Lifestyle

Wen ‘n kopie van Steve Hofmeyr se nuutste roman

Met sy vierde roman, Laaste dans, Drienie, kom Steve Hofmeyr se skryf vernuf weereens navore, hetsy dit musiek, gedigte of romans is wat hy skryf.

Resensent: Ischke de Jager

Boek: Laaste Dans, Drienie

Skrywer: Steve Hofmeyr

Uitgewer: Random Struik, Zebra Press

Beoordeling: ‘n Spanningsverhaal wat die leser aanhoudend aan die raai hou en saam die karakters se omstandighede en denke worstel. Die skryfstyl herinner ook aan dié van ‘n Afrikaanse taal-junkie, en bevat elemente wat die leser meevoer na die tyd waarin die kakakters leef.

Sy woordspeling en keuse, verduidelik hierdie stelling dwarsdeur die verhaal.

“Dis ‘n vroom herfsoggend. Dweperig. Soos Maart is,” begin die roman.

“Sy hou haar voor as somer, maar daar’s winter in haar mou. Sy vang ons nie onkant nie. Ons ken haar so. Sy maak groot bohaai, gooi donder, slat bliksem, blaas wind en stoot oplaas enkele vermoeiende druppels oor ‘n dor Pretoria uit. Daarna speel sy weer somer tot die son sak. Jy weet nie hoe jy dit met haar het nie.”

Laaste Dans, Drienie, is een van daardie romans wat belaai is met spanning en die leser permanent in verwondering laat.

Toe Oscar Pistorius blosend in die gange van die Brooklyn-polisiestasie by luitenant Muller Joubert verbyloop, was Muller seker dat daar in jare nie so ‘n bisarre saak was nie, en daar nie gou weer so een sou wees nie.

Hy was verkeerd.

Daar was reeds, en hy was in die middel daarvan.

In die omgewing van die liefde is niemand se hart veilig nie – dit weet Muller alte goed, want die meisie (ook ‘n kollega) wat hy liefhet, is blykbaar nie vir hom beskore nie.

En dan kom vertel ’n tannie hom van haar laaste dans in 1941.

Twee broers, een oorlog, een liefde, een kans, en ’n liefdesverhaal wat reeds 70 jaar wag om vertel te word.

Spanning ontstaan egter wanneer die twee broers teen mekaar veg tydens die Barbarossa missie.

Die roman spring rond tussen twee tydperke: Voor en nà die Tweede Wêreldoorlog en 2013.

Albei tydperke vleg egter inmekaar en die verlede verduidelik natuurlik die hede in die verhaal.

Dit skep amper die illusie van twee stories wat vertel word: Dié van tant Drienie, en dié van Muller en die meisie op wie hy verlief raak.

Deur die loop van die verhaal is daar dus twee situasies wat lesers aan die raai hou en waarmee Muller ook worstel.

’n Mens wonder of ’n liefdesverhaal tussen Muller en die meisie sal ontwikkel, en wat dit is wat tant Drienie in die twintigste eeu gedoen het waarvan sy beskuldig word.

Laaste Dans, Drienie is vir enige boekwurm wat daarvan hou om heeltyd aan die raai te wees, en saam die karakters wil struwel, en vir ‘n oomblik van hul eie struwelinge wil vergeet.

Een gelukkige leser staan ’n kans om ’n kopie van Steve Hofmeyr se roman, Laaste Dans, Drienie, te wen. Beantwoord die volgende vraag: Laaste Dans, Drienie, is die hoeveelste boek wat Steve Hofmeyr geskryf het?

SMS die woord “Dans”, gevolg deur jou naam en dan jou antwoord, na 35718 teen 10 Junie.

SMSe kos R1.50 elk. Die wenner sal telefonies gekontak word.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button