Joshua na die Reën gesels toekomsplanne

Joshua na die Reën gesels met Rekord oor sy Ghoema-toekennings en toekomsplanne.

Joshua na die Reën is nog ’n nuweling in die musiekbedryf, maar hy het vinnig naamgemaak toe hy onlangs twee Ghoema-toekennings vir Beste Nuweling en Beste Kontemporêre Album deur ’n Man gewen het.

Rekord het die geleentheid gekry om met Joshua na die Reën, eie aan Rietondale, oor sy toekennings en sy toekomsplanne te gesels.

Hoe het jy gevoel toe jy vir die Ghoema-toekenning genomineer is en toe met twee toekennings weggestap het?

Omdat ek eers onlangs die musiekbedryf met my eie musiek betree het, was dit ’n ongelooflike verrassing toe ek die nuus ontvang. Ek onthou ’n dankbaarheid wat oor my gekom het, en ook ’n tevredenheid. Om in ’n kategorie benoem te word saam met groot name was ’n eer, maar om te dink dat ek sou wen was ’n ander storie. Toe hulle my naam lees, was die oomblik te groot. Ek kon skaars ’n woord uitkry en toe vergeet ek boonop vir wie almal ek wou dankie sê.

Is Joshua na die Reën jou eerste album? Vertel ons meer oor die album en van waar jy jou inspirasie kry?

Ja dit is my eerste album, en selfgetiteld omdat die liedjies op die album ’n beskrywing is van oomblikke wat baie sentiment dra. My inspirasie het ek van so ’n wye verskeidenheid plekke en dinge afgetap, maar ek dink die twee wat ek altyd sal wil noem is die natuur en die mense rondom my.

Wat is jou gunsteling snit op dié album?

Ek moet eerlik wees en sê dat elke liedjie ’n baie spesiale plek in my hart het, maar nou en dan verander die een wat vir my die meeste beteken. Ek neem aan dit hang seker af van die seisoen waarin ’n mens is, maar Dra die Liggies beteken deesdae vir my so baie. Ek onthou nog die aand in Freiburg, Duitsland. Dit was ons laaste aand van ons Europa-vakansie, ek, my vrou Danel en my twee broers het besluit om deur die Swartwoud terug te stap na ons kampplek toe. Toe ons die woud binnegaan was daar ewe skielik miljoene vuurvliegies rondom ons. Ek het besef mense is soms vir my soos liggies in ’n woud. Sommige mense kan die pad deur die woud baie meer sigbaar maak.

Wie is jou inspirasie en hoekom?

Daar is so baie, maar in hierdie stadium luister ek gereeld na Florence and the Machine, Coldplay en One Republic. Musiek is nog altyd vir my die oomblik waarin mens iets kan vasvang wat kosbaar is.

Wat is jou volgende mylpaal of uitdaging wat jy wil aandurf?

Ek het groot drome. Ek lewe soms in my eie verbeelding en daarom is dit vir my lekker om te droom. Ek wil baie graag vanjaar met optredes begin en aan my volgende album werk. Die orkes gaan ook lekker toer en die wêreld verken.

Waar is jou volgende optredes?

Op 23 Mei by Laughing Chefs-restaurant in Soutpansbergweg, Rietondale en op 27 Junie by die Blou Hond in Lynnwood.

 

Related Articles

Back to top button