Innibos: Geen vriend is so lojaal soos ‘n boek nie

Kom kuier gerus by vanjaar se stampvol boekeprogram by Innibos 2015 - die fees met hart.

Hulle sê dat ’n goeie boek een is wat met groot verwagting oopgemaak en met groot wins toegemaak word. Kom kuier gerus en sien watter boeke jou so laat voel by vanjaar se stampvol boekeprogram by Innibos. “Boeke is die rustigste en mees getroue vriende, hulle is die toeganklikste en die wysste raadgewers en die geduldigste leermeesters,” Charles W. Eliot. Hier is waarna jy kan uitsien.

Sappi Boeke-crawl

Met Amanda Strydom, Janine Neethling, Karin Brynard, Adam Tas, Herman van den Berg, Nathan Smith en Andra en Chris van Niekerk.

Datum en tyd: Donderdag 2 Julie om 14:00, 16:00 en 18:00

Plek: Kaapsehoop

Tydsduur: 240 minute

Gradering: Volwassenes

Kaartjieprys: R302 (ligte verversings en drinkgoed ingesluit).

Busse vertrek vanaf I’langa Mall by Mercure Hotel se hek. Produksie geborg deur Sappi en ondersteun deur Silver Mist Country Inn, Bohemian Groove Café en Van Loveren-wyne.

Die Sappi Boeke-crawl is jaarliks die hoogtepunt vir feesgangers wat op soek is na ’n unieke ervaring rondom boeke en musiek. Vanjaar word die mistieke Kaapsehoop weer besoek. Dit is soos pub-crawling, maar hier word agter woorde en wysies aan gecrawl. Ligte eet- en drinkgoed is op die spyskaart om die ergste koue en honger te besweer. Silver Mist Country Inn is die eerste stopplek. Hier gaan die bekende skrywer Karin Brynard gesels oor haar boeke en die inspirasie rondom haar skryfwerk. Adam Tas gaan hartroerende stories vertel en bypassende liedere sing. In die kapel bring Amanda Strydom hulde aan haar mentor, Hennie Aucamp, wat ’n belangrike rol in haar loopbaan as kabaretkunstenaar en skrywer gespeel het. In hierdie vertoning sing Amanda van sy liedtekste en vertolk sketse uit die kabaret, ’n Vuur Gevang in Glas. In tipiese kabaretstyl is die inhoud skreeusnaaks, aangrypend en dekadent. En dit alles in suiwer Aucamp Afrikaans. Amanda word begelei deur die geniale Janine Neethling, haar musikale regisseur vir die afgelope 17 jaar. Herman van den Berg is alombekend vir sy besondere toonsettings van gedigte. Hier doen hy saam met Nathan Smit ’n uittreksel uit Kraaitjie Melaaitjie. Herman se musiek is al deur resensente beskryf as musiek vir die siel en Afrikaans op sy mooiste. Kom luister hoe gedigte van N.P. van Wyk Louw, Antjie Krog, Elizabeth Eybers en nog vele klink as dit in note geverf word!

Hierdie genot vind plaas by Silver Mist-waenhuis. Die laaste aandoenplek is Bohemian Groove Café waar die snykante van die letterkunde en musiek saamgeweef word. Chris van Niekerk gaan gedigte en ’n kortverhaal van André P. Brink voorlees, wat jou na jou asem gaan laat snak, terwyl Andra se sielvolle musiek tot hierdie atmosfeer bydra. En dan is daar ’n groot verrassing! Tydens elke crawl gaan daar trekking wees waar een gelukkige bywoner ’n Sappi Voëlboek met klanklesers ter waarde van R1 200 gaan wen. Met woorde, sinne, verse, verhale en musiek is die Sappi Boeke-crawl ’n eiesoortige en unieke woordreis – ’n belewenis wat jy nie moet misloop nie.

 

____________________

 

Woorde Innituin

Met Antjie Krog, Mannini Mokhothu, Gerald Clark en Tebu Kukhali.

Kunswerke van Ilona Petzer, Annalie Odendaal, Erica Schoeman, Celeste Higgs en Mariana Zwaan.

