Polisie arresteer beweerde bloulig-kapers in Potchefstroom

Drie mans wat met gewapende rooftogte in Noordwes en Gauteng verbind word is in hegtenis geneem tydens 'n klopjag.

‘n Georganiseerde taakspan het gistermiddag in Chief Albert-Luthuli-weg in Potchefstroom op drie misdadigers toegeslaan wat glo by bloulig-kapings en gewapende rooftogte betrokke is.

Hierdie taakspan het bestaan uit Provinsiale Misdaadintelligensie, die Ekurhuleni Distrik Trio-taakspan, Insurance Misdaadburo, Tracker en Bad Boy Security. Die gesamentlike klopjag het ongeveer 16:00 plaasgevind toe hulle op ‘n wit Ford Ranger dubbelkajuitbakkie toegeslaan het.

Volgens Noordwes-polisiewoordvoerder Kolonel Adele Myburgh is daar inligting ontvang van verdagtes wat moontlik betrokke by bloulig-kapings en gewapende rooftogte is, wat in dié bakkie gery.

“Die verdagtes sou na bewering hulleself as polisiebeamptes voorhou en niksvermoedende slagoffers beroof en kaap, terwyl hulle met vuurwapens gedreig word,” noem Myburgh.

Dié voertuig is in Potchefstroom opgemerk en is gevolg tot by Chief Albert Luthuli-weg op die Bult, waar die span op die onvermeende verdagtes toegeslaan het.

“Tydens die arrestasie het die polisie twee vuurwapens, polisie-uniforms, insluitend ‘n weerkaatsende baadjie en ander polisietoerusting, ontdek. Die Ranger was toegerus met ‘n blou lig en sirene. Aanvanklike ondersoeke het aangedui dat die voertuig, wat met vals nommerplate toegerus is, in Ivory Park, Thembisa, gekaap is,” voer Myburgh verder aan.

Die verdagtes, onderskeidelik 43, 39 en 36 jaar oud, is in hegtenis geneem en aangekla vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom, die besit van onwettige vuurwapens, diefstal en roof.

Die trio word ook met ander voorvalle in Gauteng en Noordwes verbind. Hulle sal binnekort in die Potchefstroomse landdroshof verskyn.

Die Noordwes-polisiekommissaris, Luitenant-Generaal Sello Kwena, het die spanne bedank vir hulle samewerking, toewyding en dapperheid wat tot hierdie arrestasies gelei het.

Read original story on potchefstroomherald.co.za

Back to top button