhoog te kan kry. Ons kan maar net dankbaar wees.”

Daar is nog individuele kaartjies beskikbaar en tafel besprekings kan steeds gedoen word.

Laerskool Van Dyk Park bied genoegsame en veilige parkering. Daar sal ook streng sekuriteit wees.

Vir navrae of besprekings kontak Robbie Robbetze op 082 901 1099.

Exit mobile version