Programleier: Annette Engelbrecht

Datum en tyd: Vrydag 3 Julie om 12:00

Plek: Suikerbossie Teetuin

Tydsduur: 140 minute

Gradering: Volwassenes

Kaartjieprys: R112 (ligte verversings en drinkgoed ingesluit).

Poësie is nie net metrum en rym op papier nie, maar ’n kunsvorm wat op soveel meer maniere uitdrukking vind en uitgebeeld word. Met klank en kwashaal en in tale wat tegelyk ’n tuiskoms en ontwrigting kan versinnebeeld, kom verskeie temas aan die bod in dié woordspel deur Antjie Krog, Mannini Mokhothu en Gerald Clark. Dit word ook in gebaretaal deur Tebu Kukhali belig.

Die voordrag in Afrikaans, Sesotho en Engels is uit onderskeidelik die twee nuwe digbundels, Mede-wete deur Antjie en A Suitcase of Lifela deur Mannini. In die eerste gedeelte gaan Antjie gedigte voorlees wat sy uit swart tale vertaal het en Mannini gaan van haar gedigte voorlees. Hulle gaan ook saam ’n pryslied vir Mandela doen. In die tweede deel dra Antjie van haar eie gedigte voor. In Mede-wete, Antjie se eerste bundel in agt jaar, word temas soos taal, geheue en gewete met ’n nuwe intensiteit en beleënheid hanteer. Dié gedigte laat blyk duidelik haar diep verknogtheid aan haar geboortegrond en haar volgehoue betrokkenheid by en passie vir die land se komplekse geskiedenis en samelewing.

Daar is ook boeiende familieverse, verse oor die generasies vorentoe en terug waarin die stemme en gesprekke opklink wat ons elke dag hoor. Die talentvolle Gerald gaan tussendeur getoonsette gedigte van Antjie en ander sing om te bewys dat die ritme van gedigte ook in lied gestalte vind. Die kunswerke van Ilona Petzer, Annalie Odendaal, Erica Schoeman, Celeste Higgs en Mariana Zwaan kan besigtig word.

Gedigte is as inspirasie gebruik vir die skep van die kunswerke. Kom voed jou siel in die buitelug en luister na die pragtige klanke van musiek en die krag van woorde. Kom kyk na die skoonheid van kunswerke. Maar bowenal, kom deel in die besondere geleentheid om Antjie, die ikoon van poësie, in lewende lywe te sien en hoor. ’n Ligte middagete word bedien.

 

____________________

 

Bekendstelling: Bitter+soet met Niël Stemmet

Plek: Stoep-restaurant, Sonpark

Datum en tyd: Saterdag 4 Julie om 12:00

Prys: Gratis (bespreek by 013-741-2551, slegs 100 plekke beskikbaar).

Nostalgie is ’n woord wat gestalte kry sodra Niël Stemmet sy onthoukos op ’n bord skep. Hy is ’n kosskrywer, rubriekskrywer vir Tuis en Landbouweekblad, fotojoernalis, wynplaas- en restaurantkonsultant, gastehuiseienaar, interieurkonsultant, versamelaar en reisiger wat in stories en kos glo. Hy versamel vergete resepte juis sodat dit in ons kosgeheue sal voortleef. Bitter+soet vertel die verhaal van Mietha Klaaste wat op ’n plaas naby Robertson grootgeword het. Die verhaal neem ons terug na daar waar Mietha se ma, Sarah, Oumies en Oubaas se huis skoonmaak en haar pa die voorman op die plaas is. Die oudste seun, Johan, trou met sy nooi Susan en dan maak klein Daniël sy verskyning. Die lief en leed van Mietha en Daniël word op kleurryke wyse vertel, met gedigte, rympies en liedjies toegelig, terwyl vergange dae se lekker erfeniskos-resepte deel daarvan uitmaak. Die verhaal gee ’n kykie na die verlede, maar ook na die toekoms wat met hoop gevul is. Met meer as 90 resepte wat wissel van asbrood, boerboksaal, snoektert, skaapribbetjie en tamatiebredie tot sagopoeding, is hierdie ’n boek vir lekkerlees maar ook vir inspirasie en byderhand hou in die kombuis. Bitter+soet is Niël se derde kookstorieboek ná sout+peper en agter+blad.

