Lianie May terug met ‘n juweel van ‘n treffer

Aanhangers van Lianie May kan uitsien na 'n nuwe CD, binnekort op die rakke.

In die Afrikaanse musiekbedryf is Lianie May so bekend as kan kom en een luister na haar nuutste album, Naweeklyfie, wat binnekort op winkelrakke beskikbaar sal wees, sal jou laat verstaan hoekom.

Die album spog met 13 lekker luisterliedjies en aanhangers sal nie kan help om nie saam te sing nie. Luister gerus na die titelsnit Naweeklyfie, Noodlanding, Kiepie en Kandas en Onweerstaanbaar. En dan is daar natuurlik die stomende musiekvideo vir die titelsnit, ‘n duet saam met Jay, wat as bonusmateriaal by die album ingesluit is om na uit te sien.

Dié video is in Kimberley verfilm en verwys in regte wilde weste-styl speels na die ontstaan van die myndorpie. Jay speel die rol van ‘n tronkvoël wat gehang moet word en Lianie wat soos ‘n wafferse heldin tot haar geliefde se redding kom. Lianie vertel hoe sy en Jay die toneel waar hy agterop haar perd moes spring na vele probeerslae en gelag uiteindelik reggekry het. “Ons het lekker vir mekaar gelag maar soos hul sê, aanhouer wen, so ons het dit darem uiteindelik reggekry.”

Jay en Lianie is ook agter die skerms en weg van die mikrofoon goeie vriende en Lianie vertel dat sy en haar verloofde, Barry Pretorius, en Jay se vrou, Mia, gereeld saamkuier.

“Ons is regtig duetvriende en -sangers. Ek werk altyd so lekker saam met Jay, hy is ‘n maklike mens. Ons kan mekaar terg en vir mekaar lag as dinge tydens verfilming nie soos beplan verloop nie, maar ons kan mekaar ook bystaan,” het Lianie vertel.

Om glansryk op ‘n perd se rug te lyk is beslis nie kinderspeletjies nie. “As daar moeilike tonele is, veral met diere wat jy glad nie ken nie, en jy moet byvoorbeeld deur ‘n dam water loop, dan bid en hoop jy net alles werk uit soos dit moet,” lag sy.

Jay en Lianie gaan November weereens op die verhoog pryk by die Afrikaans is GROOT musiekkonsert wat hierdie jaar groter as ooit gaan wees.

Volg Rekord vir meer besonderhede oor Afrikaans is GROOT.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button