WEN: Het jy al Jennifer Zamudio se nuwe album aangeskaf?

Twee gelukkige lesers kan elk 'n kopie van Jennifer Zamudio se album, Ongelooflik, wen.

Op haar jongste album, Ongelooflik, klink Jennifer Zamudio soos nog nooit vantevore en aanhangers sal gek wees oor haar nuwe klank.

As sanger sprei Jennifer haar vlerke maar bly tog getrou aan die klank waarvoor aanhangers haar leer liefkry het.

Die titelsnit, Ongelooflik, is die tweede treffer wat sy saam met Palmer Global Ink daar in die country-hart van Nashville, Tennessee in die VSA opgeneem het. Die lied is geskryf deur Allen McKendree Palmer en Bridgette Tatum en Jennifer het vir die Afrikaanse lirieke gesorg. Jennifer se pad het so twee jaar gelede met dié van Allen McKendree Palmer van Palmer Global Ink gekruis wat tot ’n reis na Nashville gelei het.

Sy sê sy staan nog maar aan die begin van haar samewerking met Palmer Global Ink en beplan om in die toekoms nog meer in Engels te sing, maar vir nou het sy geen plan om haar Afrikaanse aanhangers agter te laat nie.

Vyf van die 14 snitte op die album is in Engels en luisteraars kan uitsien na snitte soos End is You, Dream of You en This Love. Luister ook gerus na Afrikaanse liedjies soos Bietjie van jou liefde en Ek is joune.

Die Sarah Theron treffer Hartseer word verwerk soos net Jennifer kan en wanneer sy liefdesballades soos Where Would You Be sing kan sy maklik kers vashou met Martina McBride, wat dié liedjie bekend gemaak het.

Hoewel die meeste van die liedjies op die nuwe album countryballades is, wys sy met Toe jy vir my kyk dat sy weet hoe om die voete op die dansbaan te kry.

Op hierdie album, haar 11e een, is ’n mens bewus van hoe baie Jennifer die afgelope 16 jaar as kunstenaar gegroei het. Haar klank is meer afgerond as ooit tevore en sy sê self dat die internasionale blootstelling wat sy in Tennessee gehad het ongetwyfeld ’n rol daarin gespeel het.

Christie Schutte van Startrax Studios was in die ateljee vir die produksie en met die kitaarkoning Juan “Floors” Oosthuizen se bydrae is dit duidelik dat net die beste goed genoeg was.

Jennifer reis in Oktober vanjaar weer na Nashville waar sy Suid-Afrika sal verteenwoordig as ’n finalis in die Superxtar-aanlyn-sangkompetisie. Heel moontlik gaan sy dan ook die geleentheid kry om haar eerste solovertoning in Nashville te lewer.

Dit is ’n besonderse eer vir enige kunstenaar om in hierdie musiekmekka op te tree, maar met Ongelooflik wys Jennifer Zamudio dat sy enigiemand kan betower.

Met die plofbare kombinasie van energie, toewyding en harde werk gaan Jennifer Zamudio binnekort ons heel grootste én veelsydigste uitvoerproduk wees.

WEN.

Twee gelukkige lesers kan elk ‘n kopie van Jennifer Zamudio se album, Ongelooflik, wen.

Om in te skryf vul die kompetisie vorm hieronder in en gebruik die woord ‘Zamudio’ as ‘n sleutelwoord.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version