Lifestyle

Moet jy oefen as jy hoes?

Baie mense sal maklik verkoue-simptome ignoreer en dit as ’n klein probleempie afskryf waardeur hulle kan aanhou werk en oefen.

 

Maar selfs ’n ligte sarsie oefening kan onnodige druk op die liggaam plaas en jou aan gesondheidsrisiko’s blootstel, sê dr Maki Ramagole, ’n kenner in Sportgeneeskunde.

“Wat mense dikwels vergeet, is dat ’n hoesbui aandui dat jy nie gesond is nie. As jy oefen, word jou longe se suurstof-inname verhoog. As jy hoes, kan jou longe dit nie doen nie,” verduidelik sy.

“Jou liggaam gebruik ook meer energie om teen die infeksie te probeer veg. As jy oefen terwyl jy siek is, maak jy die energievlakke in jou liggaam arm en sukkel jy om doeltreffend te herstel.”

Die gevare van oefening wanneer jy siek is, sluit in die risiko van miokarditis (inflammasie van die hartspiere), wat lewensgevaarlik kan wees. Opeenhoping van vog in die longe kan ook lei tot edeem.

Moenie die verkoue probeer uitsweet nie. Dit is ’n mite. Trouens, oefening tydens koors kan katastrofies wees vir die liggaam.

As jy ’n loopneus het sonder hoes en koors, kan matige oefening veilig wees. Maar, as jy hoes en infeksie in die longe het, is dit gevaarlik om te oefen.

Volgens dr Ramagole moet jy jou liggaam kans gee om te herstel ná ’n hoes-aanval of griep voor jy jou oefenprogram hervat. Sy beveel aan dat jy koorsvry moet wees vir drie dae voor jy weer begin oefen.

 

“Gee jouself tyd om te genees – sien ’n dokter vir ’n akkurate diagnose. Rus en drink baie vloeistowwe”

 

Sy sê ook: “Let op hoe jy voel. As jy enige naarheid, duiseligheid of kortasem ervaar of swak voel, stop dadelik.”

Lees ook: Stop jou nikotien-verslawing met oefening

Ses oefeninge vir vroue bo 40

Die artikel Dis hoekom jy nie moet oefen as jy hoes nie het eerste in Rooi Rose verskyn.

Related Articles

Back to top button