Lifestyle

Rudi Claase hoop om siele te verkwik met nuwe vertoning

Min skrywers kan spog dat hulle werk internasionale platforms bereik het.

Die liedjieskrywer, musikant en sanger van Rynfield, Rudi Claase, het geen bekendstelling nodig nie en binnekort toer hy die land plat met sy nuwe vertoning, Van my wysie af.

As jy vir Rudi Claase nie self ken nie sou jy al vir seker een van sy liedjies gehoor het want 700 Afrikaans- en Engelse treffers het al uit sy pen gevloei.

Sy laaste album, wat heel gepas Liedjieskrywer heet, was ‘n kommersiële sukses. Met hierdie album het die sanger nie net sy veelsydigheid as liedjieskrywer en musikant gewys nie, maar hy het ook ‘n kant vir die publiek gewys wat min al gesien het en dit is getoonset in die doodeerlike lirieke van die snitte wat op die album is.

“Ek vier hierdie jaar my 21 jaar in die musiekbedryf en in hierdie werk vier ek die goed, die sleg, die vreemd en die ontnugtering,” het die sanger vertel.

Verder is hy heel ernstig wanneer hy sê, “soms raak almal van hulle wysies af”.

Dié konsert gaan veel verder as net ‘n sanger wat op ‘n verhoog klim en van die liedjies sing wat hy vir ander groot name in die bedryf geskryf het. Hy maak geen geheim daarvan dat hy self met bipolêre gemoedsversteuring sukkel nie en was al verskeie kere in die media hieroor.

“Depressie is niks om oor skaam te wees nie. Reik uit, praat met iemand. Om in stilte te ly is nie die antwoord nie.”

Die talentvolle sanger hoop om met die konsert mense se harte te beweeg en om siele te verkwik met werke wat direk uit die hemele vir hom gegee is.

“Ek dink ook dat die ‘waarheid’ agter soveel stories oor my (in die media), ‘n plekkie in die son moet bekom. Ek hoop om ‘n nuwe wysie van hoop in elke hart te plaas wat dit bywoon,” het hy opgewonde vertel.

Min skrywers kan spog dat hulle werk internasionale platforms bereik het. Vele van Rudi se liedjies word in Nederland en Duits vertaal.

“Die grootste sukses hiervan is die Nederlandse sangsensasie, Belinda Kinnaer, wie my lied Sewe Oseane in Nederland vrygestel het. Dit was ‘n direkte vertaling en het gou nommer een behaal,” vertel die sanger trots, wat ook saam met haar in Nederland getoer het.

Met liedjies soos Tussen woorde, Sewe Oseane, Engele, Pêrels, As ek sing en nog vele meer, hoop Rudi om in sy nuutste vertoning mense op ‘n reis in sy persoonlike lewe te neem. Hy gaan staaltjies deel van hoe die liede geskryf is en waar dit vandaan kom.

“Ek gaan sit en dadelik word ‘n liedjie geskryf, maar die werklike liedjies wat saakmaak word deur God vir my geleen,” het die bekroonde skrywer vertel.

Die eerste vertoning vind plaas op 14 Februarie by die Barkley Street Theatre in Uitenhage en beloof om die begin van ‘n musikale reis te wees waar Rudi vir sy aanhangers nie ‘n deel van sy persoonlike lewe en hart wys nie, maar hulle toelaat in die diepste kamers van sy siel.

Vir meer besonderhede kontak Suzette by sue@rudiclaase.com of skakel 082 416 8204

Lees Ook: Rudi Claase vier Vrouedag

Lees Ook: Rudi Claase vir 21ste jaar in die musiekbedryf

   

Related Articles

Back to top button