Innibos: ‘My Briljante Egskeiding’ goed ontvang

"Ek is getroud in ‘n beige pakkie en dit was duidelik ‘n slegte teken"

MBOMBELA – Om ‘n Ingelse toneelstuk uit die pen van ‘n skrywer van Ierse afkoms in Afrikaans te vertaal én só aan te pas vir ‘n Suid-Afrikaanse gehoor dat hulle nié agtergekom dit is wel vertaal nie, sit nie in enige man se broek nie. Wel in dié van Hennie van Greunen.

Hy het My Briljante Egskeiding, wat eersdaags by Innibos opgevoer word, só goed vir die plaaslike mark verwerk dat ‘n gehoorlid onlangs teenoor hom opgemerk het: “dis asof jy my lewe in Stellenbosch neergeskryf het”.

Lees ook: Vader van teater se snaakste toneelstuk in Afrikaans te sien

“Dit is vir my die hoogste pluimpie,” het Hennie laat hoor. Veral toe die skrywer, Geraldine Aron, tydens die openingsaand by die Woordfees in Stellenbosch in Maart bygevoeg het dat Anthea Thompson, wat die hoofrol van Engela vertolk, haar gunsteling is van al 39 aktrises wat tans Engela regoor die wêreld speel.

In kort keer Engela se man, Manie, terug van ‘n sakebesoek. Pleks van om sy tas uit te pak, pak hy dit in, hardloop af met die trappe, uit by die voordeur en uit Engela se lewe. Sy hoor eers later dat hy ene Rosa tydens sy sakebesoek aan Mexico ontmoet het.

“Dit is die storie van ’n gewone vrou wat tot op die oomblik wat haar man sê dat hy van haar skei, gelukkig is. Ek hou altyd vol dat elke mens se lewe die elemente van ’n epiese gedig bevat: ons almal streef na iets (sukses, geluk, betekenis) en daar is altyd iets wat in ons pad staan. Die lewe is ’n manier om by daardie punte uit te kom. Almal leef, almal het tragedie maar ook grootse geluk, so dit is wat Engela se reis so spesiaal maak – sy kan jou tannie wees, of jou ma, of jy self,” verduidelik Hennie.

Lees ook: Toe gee Dana amper vir Frank ‘n maagseer

Vir Anthea is Innibos nie vreemd nie. “Dit is al my derde keer hier. Ek is mal oor Innibos en het self vir hulle gestem as die gewildste fees. Dit is wonderlik om in ‘n gemeenskap van sulke ongelooflike talentvolle mense te werk.”

Oor Engela self vertel sy: “Sy moet haarself weer ontdek na 30 jaar se getroude lewe. Sy sê ondermeer: ‘Ek is getroud in ‘n beige pakkie en dit was duidelik ‘n slegte teken’. Nou moet sy weer kleur en opwinding in haar lewe probeer ontdek. Gaan sy ooit weer liefde ervaar? Ooit weer bemin wees? Wat is die opsies vir ‘n geskeide vrou om iemand te ontmoet? Is dit nuwe apps soos Verlore Harte, Tinder, of die Opsitkers in Landbouweekblad? Mense moet kom kyk om uit te vind!”

Anthea is eintlik Engels. “Afrikaans lê anders in die mond as Engels, so dit het harde werk en toewyding vereis, maar Engela se storie was só meersleurand dat, alhoewel dit tyd gevat het, was dit redelik maklik om my in haar storie in te leef.”

My Briljante Egskeiding het gedebuteer by die Woordfees, het toe gedraai by die KKNK in Oudtshoorn, was by Die Boer in Durbanville, wéér in Stellenbosch en volgende week by Innibos. Daarna neem hulle dit na Bloemfontein en Potchefstroom se gehore.

Hoe voel dit om tydens ‘n kunstefees soos Innibos, elke dag, dieselfde toneelstuk te moet opvoer? “Vir ‘n akteur is dit altyd lekker om long runs te doen. Elke aand is dit vars en ‘n klein bietjie anders. Dit is altyd ‘n nuwe gesprek met die gehoor. Ek raak nooit, nooit verveeld nie!”

Lees ook: Boekwurms kan uitsien na gratis kuierstories op die stoep

My Briljante Egskeiding is vervaardig deur Wordsmith’s Theatre Factory, wat Hennie saam met Pedro Kruger bedryf. Pedro is meer bekend vir sy musikale talent en min mense weet dat hy eintlik ‘n all rounder in die bedryf is. “Jy moet een wees, omdat ons industrie só klein is,” verduidelik Pedro.

“Musiek is een van my groot liefdes, maar die kombinering daarvan met my ander passies en talente is eintlik die groot liefde. So dit hang af op watter dag jy my vra, of met watter projek ek besig is – dáái is my liefde en passie. Maar my groot liefdes op die oomblik is vervaardiging, mentorskap (ek is ’n mentor vir die ATKV-liedjieslypskool) en TV-aanbieding (soos met die afgelope Proestraatreeks).”

Hy het wel die klankbaan vir My Briljante Egskeiding ook behartig. “Dit sluit musiek, klankeffekte en stem-opnames in. Die gebruik van musiek in ’n produksie is baie belangrik. Dit moet die stuk ondersteun. Die komponis en die regisseur werk nou saam om seker te maak dat dit gebeur. Die teks, spel en die emosionele lyn van die produksie kom eerste. Die musiek en beligting voltooi dan die prentjie. Maar musiek is so kragtig dat dit beslis ’n akteur kan help om die emosionele lyn stekter te maak. Tot 90 per sent van die sukses hang wel steeds van die akteur en produksie af.”

My Briljante Egskeiding is Woensdag om 19:00; Donderdag om 11:00; Vrydag om 18:00 en Saterdag om 09:00 by Laerskool Bergland te sien.

Sien die volledige feesprogram hier

Related Articles

Back to top button