Lewe nou, sê dominee in nuwe boek

Sedert die rowers gekom het, het dr. Johan Pienaar se uitkyk op die lewe verander. Rekord het met hom oor sy nuwe geestelike boek gesels.

Die man met die snor wat sy lip toerank sit gemaklik op sy groen leunstoel. Sy bene netjies oormekaar gekruis.

Hy lyk nie soos ’n dominee wat al twaalf jaar Rekord se lesers inspireer en bemoedig met sy twee-weeklikse Stiltetyd-rubriek nie.

Hy lyk eerder soos ’n man wat op 65 gemaklik in sy vel is – en na twaalf stiltetyd-boekies – uiteindelik stil geraak het in homself.

Sy naam is Johan Pienaar en sy jongste boek, Die Dag na die Rowers Opgedaag het, het pas by Lux Verbi-uitgewers verskyn.

Retha, sy vrou met wie hy 40 jaar getroud is, stap by sy studeerkamer in. ’n Skinkbord in haar hand. Johan spring uit sy gemakstoel op. Neem die skinkbord uit haar hande.

“Dankie,” sê Retha en kyk na hom met liefde wat die tyd van liefde, oorlog, kinders en ja, die dag toe die rowers opgedaag het, weerstaan het.

“Die titel van die boek is ’n bietjie misleidend,” knipoog Johan. “My uitgewers het besluit dit moet die titel wees. Eintlik handel die boek oor hoe ons vandag moet leef.”

Ja, die dag toe die rowers opdaag, was traumaties. Die Pienaar-gesin het gevoel hulle is veilig genestel agter hulle hoë hek en elektriese omheinings. Toe nie.

Want in Junie verlede jaar het hulle leefhuis, reg langs die groengordel in Riviera in die Moot-area, een van Stephen King se rillerhuise geword.

Johan was aan die werk in sy studeerkamer, dagstukkies uitgedink. Sy Bybel voor hom oopgeslaan. Retha was in die stort. “Ek was so bang hulle vat aan my vrou. Ek het hulle gevra om haar uit te los.”

Biddend. Vasgebind op die vloer. “Hulle het baie waardevolle items weggedra. Die manuskrip van my boek was op my rekenaar. Retha se trouring en ander juwele is gevat.”

Na die voorval het hulle besluit hulle wil niks vervang nie. “Dit is wêreldse dinge. Het ons dit regtig nodig gehad?”

’n Maand na die voorval het al sy kinders en kleinkinders bymekaar gekom. ’n Familiefoto is geneem. Dit hang in sy sitkamer en die titel is Feesgety. Alles wat vir hom kosbaar en belangrik is.

Johan het ook weer ’n ring aan Retha se vinger gesteek. “Sommer by die KFC,” lag hy. “Dit was ’n goedkoper trouring.”

Gelukkig was sy boek nog op ’n geheuestokkie. “Retha wou dit lees en die stokkie was in die slaapkamer.”

En toe verander hy nie ’n woord aan die boek nie. “Voor die rowers gekom het, het ek lank besin oor die lewe. Ek het gewonder oor die doel van die lewe,” mymer hy.

“Ek het eendag in my studeerkamer gesit en na die voëls geluister en besef wat die Here vir ons wil hê. Hier en nou. Nie gister en môre nie.”

Die resultaat is ’n stewige boek met 30 dagstukkies en lewensfilosofieë. Gestroop van enige geestelike pretensies.

Die aktrise Elma Postma van Boer-soek-’n-vrou-faam het self op haar blog die boek aanbeveel.

Sy skryf: “Met die daaglikse boodskappe, staan Johan Pienaar nie met sy Bybel onder die arm nie, maar praat soos ek en jy dit verstaan, met ’n duidelike lewenservaring en kennis en sonder om te veroordeel.”

Johan werk al klaar weer aan ’n nuwe boek, maar van Christelike fiksie gaan hy ver wegbly.

“Ek is nie ’n storieverteller nie. Ek het een aand vir my kleinseun ’n storie vertel. Hy het gedink dit was verskriklik boring.”

Retha stap weer die vertrek binne. Haar hand saggies op Johan se arm. Dit is nou daardie aanraking wat saak maak. “Die oomblik waarin ons leef,” verduidelik Johan.

Johan het hierdie week ook ’n Facebook-projek van stapel gestuur. Gee elke Woensdag, vir die volgende maand, iets wat jy nie meer gebruik nie aan iemand. Of dit nou ’n paar skoene of klere is.”

Koer-koer, roep die duif na sy maat. Dit is nou. Die oomblik.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

Exit mobile version