Naellak: Pasop vir hierdie 6 foute

Hou jy daarvan om met geverfde naels te spog? Hier is die foute om te vermy wanneer jy jou eie naels verf.

Charmaine Kay, opleier van ORLY SA vertel wat die mees algemene foute is wat ons maak:

1. Jy skud jou naellak-botteltjie

Moenie die bottletjie skud nie, rol dit eerder. As jy jou botteltjie skud, veroorsaak dit net nog meer borreltjies. As jy jou naels geverf het, sal jy borreltjies op jou naels sien.

 

2. Jy bêre jou naellak in die yskas

Hierdie is baie ou raad, maar dit maak jou naellak net dik en taai. Hou dit eerder by kamer-temperatuur soos in jou kas.

 

3. Jy gebruik nie ’n basis- en bo-lagie nie

Jy is dalk te haastig om nog tyd te mors hiermee, maar dit laat werklik jou naellak langer aanbly. Die basislagie help ook keer dat die naellak jou naels vlek. ’n Bo-lagie help dat die verf vinniger droogword.

4. Jy is te haastig

Ons probeer allerhande truuks, van ons hande in yswater druk tot hande waai of selfs ’n haardroër se lug daarop blaas. Wat gebeur as jy jou hande waai of ’n haardroër daarop blaas, word slegs die boonste lagie droog, maar nie die onderste lagie nie. Naelverf word van onder na bo droog. Dit lyk dalk droog nadat jy geverf het, maar as jy in die oggend wakker word, sal jy ’n “imprint” op jou naels hê.

 

5. Jy gooi naelverwyderaar by naelverf om dit te verdun

Dit maak dit dalk dunner, maar dit verdun ook jou kleur en laat dit oneweredig voorkom. Gebruik eerder ’n naellak-verdunner.

 

6. Jy verf twee dik lae aan

Drie dun lagies is beter as twee dik lae, wat sukkel om droog te word. Om ’n dun lagie te verf, druk die kwassie in die botteltjie en as jy dit uittrek maak die een kant van die borseltjie in die bottelnek skoon. Wat jy oor het aan die anderkant is genoeg om ’n dun lagie te verf. Hierdie is veral goed wanneer jy met neon of helder kleure werk, want die kleur lyk dan ook helderder.

 

 

Lees ook: 13 haarwasfoute wat jy maak

Die artikel Naellak: pasop vir hierdie 6 foute het eerste in Rooi Rose verskyn.

Exit mobile version