Is geluk geneties?

Moet jy jou vrolike ouers bedank as jy altyd van geluk straal en elke lewende wese net die beste toewens?

 

Sommige geleerdes meen dat daar ’n “geluksgeen” is en dat dit vir tot die helfte van jou geluk verantwoordelik is.

Die res, meen kenners, skrywers en filosowe, is eenvoudig ’n wilsbesluit. Jy het beheer oor jou gemoedstoestand. Dis ’n keuse. Moenie ander die mag gee om jou deur ’n swart bril na die lewe te kyk nie.

Besluit eenvoudig om ’n gelukkige mens te wees – net soos wat jy besluit oor wat jy vandag gaan eet of aantrek. Dis onnodig om deur jou DNS gevange gehou te word, sê die wat weet.

 

 

 

Wat navorsing bewys

 

Sielkundiges aan die Universiteit van Edinburgh, in samewerking met die Queensland-instituut vir mediese navorsing in Australië, het bevind dat geluk deur persoonlikheidsaspekte sowel as oorerflike faktore bepaal word. Party mense het selfs ’n “gelukreserwe” waarop hulle tydens moeilike tye terugval. ’n Meta-ontledingstudie wat in 2005 aan die Universiteit van Stanford gedoen is, het getoon dat genetika ’n rol in depressie vertolk. Dit beteken egter nog nie dat ’n afwesigheid van depressie op die teenwoordigheid van geluk dui nie. 

’n Studie in 2011 het belowende bewyse gevind dat mense met ’n sekere geen, genaamd 5-HTTLPR, meer lewenstevredenheid toon. Navorsing toon ook dat sekere eienskappe soos optimisme, geluk en ’n goeie selfbeeld oorerflik is.

’n Studie waarby tweelinge van die Minnesota Twin Registry betrek is, het bevind dat nagenoeg 50% van jou lewenstevredenheid aan gene te danke is. Dit beteken dat 40% aan doelbewuste aktiwiteite en 10% aan eksterne faktore toegeskryf kan word. 

Geleerdes verwys ook na “positiewe sielkunde”. Chris Peterson, een van die stigters van die konsep, is bekend vir sy navorsing oor optimisme, gesondheid, karakter en welstand. 

Hy sê om te floreer, moet jy jouself aanvaar en empatie vir ander hê en daar is vyf faktore wat tot geluk bydra. Dit is positiewe emosies, betrokkenheid, betekenis, verhoudings, en prestasies.

Lees ook: 7 maniere hoe jy ’n beter vriendin kan wees

 

 

 

Wat die kenners sê

 

Dr Elmari Mulder-Craig, ’n psigo- en hipnoterapeut, sê geluk is nie iets wat deurlopend is nie. 

“Daar is ’n rekenaarprogram in jou liggaam wat met genetika te make het, asook hoe jy grootgemaak is. Jou omstandighede en stresvlakke praat met mekaar.”

Elmari verwys na ’n interessante studie wat oor parapleë gedoen is, wat erge trauma as gevolg van ’n ongeluk beleef het, terapie ontvang het en teruggekeer het na hul basislyn van geluk voor die trauma. 

Sy noem daar is vandag baie soorte terapie wat ons help om dieper na ons bloudruk terug te gaan. “Hipno- en gedragsterapie-veranderings kan hiervoor help. ’n Mens kan ook tegnieke aanleer oor hoe om veerkragtiger te wees,” noem sy.

Elmari stem saam met ander kenners dat jou geluk grootliks eintlik by jouself begin. Jy kan nie van ander daarvoor afhanklik wees nie.

“Proe die sjokolade, voel hoe lekker dit is om te oefen, hoe die son op jou vel skyn en hoe lekker dit is om rondom ’n bosveldvuur te sit. Gebruik al jou sintuie. Mense is so besig om te oorleef dat hulle vergeet om te leef.”

Sy sê: “Materiële dinge maak jou nie gelukkig nie. Mense wat jou onvoorwaardelik aanvaar en liefhet maak ’n verskil, asook dit wat jy vir jouself sê. 

“Ons is dikwels ons eie grootste vyand. Die gesprekke wat jy in jou kop het versterk die negatiewe neurobane.

“Vanuit my perspektief is aanraking ook belangrik, ook eenlopendes wat drukkies van vriende kry. Drukkies van 60 sekondes stel endorfiene en neuro-oordragstowwe vry wat ’n mens laat goed voel en wat ’n bindingshormoon is. Mense is eintlik maar tropdiere. Ons wil net voel ons behoort.”