____________________

Ballade vir ’n Enkeling met Leon van Nierop

____________________

Onderhoudvoerder: Annemarie van der Walt

Sang: Stiaan Reynierse

Plek: Stoep-restaurant, Sonpark

Datum en tyd: Saterdag 4 Julie om 10:00

Prys: Gratis (bespreek by 013-741-2551, slegs 100 plekke beskikbaar).

Jy’t dalk al die fliek gesien, en lank gelede week ná week vasgenael voor die kassie gesit, maar het jy al die boek gelees? Ballade vir ‘n Enkeling deur Leon van Nierop sal jou skok, boei en vermaak, maar bowenal meevoer, nes destyds in 1987 toe dit op televisie vertoon is.

Lees nou ook die storie wat destyds nie op TV vertel kon word nie. Dit is tyd vir die volle waarheid. Jacques Rynhard, die land se gewildste skrywer, verdwyn op die aand waarop die hoogste letterkundeprys aan hom oorhandig gaan word. Dit lyk asof sy verlede hom ingehaal het. Joernalis Carien Human besef hierdie is die belangrikste storie van haar lewe, maar sal sy bly leef om dit te vertel?

Van Nierop het meer as 20 boeke, asook talle radioverhale, op sy kerfstok. Hy was vir 20 jaar lank dosent in rolprentontleding, en ook al omroeper, nuusleser, regisseur en is veral bekend as ’n gesoute fliekresensent. Kom luister hoe hy die geheime van sy stories ontrafel. Om ekstra fleur te gee, gaan Stiaan Reynierse van die pragtige liedere uit hierdie film sing.

____________________

Boekgesprek met Karin Brynard en Kerneels Breytenbach

Onderhoudvoerder: Annemarie van der Walt

Plek: Stoep-restaurant, Sonpark

Datum en tyd: Vrydag 3 Julie om 10:00

Prys: Gratis (bespreek by 013-741-2551, slegs 100 plekke beskikbaar).

Karin Brynard het met haar misdaadromans Plaasmoord en Onse Vaders die land se lesers behoorlik laat regop sit en hulle van kosbare slaaptyd ontneem, deur die meesleurende stories waarin kapt. Albertus Markus Beeslaar op sy effens aweregse manier speurwerk aanpak.

Later vanjaar verskyn die lank verwagte Tuisland uit die pen van dié voormalige joernalis… maar sal sy iets daarvan verklap? Karin sal haar kaarte goed moet speel, want sy het ’n gedugte gespreksgenoot in Kerneels Breytenbach. Ook eens ’n joernalis, daarna boekuitgewer en nou voltydse skrywer, is dit juis verbode passie en politieke intrige wat in Kerneels se nuutste boek Ester die botoon voer. Die verhaal speel af in die 1940’s en is op ’n werklike geskiedkundige insident gebaseer; een waarin spioenasie en ’n beeldskone vrou in een asem genoem word. Tydens ’n lang treinrit tussen Windhoek en Kaapstad dans die poppe behoorlik… Karin en Kerneels gaan die gordyn effens lig oor die ratwerke van ’n goeie roman, en mekaar tromp-op loop oor skryf, storielyne, en eiesinnige karakters.

____________________

Legkaart van jou gesig: Fisionomie in ‘n Neutedop

Met Marthie Maré

Onderhoudvoerder: Annemarie van der Walt

Plek: Stoep-restaurant, Sonpark

Datum en tyd: Woensdag 1 Julie om 10:00.

Prys: Gratis (bespreek by 013-741-2551, slegs 100 plekke beskikbaar).

Jy kyk elke dag in die spieël, maar weet jy ooit wat jou gesig vir jou wil sê? Marthie Maré is die enigste gesigsontleder, oftewel fisionoom in Suid-Afrika en skrywer van die boek, Die Legkaart van jou Gesig. Volgens haar vertel elke gesig ’n unieke storie en is dit moontlik om ’n persoonlikheidsprofiel van iemand saam te stel deur slegs die gelaatstrekke te bestudeer.

