Lifestyle

Snaakse manne bied vanjaar se musiekfees

Komediante Hannes Brümmer en Melt Sieberhagen bied vanjaar die Afrikaanse Musiekfees 13 aan wat by Carnival City se Big Top Arena op Saterdag, 6 September, om 7nm aangebied sal word.

Afrikaanse Musiekfees 13 spog met die room van Afrikaanse sangers soos Bobby van Jaarsveld, Bianca le Grange, Jak de Priester, Jannie Moolman, DJ Ossewa, Hercules en Jasmyn, Lance James, Arina de Witt, Pieter Erasmus, Alwyn Oberholster, Elizma Theron en Carly Baily.

Hannes Brümmer het drama studeer aan die Universiteit van Pretoria (Tuks) en in 2000 sy graad behaal.

Hy het agt jaar gelede ook betrokke geraak by verhoogkomedie en by die Parkers Improv Comedy Express-klub aangesluit.

Hy was by die kreatiewe en die toneelspelaspekte van die TV-reeks Kompleks betrokke wat vir hom die geleentheid gebied het om sy komedietalente te slyp.

Hy het ook teenoor Marius Weyers en Anna-Mart van der Merwe in Amalia gespeel, en het gasrolle vertolk in die Afrikaanse sepies Villa Rosa en Binnelanders.

Brümmer is tans te sien in die tieneraksierolprent, Agent 2000.

Brümmer het ook twee jaar gelede vir Lefra Produksies gespeel in My Vrou se Man se Vrou.

Melt Sieberhagen is ’n Suid-Afrikaanse komediant, akteur en stemkunstenaar wat al sedert 2001 by die vermaaklikheidsbedryf betrokke is.

Hy is ook ’n talentvolle draaiboekskrywer, regisseur en verskyn gereeld op TV en in films.

Kykers sal hom dalk onthou vir sy rolle in sepies soos Egoli, 7de Laan en Isidingo, sowel as in komedies soos Gabriël en Kompleks een en twee en dramas, insluitende Een Skoenlapper, Song vir Katryn, Arsenaal, Jozi Streets en Scandal.

Hy is ook gereeld te sien in Proes Straat.

Op die groot skerm het hy rolle gehad in Oh Schuks, I’m Gatvol, Footskating 101 en Poena is Koning.

Hy het ook al in verskeie TV-advertensies verskyn.

Frans Swart, regisseur en vervaardiger van Afrikaanse Musiekfees 13, sê dit was nog altyd vir hom baie belangrik dat die aanbieders van die Afrikaanse Musiekfees ook komedie moet gebruik in die aanbieding.

“Vir die afgelope twaalf jaar het ons werklik besondere aanbieders gehad,” sê Swart.

“Ek is baie opgewonde oor vanjaar se aanbieders, want beide Hannes en Melt is skreeusnaaks op die verhoog. En as span, is hulle nog snaakser.

“Mens gaan beslis vermaak word en ons almal gaan lekker lag. En lag is tog die beste medisyne!”

Related Articles

Back to top button