Noord-vrou se liefde vir ewig in die blaaie van ’n boek

Sy het haar 21e boek onlangs bekend gestel.

‘n Inwoner in die noorde van Pretoria het onlangs haar 21ste boek gepubliseer.

Frenette van Wyk (53) het tydens ’n boekbekendstelling in Montana, haar eerste “super-Romanza” van stapel gestuur.

LEES OOK: Noordseun (17) se fantasieboek binnekort op die rakke

Die boek genaamd Liefde op Petit Paris is, soos haar ander 20 boeke wat deur LAPA uitgewers gepubliseer is, ’n liefdesdrama.

“Ek glo in die liefde,” sê Van Wyk.

“Ek sien die wêreld deur roosgetinte lense en dit kom na vore in die romans wat ek skryf.”

Sy sê ’n passie vir liefdesverhale is al van jongs af by haar gekweek.

“My ma het altyd liefdesverhale gelees. Dit het die saadjie geplant wat later ontkiem het en my aangespoor het om self oor die liefde te skryf.”

Van Wyk het in 2006 haar eerste boek gepubliseer en die res het vinnig oor die laaste 12 jaar gevolg.

Haar nuutste boek is ’n ou Kaapse verhaal.

LEES OOK: Jeugboekskrywer bring haar tienermeisie-inspirasie na Pretoria

Die heldin in die verhaal, Royale, vlug uit Frankryk en kom as weeskind in die Kaap aan.

Aragon word as voog oor haar aangestel.

Hy is gekant teen haar liefde vir balletdans, wat hy as ydele vermaak beskou, uit die hof van Louis XIV.

Sy raak verlief op Aragon, maar hulle stamp koppe oor haar balletdansery. Tog veg hulle saam om sy druiweoes en wynplaas te red.

Dan is daar ook nog Amalia, wat haar visier op Aragon het, met wie Royale rekening moet hou.

“Liefde op Petit Paris is ’n lekker leesboek vir ontspanning en ontvlugting. Dis ’n verhaal met konflik, teleurstelling, smart, jaloesie, vreugde, triomf en natuurlik – liefde,” sê Van Wyk.

Van Wyk sê dié “super-Romanza”, wat ’n langer en meer verwikkelde romanse is, was uitdagend om te skryf.

“Die gewone romanse het ’n beperking op woorde. ’n “Super-Romanza” gee die geleentheid vir meer karakter-ontwikkeling. Dit was uitdagend, maar ek het dit ook baie geniet.”

LEES OOK: Carltonbeker draaiboek hou by boeiende spanningslyn

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

Related Articles

Back to top button