Digters huldig Koos Doep

Die werk en inspirasie wat deur die legendariese liedjieskrywer en digter Koos du Plessis agter gelaat is, het weer herleef tydens ’n huldeblyk aan hom by Railway Café Donderdagaand.

Digters en musikante het Donderdagaand by die Railway Café in Irene bymekaar gekom om ‘n huldeblyk te lewer aan die legendariese digter en liedjieskrywer Koos du Plessis, wat op 15 Januarie 1984 in ‘n motorongeluk oorlede is.

Koos het diep wortels in die Afrikaanse liedjieskat getrap met onder andere Kinders van die Wind en Sprokie vir ’n Stadskind. Laurika Rauch het Kinders van die Wind bekend gestel toe dit in die vroeë 80’s die kenwysie van die televisiedramareeks Phoenix & Kie was. Die wêreldbekende Franse pianis Richard Clayderman het die musiek ook destyds opgeneem.

David Steyn, oftewel Karel Kopbeen (sy verhoognaam), het drie jaar gelede die leisels by sy vriend en mentor, Andries van Pretoria, ook bekend as Abjater Ronkedoor, oorgeneem om die Dowe Digters uit te brei. Dowe Digters is aanvanklik as ’n Facebookgroep deur Van Pretoria gestig, maar het sedertdien sy plek op Pretoria se geleentheidskalender gevind. Hulle tree die laaste Donderdag van elke maand by Railway Café in Irene op.

Die idee is om ’n platform vir musikante en digters te skep waar hulle hulself en hul werk kan uitleef. “Dowe Digters sinspeel op die konsep dat kunstenaars ‘n geleentheid gegun is waar hul werk nie op dowe ore val nie,” het Steyn gesê.

Dit was die groep se eerste byeenkoms vanjaar. “Ek dink Koos is die mees prominente voorbeeld waarvoor Dowe Digters staan omdat hy digkuns sowel as lirieke in sy werk gekombineer het,” het Steyn gesê. “Ek dink dis die beste tema om 2014 mee af te skop.”

Langs die spoorweë in Irene het die klanke van kitaarsnare en poëtiese woorde deur die nag getoer.

Gideon Joubert het eerste ‘n gedig wat hy aan Koos opgedra het, gelees. As jong seun was Joubert al ’n groot aanhanger van Koos. “Sy hele wese het in my geprikkel. Toe ek vir die eerste keer na sy lirieke geluister het was ek skielik vry in myself, en na al die jare inspireer sy werk my steeds.”

Die aand het geëindig met Pretoria-musiekgroep Die See wat hul eie weergawes van Koos du Plessis se liedjies gespeel het. Hul unieke klank het nuwe lewe gegee aan ’n geliefde digter en sanger wat in die gees altyd saam met die Afrikaanse kultuur sal leef.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button