Lekker leesstof vir die vakansie

Loer gerus na die volgende boeke om te sien waarna jy kan uistien hierdie vakansie.

Die perfekte brander en ander verhale

Marieta Nel & Adinda Vermaak (samestellers)

Stories oor die pyn en vreugdes van verlief wees. Stories oor die waagmoed, twyfel en uitdagings van jonk wees. Stories wat jou sal laat glimlag of ’n traan laat wegvee. Stories wat wéét hoe dit voel om sestien te wees.

Bekende skrywers en nuwe stemme skuur skouers in hierdie fantastiese bloemlesing wat kyk na die lief en leed van ouer tieners.

Elizabeth Wasserman, Christien Neser, Nelia Engelbrecht, Leon de Villiers, Anzil Kulsen, Fawa Conradie, Nellie Alberts, Carina Diedericks-Hugo, Anzil Kulsen, Maria Vos, Solette Swanepoel, HemelBesem, Marlene Smit, Christine Barkhuizen le Roux, Jaco Fouché, Jaco Jacobs, Fanie Viljoen, Nathan Trantraal, Santie Nel, Dewald Koen, Tanya van Buuren Botma, Jan van Tonder, Eldridge Jason, Kobus Brown, Christo Davids, Madri Victor, Lynné Schoeman en Izak de Vries.

Jip, ’n bloemlesing met 27 splinternuwe verhale oor die vreugde, pyn en avontuur van jonk wees.

LEES OOK: Boeke wat die liefde aanwakker

Ideaal vir die Kerskous!

Marieta Nel en Adinda Vermaak het as samestellers reeds twee topverkoper-kortverhaalbundels die lig laat sien: Sweef (2009) het al meer as 40 000 kopieë verkoop en Skreeu (2010) se vier oplae het al meer as 17 000 kopieë verkoop.

Vroue Van Atlantis

Anastasia De Vries & Eldrige Jason

“En ons sal nooit weer dieselfde mense wees nadat die 12 vroue met ons gebeur het nie. Dit was ‘n besondere voorreg om saam met Suzanne en Eldridge Jason te werk en die wonderlikste is dat van my kollegas en ons studente deel hiervan is.”

– Anastasia de Vries

Twaalf ongelooflike vroue wat ’n verskil maak tussen die bendes, die werkloosheid en die koeëls. Atlantis is steeds die verlore stad, maar hierdie twaalf vroue se verhale inspireer. Dit is ’n moetlees vir almal wat glo dat liefde en geloof ’n verskil kán maak.

Atlantis aan die Weskus was die breinkind van ’n vorige regering se “desentralisasiebeleid” – maar is tans die toonvenster van ontheemding. Uit hierdie wanhoop, staan dié twaalf vroue se stories soos fakkels in ’n lang, donker nag.

Dit het alles begin met ’n gemeenskapsprojek deur die ATKV in Atlantis. Die vroue, en ander fakkeldraers, toon dat Atlantis ’n stad van verborge skatte is.

LEES OOK: Carltonbeker draaiboek hou by boeiende spanningslyn

Die samesteller en bydraers

Anastasia de Vries en Eldridge Jason is beide skrywers en joernaliste. Anastasia is ook ’n dosent aan die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Wes-Kaapland (UWK).

Ander bydraers is die joernalis Christa Prinsloo, sowel as ses UWK-studente: Chandré Cloete, Suné van Rooyen, Geraldine Fortuin, Ebenesia Pieters, Jolyn Phillips en Courtneigh Ess.

Die boek bevat ook ’n aantal foto’s deur Izak de Vries.

Die opbrengs van dié boek sal deur die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Wes-Kaapland (UWK) aangewend word as studentebeurse.

Crochet

Beatrix Says: Get Chrochet Savvy

Beatrix Snyman

Join the trend!

Crochet has developed into the number-one craft for both young and old with a colourful variety of yarns and an endless array of patterns available.

LEES OOK: Laerskool Raslouw hou ‘n boekedag

But what to do when you don’t even know how to grip a crochet hook? The simple answer is, get Beatrix says: Get crochet savvy!

This is a complete crochet guide and a comprehensive manual to introduce beginners to the art of crochet. The full-colour photos and detailed instructions are complemented by beautiful crochet projects that will test your newfound skills. It includes the following:

– Crochet hook sizes, types and the materials that hooks are made of.

