Na die derde probeerslag was die kroon hare

Jani Erasmus het twee keer probeer om as Mej. Dowe SA gekroon te word. Sy het nie die titel gewen nie, maar tou opgee was min en hierdie jaar is haar droom uiteindelik bewaarheid.

Van kindsbeen af het sy daarvan gedroom om ‘n tiara te dra en ‘n skoonheidstitel agter haar naam te skryf.

Jani Erasmus (27) het die afgelope ses jaar herhaaldelik probeer om as Mej. Dowe SA gekroon te word, maar sy is in onderskeidelik 2009 en 2010 net as die eerste prinses gekroon. Die titel was nooit hare nie.

Maar die mooi brunet van Centurion gooi nie maklik tou op nie – sy het aan Hoërskool Eldoraigne, waar klanke en geluide vir die leerlinge so natuurlik soos snoepiepasteie en ‘n blikkie Coke is, gematrikuleer.

“Ek het die deursettingsvermoë gehad om aan ‘n horende skool matriek te skryf – en ek het al my vakke deurgekom,” het sy Woensdagoggend by haar pa, Fanie Erasmus se besigheid in Midstream, waar sy as finansiële administrateur werk, vertel. “Die kinders het soms vergeet ek is doof,” lag sy. “Ek dink ek was vir hulle almal ‘n inspirasie.”

Sy het weer dié jaar probeer om as Mej. Dowe SA gekroon te word en verlede Vrydagaand is haar droom bewaarheid: die titel was hare.

Toe die toeskouers, waaronder die DA-leier, Helen Zille, en verskeie bekende persoonlikhede en sangeresse soos een man opstaan en hande klap, het Jani geweet haar oomblik het aangebreek. Sy het die geluide gehoor: Die gejuig en die klappende hande.

Net soos sy die getjirp van voeltjies kan hoor en die branders wat op die rotse breek.

En dit is wat sy met haar titel wil doen; Kinders help om kogleêre-inplantings te kry, want daardie peperduur inplantings het haar lewe verander. “Ek was nege toe ek my eerste kogleêre-inplanting gekry het. Toe ek 18 was is die tweede een ingeplant.

“Ek was gelukkig genoeg dat ons mediese fonds al die koste (dit kos R200 000) gedek het. Almal is nie so gelukkig soos ek nie.”

Jani sê sy was maar agt maande oud toe haar ouers uitgevind het dat sy doof is. “Dokters weet nie wat die doofheid veroorsaak het nie, maar hulle het my van kleinsaf leer klank en praat. Ek het ‘n vreeslike probleem met gehoorgestremde skole wat kinders nie leer klank en praat nie.

“Ek kan wel gebaretaal praat, maar ek verkies dit om klanke te gebruik.”

Jani was tot in graad 8 in Sonitus, ‘n skool vir gehoorgestremde leerlinge. “Ek wou graag ‘n horende skool bywoon en my ouers het besluit om my na ‘n gewone skool te stuur. Ek het byvoorbeeld nie so goed in atletiek presteer soos by Sonitus nie, maar vir my was my grootste prestasie om matriek te slaag.”

Volgens Leviena Smit, die organiseerder van Mej. Dowe SA, het die unieke kompetisie ontstaan nadat ander skoonheidskompetisies (soos Mej. SA) nie dowe meisies wou of kon akkommodeer nie. “Die kompetisie het al een keer ‘n wêreldwenner opgelewer. Jani gaan Suid-Afrika volgende jaar by die Mej. Dowe Wêreld-kompetisie verteenwoordig. Ek glo dat sy die kroon huis toe kan bring.”

Jani sê sy hou nie daarvan om oor die foon met mense te praat nie. “Ek kan net my kêrel (ja, die mooi nooi het ‘n liefde in haar lewe) en my ouers oor die foon verstaan.

“Ek is een van daardie gelukkige mense wat nie oorval word met gemorsoproepe of oproepe van aanbiedinge vir kredietkaarte of klererekening kry nie,” lag sy.

Terwyl sy in die oggende bankstate nagaan en met syfers toor is sy saans ‘n regte prinses.

Sedert sy die titel gewen het, is daar media-onderhoude, glansoptredes en skouerskuur met bekende persoonlikhede. “Ek is mal daaroor, maar ek wil nie bekendheid vir eie gewin gebruik nie. Ek wil dit gebruik om die band tussen horendes en dowes te versterk.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

Exit mobile version