Lifestyle

Waarom eiers ‘n plek op jou bord verdien

Hoeveel vet bevat 'n eier, en tel eiers as 'n diereproteïen? Lees die antwoorde vir dié en vele ander belangrike vrae hier:

 

Vraag: Hoeveel vet is in ’n eier?

Antwoord: Net een enkele teelepeltjie!

Die vette in eiers is regtig min genoeg. Een eier bevat maar net 5-6g vet – net soveel as in een teelepel botter (dink aan botterkoffie!), olie of margarien. Selfs maer vleissnitte bevat drie keer meer vette per porsie. ’n Opgehoopte eetlepel gerasperde kaas (soveel as wat mens tipies op ’n twee-sny toebroodjie sit) bevat 10-12g vette. As jy jou eier in ’n lepel kookolie gaar maak, of twee lepels botter gebruik om jou Franse eierbroodjie te braai, is dit nie die eier se skuld dat daar baie vet in die gereg is nie. As jy vette wil bespaar, moenie op eiers sny nie. Kyk liewer hoe en waarin jy jou kos gaarmaak. As dit nie noodsaaklik is om kos te braai nie, moenie!  

 

Vraag: Ek is besorg oor die vette in diereprodukte, soos eiers?

Antwoord: Moenie wees nie – dit sluit gesonde omega-3s in

Elke eier bevat natuurlik sowat 180mg omega-3 vetsure. En dan kan jy nog omega-3 verrykte eiers koop. Die meeste voedingkenners beveel aan dat jy sowat 250mg per dag gebruik. Met net een eier is jy amper daar.

Lees ook: 8 maklike breinoefeninge wat vir almal werk  

 

Vraag: Tel eier as ’n diereproteïen?

Antwoord: Ja – en dit is die goudstandaard vir alle proteïene

As jy doelbewus kies wat jy eet omdat jy jou gewig dophou kyk mens meestal net na kilojoules en/of koolhidrate. Eiers is hiervoor uitstekend maar eiers kry selfs hoër punte vir die gehalte van die proteïen daarin. Dit word selfs as die goudstandaard gebruik waarteen alle ander proteïene – selfs skaap en biefstuk – gemeet word. Eiers tel as ’n volledige proteïen omdat dit al nege van die essensiële aminosure (proteïenboustene, wat ons liggame nie self kan vervaardig nie; ons kan hulle net uit ons kos kry) bevat. Maar dalk wou jy eintlik weet hoe vegetariërs eiers sien? Kyk na die volgende vraag.  

 

Vraag: Kan ek eiers vir my vegetariërkind voorsit?

Antwoord: Ja, eiers is goed vir hom

Vegetariërs eet eiers terwyl veganiste eiers uitsluit. Pollotariërs eet eiers – en baie pesketariërs ook. Omdat al hierdie dieetstyle rooivleis uitsny moet hulle ekstra moeite doen om seker te maak dat hulle genoeg van al die noodsaaklike aminosure inkry, deur byvoorbeeld te sorg dat hul dieet sade én grane én neute én peule insluit. As jy egter ’n eier eet kry jy al nege noodsaaklike aminosure op een slag. Boonop is die proteïen in eiers baie meer biobeskikbaar as die proteïen in plantbronne daarvan. Om dit anders te stel: as jy ’n eier eet weet jy jy kry al die noodsaaklike aminosure, terwyl spesifieke voedingstowwe in plante kan keer dat van die aminosure opgeneem word.  

 

Eiers: Jy vra, ons antwoord

VladislavStarozhilov/istock images

 

Vraag: Moet ek ’n bietjie spinasie by my eier sit vir anti-oksidante?

Antwoord: Eiers is sélf ’n anti-oksidant!

Anti-oksidante kom nie net in rooi, groen en geel vrugte en groente voor nie; eiers bevat ook kragtige anti-oksidante soos vitamien E en selenium. Die waarde van ’n eier as ’n anti-oksidant word eintlik heeltemal vergeet. Maar spinasie, tamatie, sampioene, basilieblare en pietersielie saam met jou eier is altyd ’n uitstekende keuse. Hulle verskaf vesel, wat afwesig in eiers is. (Dit is eintlik ’n goeie wenk wat jy met daardie vraag beet het – om dit mens se persoonlike reël te maak dat jy altyd vesel saam met jou eier sal eet.)  

