Lifestyle

Chante laat koppe draai by Arts Ekspo in VSA

Fyftien-jarige Chante Combrink van Hoërskool Oosterlig het met ’n blye hart na Suid-Afrika teruggekeer nà haar suksesvolle deelname aan die Applause Rising Talent Showcase (Arts) Ekspo in Orlando, Florida, einde Junie en begin Julie.

By die Arts Ekspo is daar jaarliks ongeveer 500 deelnemers wat hul spesifieke talente openbaar, hetsy dit sing, dans, modelwerk, TV reklame of iets anders is.

Deelnemers tree op voor maksimum 60 agente en vervaardigers wat groot name in die VSA het, byvoorbeeld Capital Records, Sony/BMG Records, New York Film Academy, Red Models of New York, en vele meer.

Chante beskryf haar ervaring by die Arts Ekspo as “ongelooflik”.

“Elke optrede wat ek gedoen het, was tot die beste van my vermoë en om dit te doen voor, tussen 40 en 60 agente, het ek al klaar soos ’n wenner gevoel,” sê Chante.

“Die beste deel van die Arts Ekspo is dat jy maats maak regoor die wêreld, en vir die week wat jy daar in Orlando is, is hulle familie. Die ondersteuning van ’n vreemdeling is baie oorweldigend en dit is ’n gevoel wat nie verduidelik kan word nie.”

Chante vertel dat hoogtepunt was om voor al die agente te kon sing.

Sy sê dat haar hart amper by haar keel uitgespring het toe sy op die internasionale verhoog verskyn het.

Vir agt maande het Chante voorberei aan hierdie oomblik.

“Toe ek op die verhoog uitloop en die agente, vervaardigers en gehoor wat op my wag… dit was die beste gevoel ooit.”

Chante het Unconditionally gesing en vertel dat die Suid-Afrikaanse Arts deelnemers, sowel as die gehoor, haar toegejuig het.

“Wat ’n oomblik – ek kry nogsteeds hoendervleis as ek aan daardie oomblik dink.”

Chante se ma, Charlain, is ook ongelooflik trots op wat haar dogter bereik het.

Die oorblywende katagorieë waarvoor Chante ingeskryf het, het sy vreeslik geniet, veral haar kreatiewe aanloopbaan modelwerk.

Nadat Chante haar talente by die Arts Ekspo geopenbaar het, is daar na bewering drie agente wat moontlik in haar belangstel.

Atlantic Records wat in New York geleë is, was baie beïndruk met Chante se enkelsnit en stel belang om in die nabye toekoms met haar te werk.

Sy moet hulle dus op hoogte hou van alles wat sy doen in haar musiekloopbaan.

Diamond Agency, geleë in Florida Orlando, was aangenaam verras deur Chante se toeneelspel en sal haar graag wil gebruik vir film of televisie opnames, sowel as vir kreatiewe aanloopbaan modelwerk.

Volgens Charlain, was Chante ook ingelig dat as enige verdere stappe geneem word, kan sy dalk vir drie maande in Orlando gaan bly.

Een van Albany Agency se akteurs en produksie skrywers, James Pentaudi, is besig met onderhandelinge om ’n skool produksie in Suid-Afrika te doen en stel belang om vir Chante ’n rol in een van sy teater produksies, Middle School Madness, te gee.

Chante het ook ’n positiewe ope onderhoud met Sony/BMG Record se John de Grazio gehad.

Sy het vir hulle haar demo album gegee en sal in die toekoms in kontak bly met al haar opnames.

“Hulle was beïndruk met haar enkelsnit, Till I Find You,” sê Charlain.

“Toe my bestuurder (Just You Artist and Management) vir my die papier gee om vir my te se watter agente met my ’n onderhoud wil voer en ek sien Atlantic Records se naam, was ek baie in my noppies.

“Ek weet in my hart dis waarvoor ek die afgelope paar jaar gewerk het. As net een agent van Sony/BMG of Atlantic Records my kan raaksien, maak dit soveel deure oop in die toekoms.

“Vir my sang loopbaan is dit ’n groot deurbraak – om ’n album te kan skryf of op te neem in die VSA, is ’n groot droom van my.”

Soveel dinge lê nou vir Chante voor en sy sê dat die werk nou eers begin.

Sy sal ook volgende jaar wil terugkeer na die Arts Ekspo.

Chante is vir die volgende vier jaar ’n lid van die Arts Ekspo en hoef glad nie deur dieselfde audisie proses te gaan nie.

Sy wil graag haar enkelsnit vrystel en binnekort ook aan haar nuwe album wat sy saam Byron Keno wil skryf en opneem, begin werk.

“Hy doen fantastiese werk,” sê Chante.

Sy wil ook so gou as moonlik aan haar musiekvideo begin werk en dit vrystel. Chante is ook reeds besig met konserte en funksies as fondsinsameling vir die Arts Ekspo 2015.

As enige iemand bereid is om bydraes te lewer, kan julle na haar Facebook-blad (Chante Is The Name) gaan kyk en haar ’n persoonlik boodskap stuur.

Al haar konserte en gebeurtenisse sal ook op hierdie blad geplaas word.

Gaan luister ook gerus na haar enkelsnit, Till I find you, op Soundcloud (Chante Is The Name).

Chante kan ook op Twitter gevolg word by @ChanteIsTheName.

“Ek wil net vir enige iemand sê wat ’n droom het om ’n sanger, danser of ’n model te word, dat Internationaal ’n werklikheid is.

“Al wat jy moet doen, is glo in jouself en werk aan jou droom – dit kan bereik word deur harde werk en die ondersteuning van jou familie,” sê Chante. – @IschkeBoksburg

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button