Lifestyle

Verloor jouself in Vermis op Allesverloren

Beoordeling: Lees gerus - die soektog na Erta is boeiend en die kennismaking met die karakters is interessant.

Resensent: Ischke de Jager; ischke@caxton.co.za

Boek: Vermis op Allesverloren

Skrywer: Anchien Troskie (die skrywer van Dis ek, Anna)

Uitgewer: NB Uitgewers

Toe haar eksentrieke tante Erta verdwyn, kry Melinda ’n privaatspeurder (Barrie) om te help soek, bekommerd dat Erta dalk in gevaar is.

Erta was op die dorp bekend as ‘n heks, oor haar kruiedoepas en lees van teeblare.

Melinda vermoed vuilspel, want die dorpsleiers, veral Oudominee, het Erta verdoem en haar selfs vir die droogte geblameer.

Hulle het haar nooit vergewe nie, omdat sy as armblanke met een van hul goue seuns getrou het en omdat sy haar later op die dorp as kruiedokter kom herskep het en haar met die bruin gemeenskap bemoei het.

Die verhaal word deur twee karakters vertel: Barrie en Erta.

Dít help die leser om die karakters op interessantswyse te leer ken, Barrie en Erta, sowel as die gemeenskap van Allesverloren.

Vermis op Allesverloren vertel dalk die lewe van ’n vrou oor enkele jare in ’n klein dorpie, maar doen meer as net dit, soos wat die titel suggereer: die ”verlore” en ”vermis” wees van ”alles” van baie karakters – nie net Erta nie.

Dit sal vir baie lesers bekend voorkom: die grootword in ’n gesin wat deur ander uitgewerp en op neer gesien word, die godsdienstige en politieke ondertone waarmee baie grootgeword het, die wegsteek van skandes, die verontskuldiging en regverdiging van optredes.

Het Troskie die talent van ’n Etienne Leroux of ’n Hennie Aucamp? Kon haar karikatuuragtige sketse van die dorp se karakters – die Oudominee, die Jongdokter, die Buurvrou, die Kwaaijuffrou – dalk op ’n satiriese vlak gewerk het?

Die karakterisering was egter te eendimensioneel.

Daarby voel ’n mens dat die tipiese elemente van die plaasroman, vernaam die konflik tussen die dorpenaars en die buitestaander, sowel as die greep van godsdiens op die kollektiewe psige, darem al régtig holrug gery is in Afrikaans.

Die roman handel oor die tema van veroordeling en van op verskeie maniere verlore wees: Erta as arm kind in die dorpie, as vrou in ’n liefdelose huwelik, as uitgeworpene toe sy terugkeer.

Barrie as afgetredene, en sy rol en plek as man in die huwelik verbeeld sy soeke na sy plek en waar hy ”vermis” geraak het.

Selfs Melinda, wat nie weet wie haar pa is nie, skakel met verlore wees.

Die tema van veroordeling is veral nou gekoppel met Erta en Allesverloren.

Aan die einde van die roman kom sy tot die gevolgtrekking: “Wys jou net: niemand het die reg om te oordeel nie.”

Die roman slaag egter nie daarin om heeltemal te oortuig nie, waarskynlik omdat die karakterisering te oppervlakkig bly en die kritiek teen kleindorpse gemeenskappe te eendimensioneel is. – @IschkeBoksburg

Related Articles

Back to top button