Spookvrou se beeld laat motoriste rem in Uniondale

Hoekwil-kunstenaar Ian Visser se beeldhouwerk laat soveel motoriste deesdae by Uniondale vertoef.

‘n Pragtige beeld van 2.2m wat die legende van die spookvrou van Uniondale uitbeeld, laat reisigers deesdae remme aanslaan wanneer hulle verby dié dorp wil ry.

Sedert die beeld ongeveer drie weke gelede daar staangemaak is, stop meer mense in die dorp vir koffie en om brandstof in te gooi, en dit was juis die doel van die skepper van die beeld, Hoekwil-kunstenaar Ian Visser.

Die beeld is binne die dorp geplaas soos wat ‘n mens van Willowmore se kant af inkom.

Volgens die Uniondale-sakekamer se voorsitter, André du Plessis, lei dit ook die oog van die waarnemer na die ou Engelse fort in die agtergrond wat uit 1903 dateer.

Visser sê hy het net geweet die legende van die spook kan nie geïgnoreer word nie.

“Dit sal wees soos om die Big Ben in Londen of die meermin in Kopenhagen te ignoreer. Dis al klaar aan Uniondale se naam gekoppel en is van onskatbare waarde. Geen individu of munisipaliteit sal ooit enige dorp kan bemark soos hierdie legende oor jare heen al doen nie.

“Daar word selfs na haar verwys in bekende liedjies soos Anton Goosen se Blommetjie gedenk aan my en ‘n film is al oor haar gemaak.”

Baie motoriste het oor jare heen dieselfde ondervinding by die polisiekantoor op Uniondale aangemeld: Die spookvrou staan alleen langs die N9 tussen Uniondale en Willowmore en wanneer hulle stop om haar ‘n rygeleentheid te gee, klim sy in net om ‘n ent verder te verdwyn.

Visser sê drie aspekte het uitgestaan in al die polisieverslae waarin waarnemings van ‘n spookvrou aangeteken is en hy het dit gebruik om die beeld te skep: ‘n Skielike koue in die voertuig word verbeeld deur die wind in haar hare en rok; die reuk van appels word vasgevang deur die appel in haar regterhand; en die feit dat sy telkemale verdwyn, word deur die beeld se gryswit kleur oorgedra.

“Partykeer is die Karoolug deinserig en dan is dit asof sy deel word van die agtergrond en so half verdwyn,” sê Visser, eienaar van die Cornerstone Creek-kunsgalery in Hoekwil.

Hoekwil-kunstenaar Ian Visser.

Hy meen hierdie is ‘n uitstekende geleentheid om meer verkeer wat op die N9 verbysnel, te laat afdraai om in die dorp te vertoef.

“Uniondale se ekonomie trek swaar en besighede kan nou meer reisigers bedien. In die eerste week nadat die beeld verrys het, is 300 voertuie deur die dorp getel.”

Visser meen toekomstige generasies op die dorp kan ook voordeel trek en so die ekonomie verder stimuleer. Hy beoog om werklose persone te leer om mini-afbeeldings van die beeld te maak om aan toeriste te verkoop.

“Dit kan werk skep en lewens verryk. Ek vertrou dat plaaslike besighede die geleenthede wat die beeld bied, ten volle sal benut.”

Du Plessis sê die dorp het wêreldwyd sy bekendheid te danke aan die spookmeisie. “Sy is sinoniem met ons dorp en ek dink die beeld weerspieël die storie en legende baie mooi. Ian het haar aan Uniondale se toerismeorganisasie geskenk.”

Die dorp het ook verskeie ander aantreklikhede soos die Karoo to Coast-fietswedren, die George-Mosselbaai Camino, wat tans baie gewild is, die jaarlikse saalperdskou asook lieflike 4×4-roetes in die omgewing.

Read original story on www.georgeherald.com

Back to top button