– A crochet-hook conversion chart between US, UK and metric sizes.

– Stitch markers, yarn needles and measuring tools.

– How to correctly grip the crochet hook and yarn (and what to do if you are a lefty).

– How to choose the right yarn, the pros and cons of natural and artificial fibres, yarn weight, yarn substitutions and how to calculate quantities.

– Colour theory and how to combine colours.

LEES OOK: OPVOLG: Gretha Wiid praat oor kontroversiële stelling in boek

– How to read patterns and diagrams and a complete list of general terminology and abbreviations between US, UK and Afrikaans.

Beatrix Snyman calls herself “an expert hooker” who has been offering crochet classes and workshops since 2012. She creates original crochet patterns for reputable local crochet yarn manufacturers such as Vinnis Colours and Nurturing Fibres.

Beatrix recently started her own range of alpaca and merino crochet yarn. She is well known and loved in the South African crochet community and she also runs her own crochet blog.

Kinder- en Jeugboeke

Prinses Klara en die krokodil

Laura Amy Schlitz

lllustreerder: Brian Floca

Prinses Klara se ouers glo ’n prinses moet skoon en slim en sterk wees. Daarom laat haar oppasser haar drie keer per dag bad. Haar ma lees vir haar vaal, vervelige boeke. Haar pa laat haar elke dag honderde keer touspring.

Prinses Klara is siek en sat daarvoor. Sy besluit wat sy nodig het, is ’n bietjie pret en avontuur. Daarom skryf sy vir haar towertante ’n spesiale briefie om te sê sy soek ’n hond.

Die volgende oggend staan daar ’n boks voor haar bed… maar binne-in is nie ’n hond nie. Dis ’n krokodil! ’n Krokodil wat glad nie weet hoe om hom mooi soet te gedra nie…

LEES OOK: Oorlog veterane skryf ‘n boek

Prinses Klara besluit sy gaan die dag afvat. Sy beleef allerlei prettige avonture in die buitelug – sy klouter in bome rond, pluk aarbeie en raak heerlik vuil – terwyl die krokodil ’n rok aantrek, ’n kroon opsit en sy lyf prinses hou en die kasteel op sy kop keer!

Kinders sal versot wees op hierdie lawwe skaterlag-avontuur! Die boek is perfek vir voorlees of selflees.

Hoe supercool goed werk

Ian Graham en Tom Jackson

Sal ons in die toekoms met vlieënde motors ry?

Hoe werk ’n 3D-drukker?

Kan mense regtig eendag op Mars gaan woon?

Hoe lyk dit binne-in ’n PlayStation 4?

Ontdek die verstommende tegnologiese uitvindings van die toekoms in hierdie asemrowende boek. Hoe supercool goed werk is ’n splinternuwe gids wat ongelooflike nuwe tegnologie verken, en kyk na die maniere hoe dit ons moderne wêreld vorm. Kinders sal versot wees op die innoverende uitleg.

Verstommende foto’s en illustrasies verduidelik hoe enige iets van hommeltuie en superrekenaars tot onderwater-hotelle en vlieënde motors werk.

Strikdans

Christien Neser

’n Ramp.

Daar is geen ander manier om dit te beskryf nie. Elle is in matriek. Dit is veronderstel om die beste jaar van haar hele skoolloopbaan te wees. Sy is immers vanjaar hoofmeisie, sy het die beste vriende waarvoor enige meisie kan vra, sy gaan met die ou van haar drome uit, en daar is hope opwindende dinge by die skool om na uit te sien.

Maar die jaar skop op ’n aaklige noot af. Dinge tussen haar en Alex loop skielik skeef en by die skool wag ’n groot skok op almal toe die hoof, mevrou Bender, onverwags ernstig siek word. Die waarnemende hoof, doktor Grimm, voel ’n veer vir die skool se tradisies en die spesiale projekte waaraan Elle-hulle soveel tyd en aandag bestee het. Al waarin die vreemde man met sy strikdas en sy fobie vir katte belang stel, is wiskunde. Hy is vasbeslote om Gravitas die beste wiskundeskool in die land te maak.

Elle besluit sy kan nie net toekyk hoe Gravitas se trotse tradisies die een ná die ander sneuwel nie. Maar kort voor lank kom haar hoofmeisiebalkie in gedrang oor hierdie standpunte!

