Die kroonprins van Moepelfontein

Ontmoet vir Boon, die kroonprins van Moepelfontein en nou Pretorianer. Dié sanger ken van musiek maak.

Hy beskryf sy musiek as iets tussen Pitbull, Jack Parow, Queen, Snotkop en Vanilla Ice – ’n kombinasie tussen kletsrym- en transmusiek.

En plaaslike musiekliefhebbers het die eerste keer begin ag slaan toe hy die gehoor op hulle voete gehad het tydens ’n optrede by Weiveld, waar hy Weiveld se amptelike nuwe temalied, Weiveld Click, bekend gestel het. Die kroonprins van Moepelfontein wéét hoe om te vermaak.

LEES OOK: VIDEO: Nuwe musiekvideo vir Burgerd Botha

Ons het met hom gaan gesels om meer oor sy musiekloopbaan, interessante musiekstyl en nuwe album uit te vind.

Waar kom die naam Boon vandaan?

Boon is ’n bynaam van skool af. Dit het natuurlik te doen met my hengse lang van wat niemand ooit reg kon uitspreek nie en die feit dat niemand my eerste naam kan onthou nie.

Jy is ook bekend as the musiekroonprins van Moepelfontein. Waar is dit?

Dit is die coolste dorpie in die hartjie van die Noord-Kaap, naby Putsonderwater. Ons is so 2 000 uitsonderlike wesens wat daar uithang.

Waar is jy gebore?

Op die agterste sitplek van my pa se Chevy by die inry, met Grease op die skerm. My ma het gedink sy het net so ’n bietjie sooibrand na die slaptjips wat hulle geëet het, so sy het nie te veel waaroor geworry nie.

Waar kom jou liefde vir musiek vandaan?

Ek hou nog altyd van Beethoven (nie die hond nie … maar ek het al die flieks gesien) en Mozart, so ek wou graag ook op iets kon tokkel. My tannie Duifie was ’n musiekjuffrou en het my geleer om enige instrument waarop ek my hande kon lê soos ’n pro te speel. Die res is, soos hulle sê, geskiedenis!

Jy beskryf jou musiekstyl as ‘trap’. Wat presies is dit?

Dis ’n kombinasie tussen kletsrym- en transmusiek. Baie uniek in Afrikaanse kringe.

Hoe sal jy jou musiek aan luisteraars beskryf wat dit nog nie gehoor het nie?

Iets tussen Pitbull, Jack Parow, Queen, Snotkop, Vanilla Ice … en die beat wat ek in my kop hoor. Dis vrolik, lekker om te luister en baie pret.

Jy word beskryf as die “beste kletsrymer en vinnigste sanger op aarde”? Hoe kry jy die reg om dit so vinnig te wees?

Wel ek was ’n goeie sportman op my dag. Ek het in graad 11 die pink slip gewen vir ’n geel Datsun-bakkie in ’n briekdans dance-off, was vir ’n rukkie kaptein van die pluimbalspan en het ook ringtennis gespeel, so dit het beslis bygedra tot my fiksheid en natuurlike ritme.

Jy het ’n groot aanhang in Skandinawië en Japan. Hoekom dink jy is hulle so gek oor jou musiek? Veral as hulle nie eens Afrikaans verstaan nie?

Ek is gewoond om voor mense op te tree wat my nie noodwendig verstaan nie, maar my ritmes love! My loopbaan het in Vegas afgeskop en daai ouens ken ook nie van Afrikaans nie. Omdat my musiek so vol energie is en die beat jou intrek, dink ek nie dit maak juis saak watter taal jy sing nie … dis moontlik om saam uit te rock met ’n blokfluit of drie en die tune net te geniet vir wat dit is. Die slimmes sê mos musiek is ’n taal wat almal verstaan … en daai ouens verstaan my reg.

Skryf jy ook van jou eie materiaal?

Beslis, byna al my liedjies is oorspronklike werke.

Indien wel, waar kry jy jou inspirasie vandaan?

Mense en situasies laat my baie keer na my pen gryp. Ek is nie bang om voluit te leef nie, so om oor die lekker dinge in die lewe te skryf, kom ook natuurlik vir my.

Waar woon jy?

Na my groot break by Weiveld, het ek en my brak, Bakkies Botha, in ’n eenslaapkamerwoonstel in Hatfield ingetrek. Ons geniet sover die stadslewe kwaai.

Jy het ’n unieke aanslag as dit by mode kom. Waar kom jou liefde vir mode vandaan?

Ek hou daarvan om die vraagtekens op mense se gesigte te sien as hulle my broeke of kleurskemas aanstaar. Ek hou daarvan om myself deur middel van kleur en styl uit te leef. “Verkleurmannetjie, wat gaan jy vir ons sing?” is iets wat ek gereeld hoor!

Jy sê ook dat as jy nie gesing het nie, jy in die modebedryf sou wou werk. Wat sou jy wou doen?

Ek sou mense wou inspireer om hulle emosies, liefde, geloof en uniekheid meer te laat wys deur middel van kleredrag. Ons is geneig om onsself weg te steek agter verskeie maskers en mense leer jou nooit waarlik ken nie. Deur jou uniekheid aan jou lyf te dra, laat jy mense toe om die ware JY raak te sien.

Jy het ook ’n passie vir bak. Vertel ons meer hiervan.

My fassinasie met kos kom al ’n lang pad. Ek hou immers die dorpsrekord vir die meeste visvingers geëet in twintig minute! Bak is baie terapeuties, veral as jy ’n ekstra geldjie kan verdien en mense van Putsonderwater af kom om jou geheime brownies te koop.

Jou album sien in September die lig. Kan jy ons ’n idee gee van wat om te verwag?

Ek verwag dat baie mense hulle koppe gaan skud en vra “Wat te helletjie tog vang die man nou weer aan?” Suid-Afrika gaan bietjie voete stamp, rol op die vloer, boude skud en lag. Ek wil vir hulle ’n BOONtastiese musiek oomblik skep wat hulle nie kan vergeet nie.

Enige iets anders waarmee jy op die oomblik besig is waarvan jy ons kan vertel?

Ek is besig om my nuutste stage moves te oefen. Ek gaan ook binnekort visvang vir inspirasie!

My volgende optrede is by Weiveld in Pretoria, 29 September 2018. Dit gaan ’n konsert wees wat mense nie moet mis nie. Ons gaan Pretoria op horings neem die aand.

Vir meer oor Boon, volg hom op Facebook (https://www.facebook.com/BOON-663966610619572/),  Twitter (@Boon210446480 of Instagram (@boon_sanger).

Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

Related Articles

Back to top button