 

 

Die brein en liggaam 

 

Dr Arien van der Merwe,  ’n mediese dokter, skrywer en spesialis in holistiese gesondheidsberading, spreker en opleier, verwys na die rol wat epigenetika speel.

“‘Epi’ beteken ‘meer as of belangriker as die DNS’. Dis die reseptore op die selmembraan wat onder meer die binding van ‘molekules van emosie’ beheer en dan boodskappe na die kern van elke sel deurstuur wat die gene se proteïenkodering dan bepaal.”

Lees ook: 10 wenke teen stres wat werk

 

 

 

Om dit na genetika en persoonlikheid deur te trek, noem Arien die volgende: 

 

Depressie word dikwels verdoesel. Desnieteenstaande kan genetiese toetse toon waar potensiële genetiese geneigdheid vir persoonlikheid (soos swartgalligheid, angs, ontevredenheid en onvergenoegdheid, negatiewe ingesteldheid) in neuro-oordragstowwe bestaan. Die manifestering van die bepaalde gene in sekere sielskwale kan dan voorkom word, deur die oorkoming van die genetiese potensiaal suksesvol en prakties aan te spreek. 

Die jongste kwantumwetenskapnavorsing toon dat minstens 12 stringe DNS bestaan en nie net die twee wat tans fisiek meetbaar is nie. Die ander tien stringe is die sielspotensiaal of spirituele DNS wat ’n frekwensievibrasie veroorsaak.

Die hoogste frekwensie is liefde en dit kan deur daaglikse sielswerk en transformasie die hoofbinding aan die selreseptore word, wat die funksie van fisieke DNS dan beïnvloed om te reageer deur te kodeer vir geluk en gesondheid en optimaal funksionerende selle – ons Godgegewe

erfdeel. Die Goddelike gawe is elkeen van ons se “supermag”. Elkeen van ons reageer op liefde en dit begin by selfliefde.

Al het jy ’n serotonientekort, oorskry ‘liefde’ dit en jy kan ook byvoorbeeld piesangs (ryk aan onder meer triptofaan, voorloper van serotonien), neute (pekan- en okkerneute), probiotika (95% serotonien word deur die dermbakterieë gemaak) eet.

Ons is nie die slawe van ons twee stringe fisieke genetika nie – dus kan mense gerus ophou om te sê “ek het my ma se stres of angstige geaardheid geërf”! Maar deur vas te stel waar genetiese vatbaarheid of geneigdheid bestaan, kan ons daadwerklike en hoogs doeltreffende stappe vir geluk en gesondheid neem. Onthou, ons selle ”voel” soos wat ons voel.

Dr Arien sê daar is ook gelukkige oordragstowwe en hormone met hul funksies, wat geneties bepaal kan word en doelbewus aangemoedig word. 

Lees ook: Familievervreemding: Wanneer vriende die nuwe familie word

 

 

Die eienskappe van gelukkige mense

 

Wees só gelukkiger 

Bekendes oor geluk

Sanger Jakkie Louw: “’n Mens besluit om gelukkig te bly. My ma wys nooit as sy kwaad is nie. As sy is, bly sy ’n dame en ek bly ’n heer. As iemand jou kwaad maak, vas en bid 24 uur lank daaroor. Keer die grimmigheid met ’n sagte woord af. Of loop weg en gaan skreeu langs ’n treinspoor.”

Aktrise Lizz Meiring: “Dis ’n wilsbesluit en dis belangrik om te wees en te doen wie jy is soos jy ‘bedraad’ is. Ek is bedraad om kreatief te wees, om te kan skep en dis hoe ek my lewe gekies het. Dis my suurstof en nie ambisie nie. Daarvoor is ek dankbaar. Ek is ook in wese positief en aanpasbaar. Ek glo nie aan balans nie. Dis vir balletdansers en gimnaste. Vir my moet alles oorkantel na die kant toe wat jou in jou wese gelukkig maak.”

Aanhalings oor geluk

 

Aanvullende bronne: www.nadacare.net, Wikipedia, www.wikihow, www.insider.com, www.businessinsider.in/eurekalert.org, www.positivepsychology.com, www.nature.com, www.countryliving.com, www.drelmarimuldercraig.com, www.drarien.co.za

 

Lees ook: 5 maniere om meer selfvertroue te hê

 

Die artikel Is geluk geneties? het eerste in Rooi Rose verskyn.

Exit mobile version