Vereenging-man vrygespreek van ma se moord

Die hof het bevind dat daar geen bewyse was dat ‘n seun betrokke was by die moord op sy ma nie.

‘n Man (46) van die Houtkop-kleinhoewes in Sonlandpark, Vereenging, wat saam met twee ander mense vir die moord op sy ma (67) tereggestaan het, is gister in die rondgaande hooggeregshof in Palm Ridge vrygespreek op meeste van die aanklagte teen hom.

Grant du Toit is in Februarie verlede jaar in hegtenis geneem nadat die polisie die lyk van sy ma, Charlotte Christine Fenn, langs ‘n spoorlyn in Redan gevind het nadat sy vermis geraak en haar uitgebrande bakkie later op ‘n plaas naby Sasolburg gevind is.

Fenn, wat saam met haar werkers tuindienste aan mense in die omgewing gelewer het, is glo met haar eie pistool in die kop geskiet.

Quintin Edgar (52), en Lindsay Kirton (31), twee loseerders wat saam met Du Toit op die kleinhoewe van die oorledene gebly het, is saam met Du Toit van die moord aangekla en hul verhoor duur nog voort.

Du Toit, wat in Februarie 2023 op borgtog van R2 000 vrygelaat is nadat die enigste bewyse wat teen hom gevind kon word bloed op ‘n hemp en skoene was, het sedertdien ‘n lang stryd in die hof geveg om sy onskuld te bewys.

Die uitslae van forensiese toetse wat gedoen is, is uiteindelik, na bykans ‘n jaar, bekend en daar is geen bewyse wat Du Toit met die moord op sy ma verbind nie.

Du Toit staar egter wel nog aanklagte van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie in die gesig nadat die polisie glo ‘n ongelisensieerde vuurwapen (‘n ‘snake gun’ of tipe haelgeweer) in sy besit gevind het.

Jestus Fouché, ‘n afgetrede polisiekaptein wat Du Toit kort na die moord ondervra het, het getuig dat die Du Toit in ‘n stadium tydens die ondervraging uit die bloute ‘aggressief en baie kwaad’ geraak het en op hom begin skree het.

Volgens Fouché het Du Toit toe geskree: “Ek het nie my f*kk*n ma doodgemaak nie!”

Fouché het getuig dat hy van die geleentheid gebruik gemaak het om vir Du Toit te vra waar die moordwapen (in hierdie geval ‘n vuurwapen) was, aangesien verdagtes in sy ervaring sukkel om leuens te vertel wanneer hulle kwaad is.

Du Toit het glo geantwoord: “Die f*kk*n geweer is in my kas onder my klere.”

Quintin Edgar en Lindsay Kirton, twee losdeerders wat saam met Du Toit op die kleinhoewe van die oorledene gebly het, word steeds van die moord aangekla. Foto: Christiaan Cloete.

Fouché het toe die ondersoekbeampte gebel en gevra om vir ‘n vuurwapen in die klerekas in Du Toit se slaapkamer onder sy klere te soek, waar hulle toe ‘n ongelisensieerde vuurwapen gevind het.

Fouché sê hy was in daardie stadium vas oortuig dat dié geweer die moordwapen was. Dit was egter nie die geval nie.

Du Toit het Dinsdag, kort nadat hy vrygespreek is, na Vaalweekblad se fotograaf gestap en gesê: “Kan jy asseblief nou ophou om foto’s van my te neem? Julle het mos nou gehoor ek is nie skuldig nie. Ek vra jou mooi asseblief.”

Du Toit was reeds in hegtenis geneem en in aanhouding tydens sy ma se begrafnis.

Die saak duur voort.

Read original story on www.citizen.co.za

Back to top button