Oos-Kaapse boer in hof oor mensehandel, verkragting en kinderarbeid

Die boer is in hegtenis geneem nadat 'n taakspan 'n ondersoek geloods het ná 'n saak van verkragting in Februarie geopen is.

Die 41-jarige boer van die Aberdeen-omgewing wat sedert sy arrestasie op 3 Julie in aanhouding is, het gister weer in die hof op Aberdeen in die Oos-Kaap voorgekom.

Die saak is gister nogeens uitgestel, hangende die aanwysing van ‘n nuwe aanklaer en landdros.

Die aangeklaagde het nog nie die geleentheid gehad om ‘n formele borgaansoek voor die hof te bring nie.

Klagte teen die man strek van mensehandel, verkragting, en kinderarbeid tot intimidasie en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hy bly steeds in aanhouding op Graaff-Reinet.

Die saak is tot 27 Julie uitgestel.

Arrestasie

Volgens Adjudant-Offisier Majola Nkohli, die woordvoerder van die polisie in die Oos-Kaap, het ‘n taakspan van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in Graaff Reinet, ‘n deurbraak gemaak nadat hul uitgebreide ondersoekwerk ‘n aantal sake van mensehandel en verkragting ontbloot het.

Dit spruit uit ‘n saak van verkragting wat in Februarie geopen is.

Dié ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van die boer wat glo verband hou met minstens vyf sake van mensehandel en verkragting tussen 2020 en 2023 in die Oos-Kaap en ander provinsies.

Read original story on www.graaffreinetadvertiser.com

Back to top button