Groot skade ná brand by 112-jarige Vrystaatse skool se koshuis

Laerskoolseuns verloor alles in verwoestende brand by die Gekombineerde Skool Sarel Cilliers se koshuis. Die oorsaak is nog onbekend.

‘n Verwoestende brand het vanoggend kort ná die aanvang van die skooldag in die seunskoshuis van Gekombineerde Skool Sarel Cilliers in Koppies in die Vrystaat uitgebreek. Die koshuisvleuel waarin die laerskoolseuns gehuisves was, is in puin gelê. Die oorsaak van die brand word steeds deur forensiese kundiges ondersoek.

Duan Jonker van Koppies Landelike Beveiliging en Theuns Botha van ITU Emergency Assist sê hulle het die noodoproep om 07:30 ontvang. Verskeie boere, lede van die Greenlands Boerevereniging, die gemeenskap en die polisie het daarna na die skool gehaas. Buurskole het vinnig brandblussers verskaf, en daar is groot dankbaarheid vir almal se hulp.

Omdat die skooldag reeds aan die gang was, was geen van die 66 koshuisinwoners op die perseel tydens die brand nie, en niemand is beseer nie.

Foto’s: Natasha Smalberger.

Die brand het vinnig deur die een vleuel versprei wat heeltemal vernietig is, sê Jonker, maar danksy ‘n vuurmuur is die tweede vleuel, waarin die kombuis en die hoërskoolseuns se kamers geleë is, gespaar. Die vlamme in die plafon het egter die brandbestryders se taak aansienlik bemoeilik.

Die meisies bly in ‘n aparte koshuis en is intussen na die boonste verdieping geskuif, sodat die seuns tydelik op die onderste vloer gehuisves kan word.

Die laerskoolseuns wie se kamers in die brand vernietig is, het alles verloor en daar is dringend hulp benodig in die vorm van toiletware, klere, komberse, kussings en matrasse vir die seuns, wat tussen ses en 14 jaar oud is. Skenkings kan by die skool se kantoor afgelewer word.

Foto’s: Natasha Smalberger.

Die skool, wat vanjaar sy 112de bestaansjaar vier, het tans 692 leerders van graad R tot graad 12.

Die ou seunskoshuis is in 1928 gebou en bestaan nie meer nie, vertel ’n oudleerder. Die koshuis wat deur die brand verwoes is, het voorheen as die dogterskoshuis gedien. Die huidige dogterskoshuis, wat in die laat 1960’s gebou is, staan steeds.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button