Andries Vermeulen ‘n bietjie meer ernstig ‘In Afrikaans’

Andries Vermeulen se nuwe album In Afrikaans, spog met tien liedjies en dertig stories vir die hele gesin.

Ná die wegholsukses van sy dubbelalbum, Kô lag ‘n bietjie, is Andries Vermeulen terug met ’n versameling van sy beste musiek en stories.

Dié nuwe dubbelalbum, In Afrikaans, spog met 10 liedjies en 30 stories wat luisterplesier verseker, vir die hele gesin.

Hoewel die nuwe album steeds Vermeulen se stempel dra, wys hy ook nuwe dele van sy persoonlikheid, met ’n meer volwasse aanslag.

Die eerste CD bevat die 10 liedjies wat hy saam met musiekvriende soos Elvis Blue, Adam Tas en Steve Hofmeyr geskryf het.

Die tweede CD bevat die 30 stories, waarmee Vermeulen self vorendag gekom, of geleen het, soos hy dit regoor die land gehoor en geniet het.

“Dit is sekerlik die beste samevatting van storievertelling en liedjies wat ek nog gedoen het. Die storievertellings op die album sal jou laat lag, maar ook onthou van beter dae. Dit sal jou laat vergeet van jou probleme. Dit weerspieël die nostalgie en waarde van storievertel in Afrikaans op sy beste,” vertel hy.

Vermeulen is alombekend as ’n Afrikaanse storieverteller en sanger met ’n suksesvolle kykNET-program, OppieStoep, wat weekliks uitgesaai word.

Kô lag ‘n bietjie het meer as 24 000 kopieë verkoop en was vir ses opeenvolgende weke in 2015 onder die top 20-verkopers in Suid-Afrika.

Dié album het in 2016 ook ’n kykNET Ghoema-toekenning vir beste humoralbum ingepalm en was genomineer vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning.

Vermeulen se dubbelalbum, In Afrikaans, sal van middel-September regoor SA in alle musiekwinkels beskikbaar wees, asook digitaal op iTunes en JOOX.

Kyk die video hier:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Related Articles

Back to top button