Christien Neser se reeks tienerboeke oor die wel en wee van Elle Kroon is baie gewild, met selfs volwasse lesers wat nie kan wag om elke nuwe Elle-avontuur te verslind nie. Hierdie een, die negende boek in die reeks beloof om net so skreeusnaaks, aweregs en romanties soos sy voorgangers te wees.

Meer as 59 100 kopieë van hierdie uiters gewilde reeks is al verkoop.

Dinowêreld Omnibus 1

Rex Stone

Is jy gereed vir die grootste avontuur ooit?

Johan en sy beste vriend, Tom, ontdek ’n geheime grot met versteende voetspore in Dinobaai. Toe hulle op die voetspore loop, beland hulle in ’n wêreld vol regte, lewende dinosourusse. Saam met hul dino-maat, Wanna, beleef die twee seuns allerlei asemrowende – maar ook gevaarlike – oertyd-avonture!

Hierdie omnibus bevat die eerste vier stories uit dié gewilde reeks:

Aanval van die akkediskoning

Johan en Tom ontdek die geheim van Dinobaai. Nou wag daar hope avonture op hulle. Op hierdie geheime plek is allerhande dinosourusse, ook ’n enorme T-rex wat warm op die twee seuns se spoor is…

Stormloop van die driehoring-monster

Johan en Tom keer terug na hul geheime dinosouruswêreld. Hulle kan nie wag om dit verder te verken nie. Maar toe ’n Triceratops-trop op hulle afstorm, lyk dit of die seuns platgetrap gaan word. Daar is net een uitweg – hulle sal op een van die dinosourusse se rug moet probeer ry!

Mars van die gepantserde reuse

Johan en Tom is terug in Dinowêreld. Hulle ontdek ’n jong Ankylosaurus wat in die modder vassit. Die seuns moet die baba-dinosourus red voordat die modder hom insuig – maar hoe? En wat sal gebeur as die ma terugkeer en haar reusagtige, dodelike stert begin rondswaai?

Vlug van die pterosourus

In hul geheime dinosouruswêreld soek Johan en Tom na die grootste vlieënde reptiel wat ooit geleef het, Quetzalcoatlus. Maar wat gaan hulle doen wanneer die reuse-pterosourus dink hul dino-maat, Wanna, is haar kuiken en met hom wegvlieg? Daar is bitter min tyd om hul maat te red …

LEES OOK: Eugene de Kock by boekbekendstelling

Dinowêreld Omnibus 2

Rex Stone

Hierdie omnibus bevat nog vier stories uit dié gewilde reeks:

Vang die dief!

’n Blitsige Velociraptor steel die Fossielvinder en Johan en Tom moet hom agternasit. Ná ’n dolle jaagtog deur die gevaarlike oerwêreld, haal hulle die skelm dinosourus in. Maar hoe gaan hulle hom uit sy grot lok om die Fossielvinder terug te kry?

Hier kom die reuse-reptiele!

Johan en Tom se dinosouruswêreld is tjoepstil – geen dinosourusse brul nie, geen insekte zoem nie – en hulle vind gou uit waarom … ’n Meteoor stuur reg op hulle af. Boem! ’n Verskrikte Edmontosaurus-trop storm op die rand van ’n reuse-krater af. Sal die seuns hulle kan keer voor hulle in die dieptes afstort?

Stegosourus-probleme

Johan en Tom is terug in Dinowêreld – maar hierdie keer is dit in die Jura-tydperk! Die seuns en hul dino-maat, Wanna, kan nie wag om uit te vind watter avonture in hierdie nuwe prehistoriese tydperk op hulle wag nie. Toe ’n Stegosaurus in die moeilikheid beland, moet hulle probeer help…

Onderwater-avontuur

Johan en Tom gaan snorkelduik in hul geheime dinosouruswêreld. Selfs Wanna gaan dit in die see waag! Onder die water sien hulle ongelooflike oerdiere. Maar wat hulle nie weet nie, is dat ’n reuse plesosourus onder die branders rondswem…

Romanza

Onwillig verlief

Marijke Greef

Hierdie lekkerlees mega-omnibus is net reg vir die vakansie wat voorlê! Dit bevat drie van Marijke Greeff se vorige Kaapse liefdesverhale: Esmeralde, Seerower vir Shakira en Markies vir Melesinda.

