De Vries se nuwe liefde

Nadat hy 27 jaar in ’n loopbaan was waar hy mense maak lag het, het komedie legende, Casper de Vries, besluit om sy een-man vertonings op sy te skuif en meer aandag te skenk aan sy nuwe passie – kuns.

De Vries, afkomstig van Johannesburg, het twee jaar gelede begin skilder en die openingsaand van sy eerste solo uitstalling, genoem “Art at the Palace”, te Emperors Palace, op Donderdagaand, Februarie 20, gehad.

Bekendes, onder wie Rina Hugo, Anna Davel, en Johan van Rensburg, het geskitter in hul teenwoordigheid.

De Vries se honde-kinders, Halfrida en Kent, was sy metgeselle vir die aand, en het hom soos ’n skaduwee agtervolg.

Sy inspirasie om te skilder, het ontstaan terwyl hy by ’n vriendin, Michele Nigrini, gekuier het.

“Ek was oorval met die drang om kleur op ’n doek te sit, en my eerste skildery was van ’n boom buite Michele se ateljee,” sê De Vries.

“Ek het van die proses gehou, Michele het my positief aangemoedig, en die oomblik wat ek huistoe gegaan het, het ek verf, verfkwaste en doeke gekoop en begin verf. Sedertdien het ek nie gestop nie.”

De Vries het aanvanklik eers vir sy persoonlike genot geverf.

Toe hy aangemoedig word deur die spontane reaksies van vriende en mense in sy binnekring wat sy skilderye gesien het, het hy dit begin oorweeg om sy kunswerke vir die publiek te wys.

Kurator en historikus, Eunice Basson, het sy werk geëvalueer met die doel om uitgestal te word, en die bal is aan die rol gesit.

Ses-en-veertig van De Vries se skilderye, wat verskeie style verteenwoordig, word uitgestal binne die teater, Theatre of Marcellus, waar hy sedert 2004 vertonings opgevoer het.

“Ek hou van die simboliek van my teater kant wat die leisels aan my kuns kant oorhandig,” verduidelik De Vries.

Hoewel De Vries ’n loopbaan daaruit gemaak het om mense te laat lag, is die styl van sy kunswerk nie komies nie.

“Ek is ’n baie jong kunstenaar, en ek het geen formele opleiding in kuns nie, so vir nou verken ek al die style wat my interesseer. Sommige is realisties, en sommige is heeltemal abstrak,” sê hy.

De Vries sê dat hy nie ’n foto wil maak nie, daarom is die lyne op sy kunswerke nie perfek nie.

Terwyl hy skilder, kry hy nuwe idees en die finale produk is nooit iets wat beplan is nie.

Gedurende die skilder proses, maak hy van verskeie mediums gebruik, onder andere, akriel, papier en roomys stokkies.

Aan die hand van een van sy gunsteling werke wat hy geskilder het, Anna Magrieta with an apple, wat ’n portret van sy oorlede ouma is, verduidelik De Vries dat hy speserye, meer spesifiek sout, gebruik het om die sproete op haar gesig voor te stel.

“Dit is simboliek aan die gesegde sout van die aarde, en dit is presies wat ouma in haar jare was,” beskryf De Vries.

Sy ouma het ’n swaar lewe gehad, daarom het hy vir haar ’n Ipod by geskilder, “sodat sy lekker musiek kan luister”.

Die verskillende kleure wat De Vries gebruik het om sy ouma se gesig te skilder, verteenwoordig die feit dat hy nooit geweet het watter kleur haar velkleur werklik was nie.

De Vries het oor groot kunswerke en groot kunstenaars geleer en dit bestudeer, en beoefen, maar hy verf van sy “gut” en sy eerste nederige objektief is om te bewys dat hy sy sout artisties werd is.

Hy het ’n oog vir komposisie en sy werke wat uitgestal word, is eerlik en verteenwoordig geen truuks en geen tegnologiese ingryping, maar slegs die ware merk van die kunstenaar se hand.

Met sy kunswerke, wil hy mense iets gee om teen hul muur te hang en hul lewens te verruim en gedagtes te prikkel.

Dit is hoegenaamd nie die einde van De Vries se loopbaan in komedie nie.

Volgens De Vries gaan hy nog in films speel en verhoog vertonings doen, maar nie meer een-man opvoerings nie.

Die een-man vertonings met al die toere, is baie tydrowend en hy is nou moeg daarvoor.

“Om te skilder is rustiger,” sê hy.

’n Hoogtepunt van Comedy Central se eerste Comedy Roast in 2012, beplan De Vries om meer samewerking met ander komediante te doen – meer improvisasie werk, en moontlik sy eie film en ’n boek.

De Vries sê wel dat dit net gaan gebeur wanneer hy nie skilder nie.

“Dit is soos om verlief te raak op iemand anders. Ek moes aan Komedie verduidelik dat hierdie flirtasie met Kuns meer as net ’n fling is. Komedie het na my gesnork, maar ek hoop Komedie sal daarmee vrede maak,” sê De Vries.

De Vries beplan reeds uitstallings in Kaapstad en Bloemfontein vir later dié jaar.

“As ek in 2010 vir myself gesê het waar ek vandag sou wees, sou ek gedink het ek is mal en myself in ’n malhuis ingeboek het. Dit is onwerklik om te sien.”

“The Art at the Palace” uitstalling by die Theatre of Marcellus, Emperors Palace, sal tot Donderdag, Februarie 27, vanaf 3nm tot 9nm toeganklik wees vir belangstellendes.

De Vries sal daagliks teenwoordig wees vir enige vrae.

Bekendes, onder andere Rina Hugo en Anna Davel, het die openingsaand van Casper de Vries se kuns uitstalling bygewoon. Hier staan hulle by een van De Vries se skilderye, Saint Greetje.
Exit mobile version