‘Die waarheid maak seer’ in Sunel se nuwe enkelsnit

Volgens die sangeres kan die nuutste enkelsnit, uit haar eie pen, beskryf word as ’n goedvoel-liedjie met ’n sterk boodskap waarby almal sal aanklank vind.

 

Jammer kan ongelukkig nie altyd alles regmaak nie.

So meen die sangeres Sunel oor die betekenis agter haar derde Afrikaanse vrystelling “Die Waarheid Maak Seer”, wat reeds besig is om musiekharte te verower.

“Die Waarheid Maak Seer is daardie liedjie wat jy moet luister as jy jouself in enige verhouding bevind waarin jy besef het dat die beloftes wat aan jou gemaak is en die kanse wat jy vir die ander persoon gegee het, nutteloos is,” verklap Sunel.

Volgens die sangeres kan die nuutste enkelsnit, uit haar eie pen, beskryf word as ’n goedvoel-liedjie met ’n sterk boodskap waarby almal sal aanklank vind.

“Soms is dit moeilik om die waarheid oor iets of iemand te aanvaar, omdat dit so seer maak. Partykeer weet ons nie waar om die streep te trek en te besluit dat dit nou genoeg is nie. Dit is die punt wat jy bereik waar jy jouself in die proses verloor,” verduidelik sy.

“Alhoewel dit te doen het met emosionele uitbuiting, gee ek dit glad nie weer as ’n donker of droewige liedjie nie, maar eerder as ’n positiewe bemoediging dat jy ná die seer sterker aan die anderkant sal uitkom.”

“Die Waarheid Maak Seer” volg kort op die hakke van die bekendstelling van haar debuut-album, “Symptome”, wat ’n mengelmoes van 11 pragtige snitte in verskillende genres is.

Alhoewel die inhoud grotendeels deur haar geskryf is, en met die hulp van Hugo Ludik, Vaughan Gardiner en Darryl De Lange getoonset en vervaardig is, is haar treffende weergawe van Sonja Herholdt se “Ek Verlang Na Jou” ook ingesluit op hierdie CD.

Vanjaar vier dié musikant van Mosselbaai haar vierde jaar in die musiekbedryf. In die kort tydperk waarin sy al professioneel musiek maak, het sy reeds die verhoog met talle groot name gedeel, waaronder Chris Chameleon, Elvis Blue, Laurika Rauch, Corlea Botha, Coenie De Villiers, Steve Hofmeyr, Bobby en Karlien van Jaarsveld, om net ’n paar te noem.

Verder is dié blondekop ook ’n gereelde gesig by groot musiekfeeste, soos die Dias Fees (2016, 2017, 2018, 2019), Naartjie Fees, KKNK (2016, 2017, 2018, 2019), Bravo Fees en die Bushlapa Musiekfees. Sy het ook al twee vertonings saam met Pieter Koen en Willem Botha se kykNET Skole Toer gedoen.

Sunel droom daarvan om nog eendag saam met groot internasionale name soos Taylor Swift, Michael Bublé, Celine Dion en Ryan Tedder te werk. Met ’n hoë gehalte enkelsnit soos “Die Waarheid Maak Seer” stel sy nie net haar vernuf as liedjieskrywer en sanger ten toon nie, maar beweeg sy ook nog ’n tree nader daaraan om een van vele toekomsdrome te verwesenlik.

Facebook: https://www.facebook.com/sunelmusic/
Instagram: @_miss_sunel
Twitter: @Miss_Sunel

Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East
Rekord North
Rekord Centurion
Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

Exit mobile version