 

Vraag: Kan ek ’n gekookte eier vir my kind inpak skool toe?

Antwoord: Ja, dit hou drie, vier dae!

Die dop van ’n eier is die wonderlikste verpakking denkbaar. Dit hou al die voedingstowwe binne én al die kieme buite, by rou en selfs by gekookte eiers. Dus, solank die eier nie afgedop is nie, is dit uitstekende padkos, skoolkos, werkskos, piekniekkos, veldkos en selfs koshuiskos. In die somer hou ’n hardgekookte eier drie dae op enige koel plek, al is dit buite die yskas. In die winter kan dit vier dae hou.  

 

Vraag: Hoeveel kilojoules is in ’n eier?

Antwoord: Verbasend min!

Daar is net 330kJ in ’n groot eier. Dit is ’n derde tot die helfte minder as in rooivleis, maer maalvleis, varkvleis, skaapvleis en selfs hoendervleis wat 800-1 200kJ in ’n gewone porsie van sowat 100g bevat, afhangende van hoe dit gaar gemaak is. Selfs ’n 100g porsie vis bevat dubbeld soveel kilojoules as ’n eier. Nie dat hierdie proteïene ongesond is nie. Dit is net dat ’n eier uitstekende waarde is teenoor hul “prys” in kilojoules. Daarom is dit ’n goeie keuse is as een van jou proteïene vir die dag, veral as jy wil gewig verloor of hard werk om jou gewig laag te hou.

Wenk: Die kilojoules klim skerp as jy eiers in olie gaarmaak. Kook of posjeer jou eiers, gebruik ’n kleefvrye pan of mikrogolf dit.

Lees ook: Is jy dalk uitgebrand? Toets jouself  

 

Vraag: Bevat eiers koolhidrate?

Antwoord: Nee, nie eers een gram nie

Die Bantingdieet het beslis gekom om te bly. Al bant jy nie, weet ons almal nou dat as jy vetjies wil afskud beter jy jou leë koolhidrate beperk. Hiervoor is eiers tops. Dit bevat nie net min koolhidrate nie – dit bevat géén koolhidrate! Dit is nou mits jy jou eier nie saam met dik snye brood eet nie. Hou die koolhidrate laag deur jou eier saam met tamaties, babaspinasie, roket, sampioene, aspersies, murgpampoentjies, tiemie en so aan te geniet.  

 

Eiers: Jy vra, ons antwoord

TARIK KIZILKAYA/istock images

 

Vraag: Sal ’n eier vir ontbyt jou versadig hou?

Antwoord: Ja, tot middagete

Soos jy reeds weet is ’n eier ’n uitstekende bron van proteïen en gesonde vette – wat altwee jou bloedsuikervlak konstant hou vir vier tot ses uur – en jou dus versadig en skerp hou, al is jy hoe besig.

Lees ook: Eiers vir ontbyt – ’n wenresep vir elke dag!  

 

Vraag: Eiers is reg vir jou hart, maar wat van jou bloeddruk?

Antwoord: Dit is reg daarvoor ook

Anders as wat lank gelede gedink is (in die vorige eeu, om die waarheid te sê) verhoog eiers nie jou cholesterol nie. Cholesterol is inderdaad van die belangrikste voedingstowwe vir jou brein en om die wande van elke liewe sel in jou liggaam gesond en funksioneel te hou. Daarom sorg jou lewer dat jy áltyd genoeg cholesterol het deur self cholesterol te maak as jou dieet te min sou verskaf. Jou liggaam het ’n ingeboude “sensor” of terugvoerstelsel wat bepaal hoeveel cholesterol beskikbaar is; as jy ’n eier eet maak dit eenvoudig minder cholesterol. Boonop weet ons nou dat eiers bloeddruk help laag hou, wat dit selfs beter vir jou hart maak. Maar dan moet jy nie ’n lepel sout oor jou eier gooi nie. Proe ’n slag jou eier met toe oë – Moeder Natuur het klaar sout ingesit!

