Lokprent: Animasie gee nuwe kleur aan poësie tydens Innibos 2015

Diek Grobler se Filmverse gee nuwe lewe aan Afrikaanse poësie en vertoon diversiteit van animasie as medium.

As jy van mening was dat animasie blote kindervermaak is, dink weer! Dié kunsvorm se diversiteit word vanjaar by Innibos met ‘n spesiale uitstalling weerspieël, waar Afrikaanse poësie deur verskeie kunstenaars uitgebeeld word.


Dié digkuns-animasieprojek, Filmverse, is deur die ATKV in samewerking met Fopspeen Moving Pictures aangepak. Dit beeld 12 Afrikaanse gedigte uit en sluit klassieke sowel as kontemporêre digters in. Dit was egter Diek Grobler, artistieke regisseur van die projek en een van die kreatiewe kragte agter Fopspeen, se jarelange droom om ‘n forum vir animasiekunstenaars te skep om prente te maak waarin die fokus op dié kunsvorm val, en om Afrikaanse poësie letterlik sigbaar te maak. Die eindproduk: ‘n Visuele bloemlesing waarin ‘n dialoog tussen woord en beeld geskep word.

 

Lokprent

 

https://youtu.be/-tBYOO2JZNA


Laevelders onthou Diek as 2012 se feeskunstenaar, en natuurlik sy spesiale feeskat wat daardie jaar op Innibos-plakkate en in reklame gebruik is om by die tema, “Die kat kom weer”, vir die fees se negende bestaansjaar aan te sluit. Hy is ook vir talle kinderboekillustrasies bekend.

 

 

 


Wat animasie so spesiaal vir dié kunstenaar maak, is die samevoeging van al die kunste om uiteindelik iets te maak wat ‘n mens roer en vermaak. “Visuele kuns, film, literatuur, drama, stemwerk en musiek word alles bymekaargesit.”


Grobler voel hulle het in dié projek se doel geslaag om die diversiteit van die medium uit te wys, terwyl die ATKV se Nita Cronjé uitlig dat die oogmerk juis is om leerders ‘n nuttige hulpmiddel in die hand te gee om Afrikaanse gedigte ontsluit te kry en dieselfde tyd onderwysers se onderrigtaak te vergemaklik. Cronjé is die uitvoerende vervaardiger van die projek en die ATKV se bestuurder van feeste en produksies.


Vir elk van die gedigte is ‘n animasiekunstenaar/s aangewys nadat Grobler onder meer op sosiale media kunstenaars genooi het om betrokke te raak. “Ons dek werklik ‘n wye spektrum van metodes – daar is sandanimasie waar die prente fisies met sand geteken word, handgetekende animasie, poppe-animasie en dan ook dié wat met die rekenaar geskep is. Maar dit is animasie as kunsvorm, en niks wat na Shrek of Maya die By lyk nie,” verduidelik Grobler.

 

Die plakkaat wat Diek Grobler se uitbeelding van Breyten Breytenbach se, Ek sal Sterf en na My Vader Gaan vergesel.
Die plakkaat wat animeerders Naomi van Niekerk en Arnaud van Vliet se uitbeelding van ”n Gewone blou Maandagoggend’ deur Ronelda Kamfer vergesel.

 


Filmverse se gedigte en animeerders
• Vroegherfs (N.P. van Wyk Louw) deur Wessel en Jac Hamman
• Bitterbessie Dagbreek (Ingrid Jonker) deur Roger en Dewald van der Merwe
• Finis (Lina Spies) deur Michele Nigrini
• Jy Vra My Hoe My Eerste Soen Was (Danie Marais) deur Katty Vandenberghe, Anni Snyman en Eugenie Grobler
• Belydenis van ‘n Studentedigter (Loftus Marais) deur Rudolph Boonzaaier
• Visioen van ‘n Lessenaar (Antjie Krog) deur Sunieda Kelber en Fabian Wargau
• Die Skedel Lag Al Huil die Gesig (Wilma Stockenström) deur Crowther Lindeque
• What abou’ de lô (Adam Small) deur Charles Badenhorst
• Last Grave at Dimbaza (Fanie Olivier) deur Stefanie de Beer
• ‘n Gewone blou Maandagoggend (Ronelda Kamfer) deur Naomi van Niekerk en Arnaud van Vliet
• Timotei Sjampoo (Gert Vlok Nel) deur Janhendrik Burger en Berdene du Toit
• Ek sal Sterf en na My Vader Gaan (Breyten Breytenbach) deur Diek Grobler


Die films is almal kort met ‘n eie klankbaan waarop die gedig onder andere voorgelees word, so lank soos wat die voorlesing duur. Die DVD-vertoning van sowat 30 minute word deur ‘n uitstalling van plakkate van elk van die 12 films vergesel.
Die projek is verlede jaar by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom bekendgestel en was te siene by die US Woordfees en die Absa KKNK en het dan ook ‘n Fiësta- sowel as ‘n Woordtrofee-nominasie gekry.


Grobler meen Innibos is ‘n prettige fees en is bly dat die projek ook hier sal wees. “Dit is ‘n baie belangrike projek vir Afrikaans, ek dink Innibos is ‘n belangrike fees vir Afrikaans.”

Diek Grobler.


Die animasiefilms word elke dag van 10:00 tot 18:00 in die personeelkamer (agter KMIA-verhoog) op die Innibos-feesterrein by Hoërskool Bergvlam vertoon van 1-4 Julie 2015. Toegang is gratis, maar DVD’s kan teen R100 elk by die venue gekoop word.

Meer oor Innibos hier: lowvelder.co.za/innibos

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version