Bloemfonteinse vrou verkrag, kleinseun gesteek: Soektog verskerp

Drie verdagtes word gesoek ná die verkragting en roof van ’n 65-jarige vrou, wie se 15-jarige kleinseun in die voorval gesteek is.

Die Vrystaatse polisie het hulle soektog verskerp na drie verdagtes ná die verkragting van ’n 65-jarige vrou van Bloemfontein.

Die gru-voorval het Saterdag in die vroeë oggendure by die vrou se huis in Bergman Square plaasgevind. Die vrou het by familielede gerus ná voorbereidings vir die begrafnis van ’n geliefde, sê Vrystaatse polisiewoordvoerder Mahlomola Kareli.

Omstreeks 03:00 het drie onbekende mans, gewapen met messe, by die huis ingebreek. Die indringers is reguit na die vrou se slaapkamer, waar hulle geld geëis het.

Tydens die aanval is haar kleinseun (15), wat langs haar geslaap het, in die kop en arm gesteek. Die verdagtes het toe kontant gesteel.

Een van hulle het die vrou in die huis verkrag voor hulle haar na buite gesleep en weer verkrag het. Die oortreders het toe elektroniese toestelle uit die huis geneem voordat hulle van die toneel gevlug het.

Die vrou het om hulp geskree en bure het haar te hulp gesnel, maar die verdagtes het reeds ontsnap. Die polisie is na die toneel ontbied.

Kareli sê die polisie ondersoek sake van roof en verkragting. Enigiemand met inligting wat tot die oortreders se inhegtenisneming kan lei, word versoek om Sersant Nombi Peter van die Mangaung-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe by 083 383 6969 te skakel, of hulle naaste polisiestasie te besoek.

Lees die oorspronklike berig op OFM Nuus.

Read original story on www.bloemfonteincourant.co.za

Back to top button