Lees ook: Is eiergeel goed vir jou?

Lees ook: Eiers en hartlyers  

 

Vraag: Kan eiers jou oë beskerm?

Antwoord: Ja, en nie net teen katarakte nie

Die jongste katarakoperasies is wonderlik suksesvol maar daar is min wat dokters vir jou kan doen as jou sig verswak as gevolg van die ander algemene toestand van oogveroudering, naamlik makulêre degenerasie. Die beste wat jy vir jouself kan doen is om lewenslank eiers te eet – rondom sewe per week. Dit lyk asof mense wat meer eiers eet ook minder geneig is tot makulêre degenerasie en selfs katarakte. Navorsers glo dat dit te doen het met zeaxantien en luteïen, wat altwee die retina help gesond hou. Eiergeel is die rykste bron hiervan.  

 

Vraag: Wat van eiers om Alzheimersiekte te voorkom?

Antwoord: Wel, dit ís goed vir jou brein …

Wie vrees nie ’n bietjie (of erge) demensie of selfs Alzheimer- en Parkinsonsiekte as jy ouer word nie? Eiergeel bevat cholien, wat die basiese bousteen van een van jou brein se belangrikste boodskappers (asetielcholien) is. Toestande wat breinveroudering weerspieël soos demensie, Alzheimersiekte en Parkinsonsiekte word deur ’n verskeidenheid van faktore veroorsaak. Eiers alleen kan dit nie voorkom nie; en eiers kan dit ook nie omkeer of genees nie, of eers stadiger laat verloop nie. Maar eiers is ’n uitstekende bron van breinvoedingstowwe, soos cholien en vitamien E. Dus maak eiers ’n belangrike bydrae tot breingesondheid. Een eier per dag is ten minste voordelig vir jou brein.

Wenk: Dit is veral belangrik dat jy eiers eet terwyl jy swanger is, om die nodige breinvoeding vir jou baba te verseker.   Eiers is een van die beste bronne van cholien, en as jy eers weet hoe goed dit vir jou is, sal jy seker maak dat jy vyf eiers per week eet.

 

Wat is cholien? Dis in 1998 as ’n noodsaaklike voedingstof verklaar en amptelik as ’n B-vitamien geklassifiseer. Het jy dit nodig? Ja, 425 mg – 550 mg daarvan per dag – ’n eier bevat sowat 300 mg.

 

Wat doen dit vir jou? Dit help jou selwande op hul beste funksioneer. Voedingstowwe kan nie maar sommer net in jou selle insypel nie – ’n komplekse reeks reseptors en seine op die selwande abba hulle tot binne-in die sel. Hulle help jou senuwees met jou spiere kommunikeer. Cholien keer dat homosisteïen in jou bloed opbou wat jou risiko op hartsiektes verlaag; dit help vette afbreek en keer ’n vet lewer, en laastens verminder dit chroniese inflammasie.

Lees ook: Slaap en menopouse: 9 wenke wat jou aan die slaap sal sus

 

Hoe weet ’n mens jy het ’n tekort? Voortdurende moegheid, slaaploosheid, die onvermoë van die niere om die urine te konsentreer (jy piepie kort-kort en die urine is altyd lig), en vergeetagtigheid. As jy jou cholesterol laat toets en jou cholesterol-, homosisteïen- en trigliseriedvlakke is verhoog, het jy moontlik ’n ernstige tekort aan cholien.

 

Wat kan ek eet vir meer cholien? Eiergeel is die allerbeste bron, maar lewer, bone, grondbone, koringkiem en volgraanpap en –brood bevat ook cholien.

 

Wat van pille? Die beter gehalte vitamienpille bevat cholien en/of lesitien, die soja-gebaseerde bron van cholien.    

 

 

Lees ook: Wat elke vrou oor hartsiekte moet weet

Die artikel Waarom eiers ‘n plek op jou bord verdien het eerste in Rooi Rose verskyn.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button