Vermaak jou apies só by Innibos

Apies Innibos is die ideale plek waar die kleinspan gratis kan kom speel en hulle gate uit geniet.

Apies Innibos
‘n Propvol vermaakprogram met baie pretaktiwiteite word daagliks vanaf 11:00 tot 17:00 aangebied en dit is heeltemal verniet.

Pick-and-Paint Ceramic
Innibos verwelkom hierdie jaar vir die eerste keer Pick-and-Paint Ceramic waar die kinders hul kreatiwiteit kan beproef deur keramiekware te koop en te verf.
Dit werk so – jy koop jou keramiekstuk, enigiets van ’n klein vissie tot ‘n yslike beer by Pick-and-Paint Ceramic. Hulle verskaf die verf en die kwaste en die kleinspan kan na hartelus hul verbeelding vrye teuels gee en verf. ‘n Heerlike aktiwiteit wat dwarsdeur die dag aangebied word.
Daar is ook tafeltjies en stoeltjies waar jou kind kan inkleur en verf, knip en plak, kleispeel en blokkiesbou. En natuurlik ‘n springkasteel waar hulle van al hulle energie ontslae kan raak. Alles onder die waaksame oog van bekwame personeel.

Bester die Renoster en Jouberta die Seekoei
Bester die Renoster en Jouberta die Seekoei kom kuier al die pad vanaf Jeffreysbaai. Die gehoor sing en beweeg tog te lekker saam met die jongspan in dié interaktiewe, kindervriendelike vertoning vol pret en plesier. Die program bevat nuwe, oorspronklike Afrikaanse liedjies wat deur Jannie Venter, Pierre de Villiers en Carla Smit geskryf is.
Dit dek ‘n wye reeks temas, soos die natuur, diere, vrugte, see en vorms. Opvoedkundige pretpakke kan van die webtuiste www.besterklub.com afgelaai word. Moenie hierdie 2008 Sama-wenners se vertonings misloop nie.
Optreetye: Woensdag 1 Julie om 16:00; Donderdag 2 Julie om 13:00; Vrydag 3 Julie om 15:00; Saterdag 4 Julie om 13:00

Die Witjassies
Stel jou kleinding in Albert Einstein belang? Hierdie jaar kom kuier die twee Witjassie-muise, Molly en Marius, vir die eerste keer by Apies Innibos. Kom deel in hulle avonture en ontdek hoe lekker en opwindend die interessante wêreld van wetenskap is.
Ons leer van absorpsie en maak ‘n akwarium, digtheid word deur ‘n lawalampie geïllustreer; terwyl ‘n vulkaan se uitbarsting deur koolsuurgas veroorsaak word en ‘n vuurpyl lanseer as gevolg van die opbou van druk. Dit is van die interessante eksperimente wat ons gaan doen saam met die Witjassies. Hier kweek kinders ‘n liefde vir wetenskap, deur soos wafferse wetenskaplikes eksperimente in ‘n veilige omgewing en op ‘n prettige manier met regte apparaat uit te voer.
Optreetye: Woensdag 1 Julie om 17:00; Donderdag 2 Julie om 14:00; Vrydag 3 Julie om 13:00; Saterdag 4 Julie om 12:00,

Spotprente saam met Ghost
Die bekende Laeveldse spotprentkunstenaar, Ghost, gaan die kleinspan leer hoe om te teken. Hy gaan op ‘n vindingryke en maklike manier demonstreer dat teken eintlik kinderspeletjies is. Moenie hierdie geleentheid misloop nie, daar skuil dalk net ‘n Picasso of dalk ‘n Ghost in elk van die kleingoed.
Optreetye: Woensdag 1 Julie om 15:00; Donderdag 2 Julie om 15:00; Vrydag 3 Julie om 11:00; Saterdag 4 Julie om 17:00.

Kidazzle
Kidazzle is gereed om die kleinspan daagliks kreatief besig te hou met hope opwindende aktiwiteite. Hierdie jaar word dit deur Suzette van Zyl aangebied, wat materiaal en gereedskap aan die kinders voorsien om hulle kreatiwiteit te ondersoek, te ontwikkel en te geniet.
Hulle gaan ‘n masker vir Innibos se Fees met Hart maak, leer hoe om ‘n spinwiel en ‘n windklingel te maak. Hulle gaan pretskuim en allerhande goed gebruik om ‘n pennehouer mee op te tower. Die program is vol pret, dit ontwikkel denkprosesse en stel kinders bloot aan verskeie kuns- en handwerktipes. Daar gaan geen vervelige oomblik met hierdie interessante aktiwiteite wees nie.
Optreetye: Woensdag 1 Julie om 13:00; Donderdag 2 Julie om 12:00; Vrydag 3 Julie om 17:00; Saterdag 4 Julie om 15:00.

Storietyd met Tannie Irene
As jy van stories hou, is Tannie Irene se storietyd spesiaal vir jou. Sy vertel dit met soveel passie en oorgawe dat jy jou sommer baie vinnig binne-in die wêreld van dié karaktertjies sal bevind. Betowerende stories wat jou op ‘n verbeeldingsvlug sal wegvoer.
Optreetye: Woensdag 1 Julie om 14:00; Donderdag 2 Julie om 11:00; Vrydag 3 Julie om 16:00; Saterdag 4 Julie om 14:00.

Ronnie die Renoster
Hierdie is ‘n unieke produksie wat kinders op speelse wyse van natuurbewaring bewus maak. Op ‘n prettige manier kweek hulle by die kleinspan ‘n liefde vir die natuur. Ronnie die Renoster sing saam met Jess en Riki interaktiewe liedjies wat kinders leer oor natuurbewaring, goeie waardes en omgee vir mekaar. Kom ontmoet hierdie karaktertjie by Apies Innibos en sing en speel saam met dié vriendelike renostertjie en sy aapmaatjies.
Optreetye: Woensdag 1 Julie om 11:00; Donderdag 2 Julie om 17:00; Vrydag 3 Julie om 14:00; Saterdag 4 Julie om 16:00.

David Dee se betowering
Oudergewoonte is David Dee weer hier in sy verskillende gedaantes om vir vermaak uit die boonste rakke te sorg. In sy Komedie Kulkuns-vertoning gaan hy met ballonne en kullery skreeusnaakse verrassings deel. In Superhero gaan Spiderman, Rangers en Batman ook ‘n draai kom maak. In syLawwe Professor-vertoning verduidelik hy die geheime van wetenskap op so ‘n manier dat die jongspan dit verstaan en baie geniet. Eksperimente vorm deel daarvan. In sy mengelmoes-vertoning het hy die snaaksste van al sy kulkuns saamgevat in een wat jou asem gaan wegslaan.
Optreetye: Woensdag 1 Julie om 12:00; Donderdag 2 Julie om 16:00; Vrydag 3 Julie om 12:00; Saterdag 4 Julie om 11:00.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version