Modder en Bloed van vandag af te sien

Die rolprent Modder en Bloed teen die agtergrond van die Anglo-Boereoorlog spog met 'n nasionale en internasionale rolverdeling en is van vandag af in teaters te sien.

Die sterbelaaide plaaslike rolprent Modder en Bloed is uiteindelik hier en is van vandag af in teaters te sien.

Dit film vertel die verhaal van ‘n groep Anglo-Boereoorlog gevangenes op St. Helena-eiland, hul ontberings, uithouvermoë en die dapper aanvaarding van ‘n uitdaging.

Bekende plaaslike akteurs Stian Bam, Altus Theart, Edwin van der Walt, Grant Swanby, Bok van Blerk, Deon Lotz, David Louw, Albert Maritz, Michael Richard, Jacques Bessenger, Albert Pretorius is van die groot name wat in hierdie epiese film te sien is.

Die film spog ook met Britse sterre in die rolverdeling – Charlotte Salt (bekend vir haar rolle in Beowulf en The Tudors), Patrick Connolly (bekend vir Inferno en Crushed), Nick Cornwall (bekend vir Blood Loyal en Retribution) en Josh Myers (bekend vir The Sweeney en Anti-Social).

Modder en Bloed is geskryf deur Sean Else en hy is ook die regisseur. Die fliek is vervaardig deur Llewelynn Greeff, Henk Pretorius en Sean Else.

Fliekgangers ook uitsien na ’n besondere klankbaan en kan solank luister na die temalied, Modder en Bloed, gesing deur Bok van Blerk.

Kyk hier na die video:

Dié liedjie is maar net ’n voorsmakie van die emosiebelaaide musiek wat op die klankbaan te hoor sal wees.

Die film speel af in 1901 teen die agtergrond van die Anglo-Boere-oorlog. Dit vertel die verhaal van ’n Boer, Willem Morkel, wie se vrou en enigste kind deur Britse soldate vermoor word

Hy word as krygsgevangene weggevoer. Hy en mede-gevangenes aanvaar ’n aanbod wat tot die belangrikste wedstryd van hul lewens lei.

Hierdie is voorwaar een van die grootste musiekvrystellings van 2016. As ’n mens kyk na die lys van name betrokke by die skryf en produksie van die album is dit ook geen wonder nie.

Sean Else, wie se naam ook op die regisseurstoel verskyn, en sy goeie vriend Johan Vorster het die A-lys van plaaslike liedjieskrywers nadergehark.

Liedjies uit die pen van Christoph Kotzé en Pierre le Roux kan gehoor word. Boonop is al die liedjies oorspronklik en spesifiek vir die klankbaan geskryf. Quinn Lubbe se bekwame hand die musiek van die film behartig.

Benewens die temalied, is die ander liedjies op die klankbaan geïnspireer deur die storielyn an raak elke lied aan ’n ander tema en aspek van die Anglo-Boere Oorlog.

Corlea se lied Uit klip getap hanteer die krag van ’n vrou wat ook die liefde van haar lewe verloor het. Dan is daar Adam Tas se O My Kind oor die pyn en skuld van ’n manwat voel hy het nie genoeg gedoen om die dood van sy kind te voorkom nie.

Karlien van Jaarsveld en Dewald Wasserfall se duet 1 000 Kerse gaan oor liefde wat aanhou brand al gebeur wat ookal.

Gerhard Steyn se Paul Roos handel oor die legendariese kaptein en sy eerste Springbokrugbyspan wat oorsee gaan toer het.

Ghapi se Blood and Glory raak aan die donker kant van oorlog. Niemand wen eintlik nie. So is elke lied anders, maar elkeen diep gedoop in die temas van die oorlog en hoe dit mense toe geraak het, en nog steeds doen.

Staan gereed vir ’n rolprent en ‘n klankbaan wat sy merk gaan maak en mense opnuut gaan laat besef dat ’n mens enige probleem te bowe kan kom.

Kyk hier na die lokprent:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

 

Related Articles

Back to top button