Innibos: Nuwe busdiens bring feesplesier

Albei busse vertrek vanaf Gauteng, maar daar is ook opklimplekke vir feesgeeste in Bronkhorstspruit, Witbank en Middelburg.

MBOMBELA – Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees en JB Train Tours het vanjaar ‘n gesellige én bekostigbare oplossing om die klein jakkalsies wat met ‘n kunstefees gepaard kan gaan, soos verkeersopeenhopings en duur verblyf, hok te slaan met twee vyfdag-bustoere vanaf Gauteng na die stad.

Vir meer nuus oor Innibos, kliek hier.

Boonop is die toegangskaartjies van die fees, wat die Fiësta-toekenning as die gewildste kunstefees landwyd verower het en vanjaar vanaf 29 Julie tot 2 Julie plaasvind, by die toerprys ingesluit, sodat jy niks van die opwinding op die feesterrein hoef mis te loop nie.

Verblyf is in die netjiese koshuise van Hoërskool Nelspruit en jy kan ‘n enkel- of dubbelkamer vir twee bespreek. Dié koste, asook vervoer tussen die koshuis en die feesterrein, is ook ingesluit.

Albei busse vertrek vanaf Gauteng, maar daar is ook opklimplekke vir feesgeeste in Bronkhorstspruit, Witbank en Middelburg.

Die eerste een vertrek op Woensdag, 29 Junie om 09:00 vanaf Hillfox Mall in Weltevredenpark, Roodepoort. Die oplaaitye is onderskeidelik om 10:00 en 11:00 by Johannesburg se Parkstasie en Rhodesfield Gautreinstasie in Kempton Park.

Pretorianers kan die tweede bus haal wat ook op Woensdag, 29 Junie om 09:00 van Centurion Gautreinstasie vertrek; om 09:30 vanaf Pretoria Gautreinstasie en 10:00 vanaf Hatfield Gautreinstasie.

Daar is genoeg en veilige parkering by die onderskeie Gautreinstasies. Dié koste word uit die feesgangers se eie sak betaal.

Aankomstyd in Mbombela is vanaf 16:00 – net betyds om lekker op te warm vir die aand se Huisgenoot Afskopkonsert. Elvis Blue, Dewald Wasserfall, Kurt Darren, Nicholis Louw, ADAM, Joseph Clark, BlackByrd, Arno Jordaan, MoniQue en Ampie sal daar optree.

Buiten elke aand se hoofkonsert is daar vier gratis kuierverhoë op die feesterrein, die allergewilde Bosmôl met meer as 60 nuwe stalletjies waar jy inkopies kan doen, Kuns Innipark, die ATKV-boekwinkel, en kosstalletjies om die honger by te stil – kortom: heeldag se vermaak.

Indien jy egter van die toneel- en sangvertonings wil bywoon wat elders as die feesterrein aangebied word, moet jy daardie kaartjies vooraf by Computicket bespreek en is dit uitgesluit by die toerprys. Die volledige produksieprogram is by www.innibos.co.za.

Die Bossewa-pendeldiens bied vervoer van en na die feesterrein en onderskeie venues teen slegs R10 per rit aan.

Jy hoef geen hoofbrekens te hê om die feesverkeer te trotseer nie: JB Train Tours se busse sal tydens die feesdae (van Donderdag, 30 Junie, tot Saterdag, 2 Julie) om 12:00, 15:00 en 17:00 van die koshuis na die feesterrein vertrek en 23:00 (of 30 minute ná die einde van die hoofkonsert) terug van die feesterrein na die koshuis. Daar is ook twee publieke busse beskikbaar wat daagliks om 10:15 en 18:00 die roete bedien.

Hoërskool Nelspruit is sowat 2,4km vanaf die feesterrein. Die koshuis word omring met netjiese tuine en as jy nie jou oefenprogram wil onderbreek nie, is daar meer as genoeg veilige plek vir ‘n stewige stap- of drafsessie op die sportvelde. Elke kamer het twee beddens elk, kaste (bring ‘n slot saam) en feesgangers kry ‘n kamersleutel teen R50 deposito. Die badkamers met baddens en storte – mans en vroue op verskillende vloere – is besonder netjies en ruim.

Hoewel geen etes deur JB Train Tours verskaf word nie, sal daar kookwater, koffie, tee, melk en suiker in elke gang beskikbaar wees. Bring ‘n beker en teelepel, en sommer ook beskuit en koekies saam.

Die warm Laeveldse winters is nie verniet een van dié aantrekkingskragte van die streek nie, maar pak genoeg warm goed vir die aandvertonings in.

Albei bustoere vertrek weer op Sondag, 3 Julie, om 10:00 van die koshuise en sal vanaf 16:00 terug in Gauteng wees. Die bonus is dat jy al die verlore slaaptyd kan inhaal op die bus en uitgerus tuis opdaag.

Koste vir die JB Train Tours se Innibostoer is R2 950 per persoon wanneer twee mense ‘n koshuiskamer deel, en R3 830 indien jy verkies om alleen in ‘n kamer te oornag. Laerskoolkinders wat ‘n kamer met ‘n volwassene deel, betaal R200 per persoon minder.

Die volle toergeld is nou reeds betaalbaar. Besprekings sluit op 31 Mei of sodra die busse vol is. Moenie gras onder jou voete laat groei nie, want plek is uiteraard beperk.

Onthou om beddegoed en handdoeke in te pak (en ‘n badprop vir die wis en onwis). Bagasie per bustoerganger word beperk tot een tas en een stuk handbagasie sowel as beddegoed. En klink maar die glasies eers teen aankomstyd; geen alkohol word op die bus toegelaat nie.

Vir meer inligting en om te bespreek, stuur ‘n e-pos na JB Train Tours by info@jbtours.co.za of skakel 0861-52-86-87 of 011-913-2442.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button