Esmeralde

Net nadat Carmelita Fernandez aan ’n dogtertjie geboorte gegee het, sterf sy, maar nie voordat sy haar man, Diego, versoek om die kindjie Esmeralde te noem nie. Diego het sy sigeunervrou hartstogtelik liefgehad en daarom stem hy in tot die sigeunernaam.

Toe sy grootword, het Esmeralde dan ook al die vuur en eiesinnigheid waarvoor sigeuners bekend is – en haar oorlede moeder se donker, eksotiese skoonheid.

Met haar agtiende verjaarsdag reël haar ouma ’n groot bal, met die hoofdoel om Esmeralde aan hubare mans voor te stel. By die bal ontmoet Esmeralde die baie aantreklike donker René Courtelle. Hulle is dadelik aangetrokke tot mekaar, maar René is ’n getroude man. Wat Esmeralde egter nie weet nie, is dat hy baie ongelukkig getroud is met ’n erg ontroue vrou wat met iemand konkel om al die Courtelle-skatte in die hande te kry.

Seerower vir Shakira

In ’n dobbelspel word Shakira deur haar pa aan ’n seerower verpand – Raoul Monserat, dodelik aantreklik, dodelik gevaarlik, kaptein van die seerowerskip die Swart pêrel.

Monserat is legendaries, word gevrees en verafsku – hy’s wreed, meedoënloos, pleeg gruweldade, onteer vroue…

Op die Swart pêrel word hulle teen haar sin in die eg verbind, en Shakira weet – een of ander tyd gaan dié onvoorspelbare, kil man sy huweliksregte opeis.

Hy word vir haar ’n raaisel, sy optrede strook nie altyd met sy reputasie nie. Sy weet hy gebruik haar net as ’n skans in sy soektog na die skat, maar hoe langer sy Monserat ken hoe minder wíl sy haar teësit. Is hy werklik wie hy voorgee om te wees?

Markies vir Melesinda

Dis die geheimsinnige Nagvalk met sy strelende mond en beskermende arms wat Melesinda se hart en gedagtes sedert haar aankoms in Frankryk vol lê.

Maar met die markies Beamont du Brecy moet sy trou.

Aan haar seerowerbloed dra sy swaar, maar dit stuit Beau du Brecy nie. En ter wille van die markiesin Du Brecy sal sy met die markies trou. Al behoort haar hart aan die Nagvalk.

Beau ontken die Nagvalk se bestaan, al red hy Melesinda keer op keer.

Terwyl Beau oorheers word deur wraak ná sy suster se dood, raak Melesinda al hoe meer verward – is dit moontlik dat ’n vrou terselfdertyd tot twee sulke uiteenlopende mans aangetrokke kan voel?

Liefste omgeeman

Petronel Louw

Janika het ná haar ouers se dood op haar werk gefokus en met sukses ’n dik en baie hoë muur om haar hart gebou. Maar majoor Brink Lategan en sy helder grys oë vind ’n swak plek in die muur… en haar hart.

Ons eie spioen-Romanza! Bietjie aksie en liefde vermeng. Beide die held en heldin werk vir ondergrondse netwerke wat misdaad bekamp.

Verbode liefde

Alma Carstens

Zoey ontmoet die enigmatiese dokter Jano Marnitz terwyl sy met vakansie in Parys is. Hy ontwikkel ’n obsessie om haar gesig, wat in ’n motorongeluk geskend is, te herstel. Het hy dalk gevoelens vir haar of is dit slegs sy doktersinstinkte wat inskop?

Gister is lankal verby

Salomé Schutte

Om sy voete teen die warm sand te beskerm, tel Lia ’n seun by die strand op en ontmoet sy mooie, maar moeilike pa, Viljé. Sy weet sy moet wegbly van hulle, maar die oulike seun steel haar hart, ’n talent wat hy blykbaar met sy pa deel.

Op die sypaadjie

Elsa Winckler

Lokteks: Armin is te befoeterd vir Sabrina en Sabrina verkies surfers met sexy bolywe wat nie heeldag werk nie. Maar dan leer sy hom van feng shui en hy begin wonder of sy dalk die yin van sy yang is.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

Exit mobile version