Lifestyle

5 klassieke wenke vir ’n stylvolle wintervoorkoms

Die koue weer maak dat ons gewoonlik dikker of meer klere dra, maar dit beteken nie dat ons van styl hoef te vergeet nie.

 

Volg dié slim wenke:

 

1. Hou dit ooreenstemmend

Hoe meer lae jy opstapel, hoe makliker kan jou uitrusting deurmekaar begin lyk. Hou jou kleurpalet ooreenstemmend.

Dit hoef nie noodwendig alles neutrale kleure te wees nie, maar as jy van helder kleure hou, kan jy rondspeel met skakerings van daardie kleur.

#rrWenk: Jy kan een of twee kleure met mekaar kontrasteer, maar balanseer dit dan uit met ’n klassieke swart, wit of roomkleurige item.

 

2. Wees patroonslim

Hoewel modekenners die afgelope jare jou gereeld aangemoedig het om patrone links en regs te kombineer, kan ’n stylvolle voorkoms so vinnig by die agterdeur uithardloop.

’n Kombinasie van twee klassieke patrone is ’n goeie manier om stylvol, maar steeds modieus te lyk.

#rrWenk: As jou een patroon baie bont en besig is, maak dit die fokusitem van jou uitrusting.

 

3. Speel met teksture

Hoewel jy jou kleurpalet en patrone aan die veiliger kant moet hou, het jy vrye teuels met tekstuur.

Dit skep diepte en is winterwelig op ’n stylvolle manier, byvoorbeeld denim jeans, ’n katoenhemp met ’n leerbaadjie en woljas.

#rrWenk: Moet egter nie te veel dik materiale opmekaar stapel nie, anders kan jou liggaam vorm verloor.

Lees ook: Detoks jou klerekas in ’n japtrap

 

4. Hou jou vorm

Om klere opmekaar te dra kan jou vinnig bonkig en vormloos laat lyk.

Hoewel ’n gordel om jou jas of trui die kits-reddingstegniek is, is nie almal aanhangers daarvan nie.

In hierdie geval, maak seker jou eerste paar lae sit styfpassend aan jou figuur voor jy jou groot jas of baadjie oorgooi.

#rrWenk: Steek jou trui in aan die kant in vir ’n diagonale soom wat jou bene verleng.

Lees ook: Hierdie 8 modefoute kan jou slordig laat lyk

 

5. Tussen die jas en skoen

Wanneer jy stewels saam met ’n lang jas dra, maak seker daar steek ten minste drie sentimeter van jou broek of kouse uit tussen die jas en stewels.

Wanneer jou jas oor jou stewels hang, verbreek dit jou bene se vorm.

#rrWenk: Dra korter jasse of baadjies saam met lang stewels.

 

Lees ook: Vyf vinnige modetruuks wat jou uitrusting afrond

Die artikel 5 klassieke wenke vir ’n stylvolle wintervoorkoms het eerste in Rooi Rose verskyn.

Related Articles

Back to top button