Verlore hond in Swartbergpas gered

‘n Weldoener het vir dae onverpoos na die verskrikte hond gesoek nadat hy hom die eerste keer gesien het.

‘n Roerende storie van uithouvermoë en spanwerk het die week ontvou toe ‘n hond, wat later Prins Arlo gedoop is, in die Swartbergpas, tussen Oudtshoorn en Prins Albert gered is.

Arlo, wat vermoedelik deur sy eienaars in die pas versaak is, is die eerste keer op 28 September deur dr. Garrett Eriksen (38) en van sy kollegas gewaar toe hulle ‘n geologietoer deur die pas meegemaak het. Eriksen is die seun van die eienaar van Cango Wildlife Ranch en werk daar as mediavervaardiger.

Eriksen vertel hulle het omstreeks 10:30, ongeveer 2 km voor Kobus se Gat, ‘n benoude hond opgemerk wat alleen langs die pas rondloop.

Dr. Garrett Eriksen. Foto: Verskaf.

“Die hond het verlore en bang gelyk, en ons het dadelik probeer om hom te nader om te kyk of hy oukei is, maar hy het in die bosse verdwyn. Ek het die volgende dag, ‘n plasing op die Facebook-groep, Oudtshoorniete Staan Saam, gesien van nog ‘n persoon wat die hond opgemerk het. Ek het toe geweet dat hy waarskynlik deur sy eienaars daar agtergelaat is.”

Eriksen het Sondag begin om na plaaslike dierewelsynsorganisasies uit te reik en om hulp gevra.

“Vanessa Engelbrecht van Animal Care Team SA (ACT) het my gehelp om met Prins Albert Dieresorg (PADS) in verbinding te tree en ‘n soekgeselskap is vir Maandag 30 September gereël.”

Eriksen het spesiaal verlof geneem om sy soektog na die hond voort te sit, maar die ongure weerstoestande het die poging gekniehalter en PADS kon nie in die gietende reën oor die pas ry nie.

Eriksen het egter met die soektog voortgegaan en ure lank gesoek. Hy het ook met plaaslike inwoners gesels en later sy nommer vir van die mense met wie hy gepraat het gegee. Hulle het ingestem om hul oë oop te hou vir die hond.

Dinsdagoggend het ‘n boer gebel en aan Eriksen gesê dat hy die hond gesien het.

“Ek het intussen ook met Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) kontak gemaak wat van George op pad was om met die soektog te help. Ek het geweet dat hulle nog ‘n tydjie gaan neem om daar te kom en ek het dadelik gery voordat die hond weer verdwyn.

“Met hul aankoms het ons saam begin soek en dadelik voetspore gekry wat ons gevolg het, maar kon steeds nie die hond vind nie. Ek moes weer teruggaan dorp toe en Marlene Minnie en Patrick Zemba het die soektog voortgesit terwyl hulle besig was met hul uitreikprojek.”

Minnie sê dat sy en Zemba ook half boedel oorgegee het toe sy besluit het om nog by een grondpad in die area te gaan soek.

“Ons het hom einde ten laaste voor ‘n huisie in die koelte sien sit. Hy was so bang – sy stert was diep tussen sy bene ingetrek en hy was regtig net vel en been. Sy voete was rou van die loop oor die harde terrein. Die huiseienaar het bevestig dat dit nie haar hond is nie en dat hy ongeveer ‘n uur voor ons daar opgedaag het.”

Minnie sê hulle het die hond na Tantivvy in George geneem en hulle het hom Woensdagmiddag na die veearts geneem.

“Hy is gesteriliseer, en met sy mooi maniere en liefde vir bakkie ry is ek amper seker daarvan dat hy een op ‘n tyd iemand se hond was.”

Prins Arlo sal later beskikbaar wees om aangeneem te word. Intussen het Eriksen en sy familie gesê dat hulle sy veeartsonkostes en wat hy nog nodig het sal dek.

Eriksen het vroeër die maand ook ‘n hond wat in Oudtshoorn se strate gedwaal het en by Suid-Kaap Kollege geskuil het, gered.

Luna is tans by hom en ook beskikbaar vir aanneming. Eriksen kan by 071 273 8285 gekontak word.

Indien iemand Prins Arlo wil aanneem kan Odin by 072 084 1374 gekontak word.

 

Read original story on www.oudtshoorncourant.com

Back to top button