Fisionomie word reeds die afgelope paar jaar deur verskeie sakeondernemings gebruik as ’n riglyn om werknemers se volle potensiaal te ontsluit, maar enigeen kan dit daagliks aanwend as jy jou familie, vriende en kollegas beter wil verstaan. Of sommer net jouself, want deur bewus te word van sekere uitdagings – wat jou gelaatstrekke verklap – kan jy stappe neem om dit te oorkom.

En as jy al ooit Botox oorweeg het, dink weer – Dit kan dalk net jou persoonlikheid verander! Kom luister hoe Marthie die beginsels van fisionomie verhelder in ’n onderhoudende gesprek met Annemarie van der Walt.

Marthie doen gesigsontledings tydens die fees. Dit kos R452 vir ’n uur lange konsultasie en R227 vir ’n halfuur-konsultasie. Die datums en tye is Woensdag 1 Julie om 12:00, 14:00, 15:00 en 16:00; Donderdag 2 Julie om 10:00, 11:00, 12:00, 14:00, 15:00 en 16:00; Vrydag 3 Julie om 10:00, 11:00, 12:00, 14:00, 15:00 en 16:00.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

____________________

ATKV-Boekwinkel

Die ATKV-Boekwinkel is terug! Dit is op die feesterrein by hek 1 se ingang in Geelhoutlaan. Daar is ’n fees van boeke beskikbaar – van kinder- en resepteboeke tot bekroonde literatuur. Dit is dié eenstopwinkel vir boekliefhebbers van alle ouderdomme. Kom geniet ook ’n lekker koppie koffie op die stoep en kuier saam met skrywers en ander boekmense. “’n Goeie boek is die een wat met groot verwagting oopgemaak en met groot wins toegemaak word,” Amos Bronson Alcott.

____________________

Stories Innibos Boekbekendstelling

Stories Innibos is ’n gemeenskapsprojek deur kinders, vir kinders. Laerskole in die omgewing se leerders het deelgeneem aan hierdie projek en ’n storieboek is saamgestel waarin hierdie kinders se stories opgeneem is. Die illustrasies is ook deur kinders gedoen. Die stories is vertaal en verskyn in Afrikaans, Engels en Swati.

Die skrywer Carina Stander en haar seun Aden van Niekerk wat op sesjarige ouderdom die boek Wolkland geskryf het, is die gassprekers tydens hierdie glansryke geleentheid. Carina gaan vertel oor hoe ’n ouer kreatiewe kinders grootmaak. Sy gaan met Aden gesels oor sy boek terwyl hy ’n klei-demonstrasie lewer en verduidelik hoe hy die karakters in sy boek geskep het.

Die Mpumalanga Departement van Kuns en Kultuur en die Hiemstra Trust het hierdie projek befonds.

____________________

Innibos Boeke OppiSTOEP

Reg langs die Innibos-kantoor is Stoep-restaurant waar vanjaar se boekeprogram gaan plaasvind.

Stories Innibos boekbekendstelling

Met Carina Stander en haar seun Aden van Niekerk

Datum en tyd: Woensdag 2 Julie om 14:00

Venue: Stoep-restaurant

Tydsduur: 60 minute

Prys: Gratis.

____________________

Nico Moolman @ Boeke OppiSTOEP

Met Nico Moolman, Marius Bakkes en Naomi Moolman

Datum en tyd: Vrydag 4 Julie 10:00

Venue: Stoep-restaurant

Tydsduur: 55 minute

Prys: Gratis.

Nico Moolman is bekend vir sy pragtige koffietafel-publikasies. Hy kom stel sy nuwe boek Zij bekend, waarin hy hulde aan die Afrikanervrou bring.

Hy vertel hartroerende verhale van gister se onthou. Hierdie pragtige boeke is in die vorm van ’n plakboek, met baie geskiedkundige foto’s van mense, ou koerantvoorblaaie, uittreksels uit handgeskrewe briewe en ou dokumente. Dit word pragtig verpak in ’n stewige karton-dratassie.

Marius Bakkes, wat self baie lief vir geskiedenis is, is die gesprekleier. Hiermee saam, gaan Nico se vrou, Naomi haar unieke laslappiewerk uitstal. Moenie hierdie besonderse geleentheid misloop nie.

