Woer-woer; Bobby voor en Arno agter by die Argus

Die speke gaan klap by die Argus.

Die Pretoriase sangers Bobby van Jaarsveld en Arno Jordaan gaan Sondag vir ‘n tweede keer die moordende Argus-fietsroete in Kaapstad aanpak.

“Bobby sal seker weer soos gewoonlik ver voor my trap. Dit maak my vies, want hy (Bobby) het net een spinning-klas voor die Argus gedoen en hy het vir my weggery,” het Jordaan Woensdag gespot.

Maar die keer gaan die twee trappers nie vir die lekkerte die speke laat woer nie – hulle gaan dit vir liefdadigheid doen.

Jordaan en Van Jaarsveld het vroeër die week aangekondig dat hulle, in samewerking met Jacaranda FM se Good Morning Angels-projek, gaan poog om geld vir twee behoeftige studente in te samel.

Marina du Toit, ‘n enkelma en musiekonderwyser van Pretoria, het Good Morning Angels genader in die hoop dat ‘n barmhartige Samaritaan tot die twee sterkinders se redding kan kom.

Lucinda (19) en Gustav (23) Kruger het hul ouers in 2013 in ‘n motorongeluk verloor, kort nadat Lucinda haar matriekeksamen geskryf het. Lucinda en Gustav word beskryf as hardwerkende, ambisieuse studente wat graag suksesvol wil wees, maar ‘n nypende geldtekort kortwiek hul drome.

Hul verhaal het Van Jaarsveld en Jordaan so aangegryp dat hulle besluit het om vir die twee studente te trap.

Jordaan het sowat drie jaar gelede begin fietsry, maar het dit eers verlede jaar as sport begin beoefen. “Ek het dié jaar nie so hard geoefen soos verlede jaar nie.”

Die Argus-roete van 108km is vanjaar verkort weens die verwoestende bergbrande wat die afgelope vier dae woed. ‘n Groot gedeelte van die roete waardeur die fietsryers gewoonlik ry, is deur die brand verteer.

Hieroor sê Jordaan: “Ons is nogal teleurgesteld, want die mooiste deel van die roete is daar deur Houtbaai, maar dit is nou buite ons beheer.”

Jordaan en Van Jaarsveld hoop om meer as R10 000 vir die studente in te samel. “Ons sal dit waardeer as die publiek ons per kilometer kan borg,” sê Jordaan.

Vir inligting e-pos Jordaan by arnojordaancharity@gmail.com

Vir meer nuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

‘Like’ ons Facebook blad en volg ons op Twitter.

Related Articles

Back to top button