Lifestyle

Live Arts Little Theatre verjaarsdag feesviering

Die Live Arts Little Theatre nooi die gemeenskap van Boksburg uit om deel te wees van ’n gesellige aand, ter ere van die teater se tweede verjaarsdag viering op Saterdag, 15 Februarie.

Die teater beplan ’n propvolle en opwindende program met optredes deur plaaslike, sowel as nie-plaaslike kunstenaars.

’n Instrumentele optrede deur Sheraaz, en akoestiese optredes deur Rommel Jones en Anna van Achterberg, is slegs ’n paar van die optredes waarna daar uitgesien kan word.

Op hierdie aand het die dramaskoolstudente ook die geleentheid om saam met diè kunstenaars op te tree.

Daar gaan ook trekkings gedoen en geskenkpakkies uitgedeel word om die gaste deel te maak van die geselligheid.

Die teater is deur die Nasionale Eisteddfod Akademie aangewys as een van die top 10 drama skole in Gauteng, en is ook die enigste drama skool in Boksburg wat met hierdie prestasie pronk.

’n Kunstenaaragentskap van Johannesburg, Talent-ETC, is ook tydens dié aand op die gastelys om moontlike studente te verwerf.

Fondse wat met hierdie geleentheid ingesamel word sal gebruik word vir studente by die teater wat nie geld het om vir dramaklasse te betaal nie, maar wat ’n ongelooflike talent het.

Buiten die verjaarsdagviering van die teater, is die doel van die aand ook om die erfenis van Boksburg te vier.

“Dit is die teater se missie om kuns in Boksburg te ondersteun,” sê besturende direkteur, Louw Breytenbach.

“Met hierdie aand wil ons dankie sê en teruggee aan die gemeenskap vir hul ondersteuning die afgelope twee jaar.

“Die gemeenskap het bygedra tot die bestaan van die teater, so dit het ’n persoonlike gevoel,” sê Breytenbach.

Daar is slegs 100 kaartjies beskikbaar vir hierdie feesviering.

Optredes sal om 7.30nm begin. Op diè aand sal daar ’n kontant kroeg wees.

Vir meer inligting kontak 074 101 8165 of stuur ’n e-pos aan liveartstheatre@gmail.com/louwbreytenbach@gmail.com.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button