____________________

Koos Kombuis en Andries Bezuidenhout @ Boeke OppiSTOEP

Met Koos Kombuis, Andries Bezuidenhout en Annemarie van der Walt (gespreksleier)

Datum en tyd: Vrydag 4 Julie om 14:00

Venue: Stoep Restaurant

Tydsduur: 75 minute

Prys: Gratis.

Plaas twee bekendes bymekaar wat albei digters en rockers en boonop twee slimkoppe is, en die tafel is gedek vir ’n interessante en unieke boekgesprek.

Koos Kombuis is nie net ’n bekende musikant nie, maar ook ’n skrywer van formaat wat al vele publikasies die lig laat sien het. Andries Bezuidenhout is dosent in arbeidsosiologie aan die Universiteit van Pretoria, maar is ook bekend as rocksanger en visuele kunstenaar.

Andries Bezuidenhout is in die eerste helfte die gespreksleier en gaan met Koos ’n onderhoud voer oor sy veelbesproke nuwe boek I-Tjieng, ’n GPS vir Verdwaalde Siele. Dan gaan Annemarie van der Walt met Andries gesels oor sy nuwe digbundel Veelvuldige Gebruike vir Huishoudelike Toestelle. In hierdie bundel word twee werklikhede wat op die oog af nie raakpunte het nie, naas mekaar geplaas: die groter ruimte van die Suid-Afrikaanse stad en platteland en die intieme ruimte van die huis, veral die kombuis, gevul met verskillende toestelle.

Hierdie gesprekke beloof nie net interessant te wees nie, maar ook iets te gee om oor na te dink.

Irma Joubert en Wilna Adriaanse @ Boeke OppiSTOEP

Met Irma Joubert, Wilna Adriaanse en Andries Bezuidenhout (gespreksleier)

Datum en tyd: Saterdag 5 Julie om 10:00

Venue: Stoep-restaurant

Tydsduur: 75 minute

Prys: Gratis.

Andries Bezuidenhout gesels met twee van Suid-Afrika se gewildste skrywers, Irma Joubert (Tolbos) en Wilna Adriaanse (Dubbelspel) oor hulle jongste romans.

Wilna Adriaanse het om middernag op 31 Desember 1999 (in die Switserse Alpe) besluit om haar Nuwejaarsvoornemens te maak. Haar eerste boek, Die Wingerd Sal Weer Bot, word in 2000 deur Lapa Uitgewers gepubliseer. Haar bekendste boeke is Rebecca (2004), Met Ander Woorde (2006), Die Boek van Ester (2008), Vier Seisoene Kind (2010), en ’n Klein Lewe (2012). In 2011 verwerf sy haar meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van prof. Etienne van Heerden. Vir die kursus moes sy ’n roman skryf, wat in 2013 onder die titel ’n Klein Lewe, verskyn. Hiermee breek sy weg van haar ander skryfwerk en dit word as ’n soort outobiografiese vertelling beskou. Met haar nuutste boek, Dubbelspel, keer Wilna terug na die soort verhoudingsverhale waarvoor sy bekend geword het, selfs al het hierdie een ’n sterker spanningselement.

Irma Joubert het 35 jaar onderwys gegee voordat sy einde 2004 afgetree en begin skryf het. Tans skryf sy historiese romans, want geskiedenis is haar passie. Haar bekendste boeke is Verbode Drif, Ver Wink die Suiderkruis, Tussen Stasies en die trilogie Anderkant Pontenilo, Pérsomi en Kronkelpad. Sy het al vele toekennings vir haar skryfwerk ontvang.

Tolbos is Irma se derde boek in die trilogie wat bestaan uit Ver Wink die Suiderkruis, die eerste boek, en Tussen Stasies, die tweede boek. Sy skryf regte mense se stories. Sy fokus op die verhoudings tussen geliefdes, gesinslede, familie, vriende, vreemdes, asook die mens in sy verhouding met die gemeenskap, die natuur en die tyd waarin hy leef.

Met twee skrywers van hierdie kaliber, gaan dit beslis ’n interessante boekgesprek wees!

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version