KOMPETISIE: Wen twee boeke vir die riller-aanhanger

As jy 'n aanhanger van uitstekende Afrikaanse-rillers is, moet nie hierdie kompetisie laat verbygaan nie.

Die opwindende Desembervakansie lê voor, en wat is lekkerder as om met ’n lekkerlees naelbyt riller te ontspan?

Rekord het ’n paar rillers om weg te gee.

Die titels lyk soos volg:

Brand

Thys Krige teen die staat

Hoë politici sweer saam om Suid-Afrika in ’n diktatorskap te dompel. Die armes het genoeg gehad en kom in opstand. Die land brand.

Sagte kolonisasie, noem party mens dit. Staatskaping noem die media dit.

Mense vir wie Thys Krige omgee, kry seer. Kort daarna word hy deur internasionale agentskappe genader om te help, want ons korrupte president speel in die hand van buitelandse moondhede met imperialistiese ambisies. Die tentakels daarvan is al so diep in die struktuur van mense in sleutelposte, dat niemand meer seker is wie betrokke is en wie vertrou kan word nie.

Die diknekke word ryker. Die armes krepeer.

Die president weet sy einde is naby. Hy soek ’n rede om ’n noodtoestand af te kondig.

Thys se speurwerk kom op ’n afgryslike ontdekking af… Hy vermoed traangas word gedokter met dwelms om mense heeltemal berserk te maak. Is mieliepap, die stapel van die armes, volgende?

Brand is ’n donker, skokkende verhaal, veral op emosionele vlak. Venter het min genade vir sy leser. Dié bok bied oplossings, maar nie spookasem-eindes nie.

Reeks

Brand is die vyfde boek in die Thys Krige-reeks. Dieper as die bloed, Ou bloed, Waar boosheid broei en Plasenta is die eerste vier.

Pryswoorde

“Intelligent, boeiend, filosofies, moreel ondersoekend en hiperspannend soos ’n mens nou al van Peet verwag. Litérature engagée, vergestalt. Relevant en betrokke – en veel meer.” – Chanette Paul.

“Dis naelbytlekkerte, beter as enige aksiefliek. Peet Venter posisioneer hom met hierdie reeks (Thys Krige) in die groep briljante krimini-skrywers in Suid-Afrika.” – Madri Victor, LitNet.

“Peet Venter draai nie doekies om nie. Die pas in die verhale is vinnig en die gebeure is grusaam. Met sy gestroopte styl trek Venter die leser onverbiddelik in die verhaal in.” – Alta Cloete.

“Meesterverteller mag maar.” – Annami Mailovich, Netwerk 24.

“Fantastiese skryfkuns gekombineer met ’n uitklopstorie is net die resep vir ’n meesterstuk soos hierdie.” – Marna Ueckermann, Rapport.

“Daar is weinig kans vir die leser om asem te skep soos wat Venter die spreekwoordelike vuishoue op die leser laat reën.” – Jonathan Amid, LitNet.

Heiliger

R240

In die paar dae voor Kersfees neem Hendrik en Amalia se lewe ’n onverwagse wending, iets waarvoor hulle nooit voorsiening gemaak het nie. Maar wat vir hulle ’n nuwe era in hulle verhouding sou kon wees, word verdonker deur ’n verskriklike voorval waarvoor Hendrik in hegtenis geneem word.

Nóg Amalia, ’n staatsaanklaer op Witteberg, nóg Hendrik se knap prokureur kan verhoed dat hy opgesluit word – deels vir sy eie veiligheid, deels omdat ’n lafhartige speurder sy mag misbruik. Wat voorbereiding vir ’n heugdelike gebeurtenis en Kersfees moes word, word dae waarin Hendrik intiem met die binnekant van ’n sel en dié se bewoners kennis maak.

Daar word van moord gepraat op die taxibaas se seun wat deur ’n dwaalkoeël getref word en dis die taxibaas se woord teen Hendrik s’n. Boonop leef die grensoorlog steeds in Hendrik se gedagtes; die nagmerrie toe hy ’n makker wat deur die Kubane gevange geneem is, gaan red het. Dekades later buk ’n Kubaanse dokter oor hom in ’n hospitaal. En as Hendrik gemeen het dat Amalia veilig is, het hy ’n fout gemaak …

KOMPETISIE:

Twee lesers staan ’n kans om elk een van hierdie titels te wen. Om in te skryf vir die kompetisie, vul die inskrywingsvorm in en gebruik die sleutelwoord ‘RILLER’.

Exit mobile version