Rocco bring ou kerkliedere na Innibos

Betowering wag vanjaar op Innibos-feesgangers.

MBOMBELA – Daar is iets aan ‘n geestelike lied wat die siel tot bedaring bring. Wanneer ‘n uitsonderlike instrumentalis kerkliedere speel, voed dit ook die siel. Die aanhoorder van so ‘n optrede beleef iets asembenemend, wat gehore wêreldwyd vir eeue al betower.

Meer oor Innibos hier.

Hierdie betowering wag vanjaar op Innibos-feesgangers. Rocco de Villiers se Beautiful, Beautiful Hymns vertoning sal musiekliefhebbers bekoor. Van die melodieë op sy program dateer uit die agtiende eeu. Die oudste hiervan is die Engelse “Hark! The herald angels sing,” wat ons as “Hoor die blye eng’le lied” ken. Rocco sal deur orrelis Pieter van den Berg, violis Lizelle le Roux en Estian Zietsman as doedelsakspeler begelei word. Die doedelsak word tradisioneel ingespan wanneer “Amazing grace,” wat Afrikaanssprekendes ken as “Genade onbeskryflik groot,” gespeel word. Dit beloof om hoendervleismooi te wees.

Resensente het Rocco se vertolkings van “Jerusalem”, “Heilig, Heilig, Heilig”, Franz Shubert se “Ave Maria”, “Glory, glory hallelujah” en “Stille nag”, as uitsonderlik bestempel. Beautiful, Beautiful Hymns se weergawe van “Onse Vader” sal hart en siel laat saamsing met ‘n meesterlike musikale vertolking.

Alhoewel Rocco de Villiers oor die afgelope drie dekades reeds ‘n Suid-Afrikaanse gunsteling geword het, behoort hierdie vertoning ‘n spesiale deel van sy gehoor se harte aan te raak. Rocco, Pieter, Lizelle en Estian sal die lewe se mooi weer na vore bring vir die feesgangers wat Beautiful, Beautiful Hymns bywoon.

Video: verskaf.

Dit sal in die NG Suid-gemeente se kerkgebou opgevoer word. Voornemende feesgangers word aangeraai om kaartjies vir die vertoning vooraf te bespreek om teleurstelling te voorkom.

Datums en tye:
Vrydag 1 Julie, om 11:00.
Saterdag 2 Julie, om 09:00.
Tydsduur: 90 minute
Prys: R122

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version