5 sakpas-wenke vir ’n nuwe voorkoms vir jou huis

As jou omgewing jou verveel, maar jy weet nie hoe om eers een vertrek op te knap sonder om die bank te breek nie, lees hier ...

 

1. Wat is die grootste fout wat kliënte maak wanneer hulle ’n vertrek ’n nuwe voorkoms wil gee?

Afhangende wat die projek behels, moet jy versigtig wees om die jongste tendense na te jaag. Kry van meet af aan die kundigheid van ’n professionele binnehuisversierder.

2. Wat is die goedkoopste manier om ’n nuwe voorkoms vir jou huis te kry?

Verf bly maar die goedkoopste manier om ’n dramatiese verandering te kry. Deesdae kan jy verfmonsters by verfwinkels kry. Verf twee lae in ‘n klein vierkant en leef vir ’n paar dae daarmee saam.

3. Wat is die jongste neigings?

Die tema vir huisversieringneigings vanjaar is om in voeling met die natuur te wees, en om na die verlede te kyk vir inspirasie, sowel as om meer weelderige rondings in ons huise te voeg.

Herontginde aardse verfkleure en -teksture gaan in 2024 die fokuspunt inneem vanweë hul vermoë om ons verbinding met die natuur en aardseienskappe weer aan te wakker.

Diep bosgroen en terracotta-skakerings sal na verwagting in gewildheid toeneem, wat die rustigheid van die buitelewe binne bring en ‘n warm en uitnodigende gevoel skep.

4. Wat van strooikussings?

Ek glo strooikussings is ’n maklike en goedkoop manier om ’n vertrek ’n hupstoot te gee. Ek is ’n voorstander van gehalte-binnekussings omdat dit ’n weelderige voorkoms skep. Dit is ook baie gemakliker. Met ’n goeie binnekussing lyk die eindproduk net soveel meer duursaam. Indien die materiaal effe duur is, gebruik dit net vir die voorkant van die kussing en vervang die agterkant deur ’n goedkoper effekleur. Kombineer groottes en vorms om diepte te skep. Speel ook met verskillende teksture. Strooikussings is soos die perfekte handsak om ‘n uitrusting af te rond!

5. Wat is ‘n dramatiese manier om ’n vertrek ’n nuwe voorkoms te gee?

Groot lampe maak ook ’n groot verskil aan ‘n vertrek. Wissel jou tekstiele tussen linne vir die somer en fluweel vir die winter. Ons moet huise skep wat ons leefstyl weerspieël. Ek hou van die warm gevoel van komberse, boeke, kerse en besonderse kunswerke!

Lees ook: Wat jy moet weet voordat jy jou badkamer opknap

Die artikel 5 sakpas-wenke vir ’n nuwe voorkoms vir jou huis het eerste in Rooi Rose verskyn.

Exit mobile version