Ek kry steeds vlinders in my maag voor optredes

Corlea het met Rekord gesels oor haar passie vir musiek en hoe sy dit geniet om haar musiek met Suid-Afrika te kan deel.

Die einde van die jaar kruiper al hoe vinniger nader en aanhangers tel reeds die dae tot die afskop van die Afrikaans is Groot-konserte. Een van die goue stemme wat op die verhoog te sien sal wees is die Afrikaanse sangsensasie Corlea.

Sy is bekend vir haar treffers, Swart koffie en Sonvanger, maar het ook al verskeie liedjies opgeneem saam met kunstenaars soos Steve Hofmeyr en Nicholas Louw.

Rekord het met haar gesels oor haar loopbaan sover en wat sy volgende beplan.

Wat is jou gunsteling liedjie van jou loopbaan sover en hoekom?
Dis ‘n strikvraag! Ek sal altyd ‘n sagte plek hê vir my laaste soloalbum, Wie Ek is, want ek het die titelsnit self geskryf en was ook mede-skrywer van ‘n paar ander liedjies. En natuurlik bly Swart Koffie een van my gunstelinge! Dit was ‘n ongelooflike voorreg om iets uit Johan Vorster se pen te kan vertolk.

Waar kry jy jou inspirasie?
Ek kry my inspirasie in alles om my. Die grootste geskenk is om tussen my vriende en familie (my hartsmense) te wees, juis omdat ek nie altyd geleentheid kry om tyd saam met hulle te spandeer as ek so baie op die pad is nie. Wat my ook inspireer is mense met groot talent wat nederig is. Daar is te veel kunstenaars op selfgemaakte troontjies, maar mense met ware talent wat dit nie eers besef nie en dit doen omdat dit hulle passie is, is ‘n ware inspirasie vir my.

Wat is die grootste uitdaging/hoogtepunt om ‘n bekende kunstenaar te wees?
Dit is elke keer vir my ‘n uitdaging om op te tree, want mens is nét so goed soos jou laaste optrede, en ek kry stresvlinders in my maag voor elke vertoning. Aan die einde van die dag wil ek net hê dat die gehoor die vertoning geniet en vir ‘n rukkie vergeet van die regte lewe. As iemand aangeraak word is my missie vervul.

Hoe balanseer jy jou persoonlike en professionele lewe?
Ek is baie uitgesproke en oop op die verhoog, maar is baie stil en skaam. Die oomblik wat ek in my kar klim en wegry van die konsert af, skakel ek af. Ek is steeds dieselfde persoon, en ek sal nooit fake kan wees nie, omdat ek uit my eie emosies my liedjies vertolk. Maar mens moet daardie fyn lyn kry om alles te balanseer.

Wat is volgende vir Corlea (kan ons binnekort ‘n nuwe album, toer of musiek video verwag)?
Ek toer die héle jaar lank en dit is so ‘n groot voorreg. Ek werk ook tans aan ‘n album saam met Coleske Artists en die land se beste skrywers, so ek is vrek opgewonde.

Wat was die hoogtepunt van 2014 vir jou (sover)?
My optrede by die GHOEMA-toekennings was vir my ‘n groot oomblik, asook om weer saam met Nataniël te werk, want hy is ‘n ongelooflike kunstenaar, leermeester en mens. Dit is regtig ‘n voorreg vir my om hom ‘n vriend te kan noem.

Hoe voel dit om deel te wees van die Afrikaans is Groot-konserte en hoe lank is jy al daarby betrokke?
Ek is al van 2012, die eerste jaar, by die konsert betrokke en dit is ‘n groot voorreg vir my. Dit is die grootste konsert in Afrikaanse musiek, en ek word die geleentheid geggee om elke jaar die verhoog oor te neem en ‘n tikkie drama te gee aan die konsert. Ek lewe daarvoor!

Het jy enige spesiale boodskap vir jou aanhangers?
My aanhangers het my lewe verander. Daar was ‘n tyd in my lewe toe ek gedink het al die negatiewe kommentaar sou my loopbaan kelder.

Groot was my verbasing en dankbaarheid toe die publiek soos een man vir my laat weet op elke moontlik platform dat hulle my musiek koester en ondersteun, maak nie saak wat nie.

Ek weet dat ek niks sal wees sonder my aanhangers wat albums koop en konserte bywoon nie.

Ek maak musiek, nie nét om my dankbaarheid te betoon en om eer te bring aan Die Een wat my talent aan my toevertrou het nie, maar ek sing vir my aanhangers.

Vir meer musiekvideos van Corlea klik hier of volg haar op Twitter vir meer nuus.

 

Related Articles

Back to top button