Innibos vereer Chris Barnard

Laeveldse skrywer en Innibos-direkteur word hierdie jaar tydens die fees in herinnering geroep.

MBOMBELA – Chris Barnard, Laeveldse skrywer wat in Desember verlede jaar oorlede is, word tydens Innibos in herinnering geroep met ’n spesiale vereringsfunksie.
Barnard was sedert die ontstaan van Innibos een van die direkteure en het ’n waardevolle bydrae op veral die toneelgebied gelewer.

Sien ook: Rubriekskrywer lewer hartroerende huldebly aan Chris Barnard

Barnard se seuns, Johan, Stephan, Tian en Simon en hulle gesinne, sal ’n huldeblyk namens hulself en Sam Barnard, sy broer, lewer. Katinka Heyns, sy vrou, sal ook haar spesiale herinneringe tydens die funksie op Woensdagaand 29 Junie in Huis Hermann Davin, die seunskoshuis van Hoërskool Nelspruit waar Barnard op skool was,deel.

Chris Barnard verlede jaar tydens die Fiësta-toekennings. Van links is sy seun, Stephan, skoondogter Lorena, Chris, nog 'n seun Johan en sy vrou Katinka Heyns.
Chris Barnard in 2014 tydens die Fiësta-toekennings. Van links is sy seun, Stephan, skoondogter Lorena, Chris, nog ‘n seun Johan en sy vrou Katinka Heyns.

Leerders van Laerskool Nelspruit sal die skoollied sing wat Barnard vir dié skool geskryf het, en Paul Eihlers sal ’n uittreksel van ChrisKras, ’n produksie van voorlesings van die skrywer se kortverhale met musiek deur Steffie le Roux, Werner Ferreira en Pieter Ganswyk, lewer. Annette Engelbrecht is die seremoniemeester.
“Chris was egter nie net ’n kollega nie, maar ook ’n vriend,” sê Sandra Jacobs, bemarkingsdirekteur van Innibos. “Ons wil graag sy nagedagtenis huldig, en op ’n gepaste Laeveldse manier van hom afskeid neem. Chris was ’n Laevelder in murg en been en ons onthou hom met dankbaarheid en deernis.”
Die funksie begin om 18:00. Navrae: 013-741-5294.

Meer oor Innibos, insluitende die volledige program, hier

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button