Centurion-tiener maak golwe in rolprentbedryf

'n Plaaslike talent van Centurion se ster skyn behoorlik in hierdie nuwe Afrikaansefilm, binnekort op die skerms.

’n Plaaslike jongeling is besig om die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf ore aan te sit met sy uitmuntende talent en buitengewone ambisie.

Deànré Reiners het in 2014 by die Helpmekaar Kollege gematrikuleer nadat hy op die jong ouderdom van vier al geweet het hy is uitgeknip vir die vermaaklikheidsbedryf.

In 2004 het hy die Grand Champion Performer of the World toekenning in Los Angeles losgeslaan en in 2009 was hy deel van die East Rand Youth Choir.

In 2013 het sy drome ‘n werklikheid geword toe hy die rol van die ondeunde Emil in Binnelanders gekry het en daarna het hy tydens sy matriekjaar ’n rol in die Oscar-benoemde Darrell Roodt se Seun gekry.

Vandag spog hy met ’n toekenning vir die gehoor se gunsteling akteur (The Audience Choice Best Actor Award), wat hy by die KykNET Silwerskermfees gewen het.

In April vanjaar kom daar dus ’n nuwe projek van Reiners aan die lig, Verskietende Ster, ’n emosionele en kragtige film oor musiek en die opboudende effek daarvan, deur die bekroonde rolprentmaker Stefan Enslin.

Verskietende Ster vertel die storie van die musikale wonderkind, Phillip Schuman (Deànré Reiners). Hierdie talentvolle 15-jarige pianis se gawe word egter bedreig deur die swaar las wat hy dra.

Dit is ’n storie wat handel oor ’n beswaarde geniale seun, die hoë koste verbonde aan sy talent en die tweespalt wat hy ervaar tussen persoonlike onafhanklikheid en gesinsbande.

Verskietende Ster is die eerste Afrikaanse rolprent wat met ’n volledige orkes spog. Die bekroonde komponis, wat veral bekend is vir sy komposisies vir rolprente en televisiereekse, Geo Höhn, het musiek geskryf wat perfek by die rolprent pas.

“Die rolprent is ook ’n inspirerende verhaal wat kyk hoekom sekere mense met besonderse talente gebore word,” sê Philo Pieterse, ‘n vervaardiger van die rolprent.

“Die hart van die fliek is die pynlike verkenning van musiek se emosionele samehang asook musiek se krag om ons aan te raak en om pyn in iets mooi en genesend te omskep. Dit is ’n besielende storie wat beslis die fliekgangers se hartsnare sal roer,” sluit hy af.

Kyk die filmvoorprent hier:

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version